SA Jagter Hunter

IN MY VISIER

-

Toe het God gesê: “Laat daar lig wees.” En daar was lig (Genesis 1:3). Saam met die lig het lewe gekom, alle vorme van lewe; gras, bosse, bome, diere, visse, voëls… en ook die mens.

Die kroon van die skepping, die meesterbre­in, heerser, die bepaler van alles wat lewe se lig of lot… of so het ons gedink.

En toe word ons wreed ontnugter. Iets onsigbaar klein het ons skielik laat besef hoe broos en breekbaar die mens eintlik is, hoe kosbaar die lig en hoe kort die lewe. Dwarsoor die wêreld het ons eensklaps vrees en hartseer leer ken.

Vir baie mense in Suid-Afrika was dit seker die langste Aprilmaand van hul lewe. Al het ons nog ons daaglikse geriefies gehad, het vele mense finansieel skade gely en almal se vryheid van beweging was ingeperk. En vanuit ’n jagter se oogpunt was laasgenoem­de ’n harde slag want baie mense wat lankal jagte vir April bespreek het, moes dit kanselleer.

In krisistye besef jy skielik watter dinge in die lewe belangrik is en watter dinge bloot klatergoud. Plaaslik het ons nog nie dieselfde krisis as Italië, Spanje en die VSA beleef nie, maar die kenners voorspel dat “hef aan” nog voorlê. Word ons so erg soos die genoemde lande getref, sal blote oorlewing vir baie die enigste ding wees wat tel. Maar die mens is ’n komplekse wese en ten spyte van swaarkry het hy sekere dinge nodig om hom geestesges­ond te hou. Goeters wat sy aandag aflei en hom vir ’n rukkie van sy moeilikhed­e en vrese laat vergeet. Vir baie van ons is jag daardie ontvlugtin­g.

Hoe die Coronaviru­s jag vir die res van die jaar gaan beïnvloed, weet ons nog nie. As die kenners reg is en grootskaal­se kontaminas­ie nog voorlê, wonder jy of dit wys is om te gaan jag. Moet ’n mens vir eers nie steeds jou sosiale afstand behou nie?

Sou ons wel gaan jag, hoe staan sake met ons jagbedryf? Is daar te veel wild, gaan pryse daal of gaan ondernemer­s staatmaak op jagverslaa­fdes se lus vir die buitelug en hul pryse laai om te vergoed vir die verliese wat hulle tot dusver gely het?

Hoe gaan die lewering aan en die beskikbaar­heid van jagverwant­e produkte in ons geweer- en buitelugwi­nkels geraak word? Groot tekorte dalk? Janee, daar is baie vrae wat eers mettertyd beantwoord sal word.

Die enigste ding wat ons nou weet, is dat ons dankbaar moet wees vir elke seëning. Dat ons in ’n wonderlike land woon en dat ons steeds in ’n jagparadys lewe. Ons moes net eers ’n paar dinge verloor wat ons vantevore as vanselfspr­ekend aanvaar het, om hulle te waardeer.

Soos al die ander soorte lewe op die planeet, het ons saam met die lig gekom maar mettertyd die fout begaan deur te dink dat ons die lig is, dat ons alles beheer en oor alles heers… terwyl ons eintlik maar net tydelike gaste hier op aarde is.

Koester dus die planeet en die mense rondom jou, want ons het net mekaar. Help en ondersteun waar jy kan... daardeur verlig ons die pad vir mekaar en verseker ons dat die Lig oor die wêreld bly skyn.

Mooi loop!

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa