DIE .270 WIN: VUISVOOS VETERAAN OF FLINKE VOETSOLDAAT?
KOOS BARNARD
Die .270 Win is in 1925 deur Winchester bekendgestel en het nou wel nie enige militêre agtergrond soos die befaamde .30-06 Springfield nie, maar in die jagveld gedra hierdie veteraan hom soos ’n ware voetsoldaat – hy bly getrou die harde werk doen.
Ek het vir baie jare geen ooghare vir die .270 Win gehad nie, want my eerste skoot met een op wild was ’n misskoot en ek het summier die kaliber geblameer in plaas van die sot wat die sneller getrek het. Ek besit egter al vir meer as twee jaar ’n Blaser in .270 Win en geniet die kaliber terdeë.
VEELSYDIGE KALIBER
Dis ’n standaard-kaliber wat hom amper soos ’n magnum gedra. Die .270 Win is vir baie jare al een van die gewildste jagkalibers wêreldwyd en was eens gereken as een van die beste langafstandkalibers vir klein- en mediumgrootte wild. In SuidAfrika is dit veral vlaktejagters wat oor die jare heen sy lof besing het. Dis ’n redelik veelsydige kaliber waarvoor daar koeëls van 90gr tot 180gr beskikbaar is. Wat koeëlgewig betref, is die .30-kalibers natuurlik meer veelsydig, maar volgens my mening het jy nie meer as twee koeëlgewigte per kaliber nodig nie. Dis net die Amerikaners wat dink jy benodig vir elke boksoort en bokgrootte ’n ander koeëlgewig.
Die .270 Win is niks anders as ’n .30-06 Springfield-dop wat afgenek is om ’n .277”-kaliber koeël te neem nie – die enigste verskil is dat die .270-dop ’n fraksie langer is. Maar hoekom dan iets soos die .30-06 neem en daaraan torring?
LIGTER, VINNIGER, MINDER SKOP
Winchester se doel met die .270 was om ’n effens kleiner kaliber te ontwikkel wat ligter koeëls (130-greiners) teen 3 000vps kon lanseer vir ’n platter trajek as wat met die .30-06 se 180grkoeël die geval is. Die .30-06 skop ook ’n bietjie meer as wat baie skuts gemaklik mee is. Neem byvoorbeeld gewere wat 8lb weeg (3.6kg): ’n .270 Win met 130gr-koeëls teen 3 100vps raps jou met 15.77vt/lb teen die skouer en ’n .30-06 wat 180grkoeëls teen 2 700vps skiet, se terugskop-energie is 22.51vt/lb.
Verder het die Amerikaners ook besef dat jy glad nie ’n 180gr-koeël teen 2 700vps nodig het om Amerikaanse wild soos die pronghorn (gaffelbok), whitetail deer, mule deer en selfs elk, swartbere, kariboes en bergskape om te kap nie. Die platter trajek van die .270 Win se 130gr-koeël het ook handig te pas gekom met langer skote want afstandmeters was nog nie in gebruik nie. Nosler Ballistic Tip-koeëls het toe nog nie be- »
» staan nie, maar ek gebruik hulle ter illustrasie hier. Lanseer ’n 130gr Ballistic Tip uit die .270 Win teen 3 060vps en die koeël tref 20.3cm laag op 300m met ’n 200m-zero. ’n Ballistic Tip van 180gr teen 2 700vps uit ’n .30-06 val 26.2cm op 300m as dit op 200m in die kol skiet.
Winchester het destyds die .270 bekendgestel in hul Model 54-slotaksiegeweer en aanspraak daarop gemaak dat dié kaliber 130gr-koeëls teen 3 160vps kan lanseer uit 24”-lope (die snelheid is later aangepas na 3 060vps toe). Daardie snelheid het die .270 Win in die destydse magnumklas geplaas, maar dit het aanvanklik nie veel aandag getrek nie want die .30-06 was te goed gevestig.
Toe begin Jack O’Connor, wat by uitstek ’n bergskaapjagter was, om die .270 se lof te besing. Die plat trajek was handig vir lang skote op bergskape en die minder terugskop het beteken gewere kon ligter gemaak word vir maklik dra in moeilike terrein. O’Connor was ’n goeie skrywer en sy artikels het die verbeelding aangegryp. Hy was seker manalleen verantwoordelik vir die .270 Win se sterstatus in Amerika. Dit was moontlik ook sy debatte met ander skrywers soos Elmer Keith, wat swaarder kalibers voorgestaan het, wat die groot debat oor die effektiwiteit van ligte, vinnige koeëls teenoor stadiger, swaarder koeëls begin het.
Alhoewel O’Connor die .270 Win opgehemel het, het hy tog eenmaal erken dat, as hy toegelaat sou word om slegs een geweer te mag besit, hy een in .30-06 sou kies.
VEELDOELIGE PLATSKIETERS?
As gevolg van O’Conner se artikels het baie mense wêreldwyd begin glo dat die .270 Win al kaliber is wat jy ooit nodig sal hê vir alle vlakte- en bergwild. Daar is egter ook baie wat vas bly glo dat dit altyd ondergeskik sal wees aan die .30-06 wanneer groter wildsbokke op die spyskaart is. Die algemene opvatting is dat die .270 ’n platskiet-vlaktekaliber is vir klein en mediumgrootte bokke en die .30-06 ’n sogenaamde all-rounder vir alles van duiker tot eland.
Die opvatting dat hierdie twee kalibers verskillende aanwendingsrolle het, het ontstaan omdat die meeste mense die .270 se 130gr-koeël teen 3 000vps+ vergelyk met die 180gr-koeël van die .30-06 teen 2 700vps. Dit is die tradisionele koeëlgewigte waarmee hierdie twee kalibers vandag nog gelaai word. Dis ook belangrik om te onthou dat die hoeveelheid mense wat winkelammunisie koop, veel meer is as dié wat self laai.
Jagters het dus van die begin af nooit die twee kalibers se vermoëns met dieselfde koeëlgewigte teen mekaar opgeweeg nie, of soos ons sê, appels met appels vergelyk nie. Vandag weet ons, as jy die .30-06 ook met 130- of 140gr-koeëls tot volle potensiaal laai, dit ’n platter trajek as die .270 sal hê. Ook dat die verskil in seksionele digtheid (SD) van ’n 130gr-koeël in .270-kaliber en een van dieselfde gewig in .308-kaliber nie groot genoeg is om laasgenoemde werklik swakker te laat presteer op wild as die .270-koeël nie. (Volgens die slim manne behoort die .270-koeël ’n bietjie beter te penetreer as gevolg van sy beter seksionele digtheid.) Laai byvoorbeeld beide kalibers met ’n 130gr Barnes TTSX teen 3 000vps en jy kan met die grootste gerustheid groot wildsbokke soos koedoes en gemsbokke aandurf.
Die feit dat jy meestal nie ’n .30-06 met 180-greiners nodig het vir algemene jag nie, asook die plat trajek en minder terugskop van die .270 Win, het vir genoeg mense genoeg getel om dié .277”-kaliber se gewildheid te verseker.
VLEISSKADE BEPERK
Weens die hoë koeëlsnelheid en die standaard-tipe loodkernkoeëls (van destyds) wat maklik omgeklink en selfs heeltemal opgebreek het, het die .270 Win vroeg reeds bekend geraak as ’n “maalvleismaker”. Baie mense wil graag glo (selfs vandag) dat hulle hul bokke op langafstand skiet maar die feit is dat die meeste bokke op afstande onder 250m geskiet word en op daardie afstand veroorsaak vinnige kalibers groot vleisskade.
Vergelyk jy die vleisskade wat ’n .270 met 130gr-koeëls veroorsaak, teen die skade wat ’n stadiger 180gr-koeël uit die .30-06 maak, sal laasgenoemde altyd minder “maalvleis” maak. Gebruik jy egter die .30-06 met ligter koeëls teen .270 Win-snelhede, ontaard dit ook in ’n maalvleismaker – vra my, ek gebruik beide kalibers.
Alhoewel die .270 Win met 130gr-koeëls baie effektief op meduimgrootte wild is (dit word steeds in sommige kringe beskou as die klassieke springbok- en blesbokkaliber) is dit ook uiters effektief op groter wildsbokke as swaarder koeëls gebruik word. ’n Premiumkoeël van 150gr teen 2 850vps se trajek is amper net so plat as ’n 130gr s’n teen 3 060vps maar op 300m het dit meer slaankrag en penetrasievermoë as die ligter koeël. Daar is baie .270-eienaars wat slegs 150gr-koeëls in hul gewere gebruik. Jag jy in die bos, is daar Nosler se 160gr Partition-koeël vir die .270. Teen 2 450 tot 2 550vps is hierdie koeël mans genoeg vir enigiets tot en met elande en vleisskade is veel minder as met ligte, vinnige koeëls. Volgens Nosler se Reloading Guide Nr 7 kan die 160gr Partition tot 2 800vps gelaai word.
Woodleigh maak selfs ’ n 180gr-koeël in .277”-kaliber vir diegene wat dink dat ’n 160gr Partition nie genoeg is nie. Ongelukkig het die Corona-inperking verhoed dat ek dit in my geweer kon gaan toets.
ONGEGRONDE KRITIEK?
Wanneer jy die .270 Win met die .30-06 vergelyk, is eersgenoemde se nadeel dat jy nie soos met die .30-06, 200- en 220gr-koeëls kan gebruik nie. En as daar nou een koeël is in die .30-06 wat homself bewys het in die bos, is dit die 220-greiner. Die vraag is egter hoeveel keer jy werklik so ’n swaar koeël nodig het vir algemene wild. My ondervinding is dat ’n 180gr-koeël uit ’n .30-06 goed genoeg is vir alle wild tot en met eland en gebruik jy ’n .270 met Nosler se 160gr Partitions, kry jy maar baie dieselfde resultaat.
In ’n onlangse penetrasietoets in nat tydskrifte het ’n 160gr Partition uit my .270-geweer net so goed gevaar as ’n 180gr Oryxkoeël uit my .30-06.
Die .270 Win word deesdae baie gekritiseer en ek het ’n punt daarvan gemaak om mense te vra waarom die fel kritiek. Niemand kon vir my ’n bevredigende antwoord gee nie. Een of twee het genoem dat die .270 wispelturig is ten opsigte van akkuraatheid, ook as jy vir dié kaliber herlaai. Ek het egter al dieselfde met my .30-06 ervaar waarvan ek al drie lope klaar geskiet het. Terloops, ek ken iemand wat nou onlangs sy .30-06 se loop om ’n paal wou buig oor akkuraatheidsprobleme.
Sommiges kritiseer ook die .270 se ou dop-ontwerp en vergelyk dit dan met die 6.5 Creedmoor en ander moderne kalibers met kort, vet doppe. Daardie dop-ontwerpe is glo so efficient dat jy alles verder en raker en “doodter” skiet as dood. Die “maalvleis”-ding oor die .270 word ook nog opgehaal. Maar watter invloed het al hierdie papiervoordele van die moderne kalibers in die jagveld? Net mooi niks! Jy gebruik dalk effens minder kruit in sommige moderne kalibers (6.5 en 7mm) om dieselfde resultaat te kry, hulle terugskop (net sekeres) is ’n katspoegie minder en windskuif is ook ’n rapsie minder. Dis egter net op baie lang afstande ’n moontlike faktor en die min
der kruit wat jy gebruik is só min dat jy dit skaars aan jou sak gaan agterkom.
HERLAAI VAN AMMUNISIE
Oor die .270 se nukke as jy herlaai, kan ek nie kla nie. Ek het net ondervinding met my Blaser en met hom het ek tot nog toe geen probleme ondervind nie. Dié geweer groepeer goed met omtrent alles wat ek al deur hom geskiet het, van 110gr tot 160gr en dít met byna geen ladingontwikkeling nie. Dalk is ander gewere anders as ’n Blaser.
Herlaaikomponente vir die .270 Win asook fabrieksammunisie, is geredelik beskikbaar in Suid-Afrika en die verskeidenheid is goed. Met geskikte Somchem-dryfmiddels tans onverkrygbaar, word plaaslike herlaaiers gedwing om oorsese dryfmiddels te gebruik en daar is verskeie wat uitstekend werk – IMR 4350, Hodgdon 4350, RL22, Norma 204 en MRP, asook verskeie Vihtavuori-dryfmiddels.
Ek het reeds vroeër na die .270 Win se effektiwiteit verwys maar kom ons vergelyk sy ballistiek op papier met dié van die .30-06 Springfield. Ballistiese toepassings wat trajekte en windskuif voorspel is deesdae baie akkuraat en vele topskuts gebruik dit. Ek het Federal s’n geraadpleeg en my gevolgtrekking was dat die .270 sy man baie goed staan as afstande gerek word en dieselfde koeëlgewigte met mekaar vergelyk word.
Onthou, dis net logies dat die ligte 130gr-koeël uit ’n .270 Win nie kan kers vashou by die slaankrag van ’n 150-, 165- en 180gr-koeël uit die .30-06 tot op 300m nie. Maar kom ons vergelyk ’n bietjie twee 130gr Barnes TTSX-koeëls in beide kalibers.
SLAANKRAG EN WINDSKUIF
Volgens Barnes se herlaaiboek kan jy die 130gr TTSX teen 3 308vps uit ’n .30-06 lanseer en teen 3 173vps uit die .270 Win. Die .308”-koeël se BC is .350 en die .277” s’n .392. Met albei kalibers op 200m ingestel, val die .30-06 se koeël 18.4cm op 300m en die .270 s’n 19.4cm maar met ’n 18km/h-dwarswind is die windskuif vir die .277”-koeël 1.9cm minder. Op daardie afstand tref die .30-06 se koeël met 1 696vt/lb-energie en die .270 se koeël met 1 661vt/lb.
Op 500m lyk dinge egter anders. Die .30-06 se koeël val 3.6 sentimeter minder, maar in ’n dwarswind van 18km/h skuif sy koeël 6.1cm meer. Die koeëlsnelheid vir die .30-06 is nou 1 922vps en die energie 1 066vt/lb teenoor die .270 se koeëlsnelheid van 1 948vps en 1 098vt/lb. Dit is te danke aan die .277”-koeël se beter BC.
Lanseer jy ’n 150gr Ballistic Tip (BC .435) uit die .30-06 teen 2 970vps (fabriekspesifikasie) en stel dit in op 200m, val die koeël 21.9cm op 300m en skuif ’n 18km/h-wind dit 22.4cm. Dit tref met 1 754vt/lb. Vir die .270 Win is die fabriekspesifikasie 2 850vps vir 150gr-koeëls. Lanseer ’n Ballistic Tip (BC .496) teen daardie snelheid en stel dit in op 200m, dan tref die koeël 23.1cm laag op 300m, windskuif is 20.6cm en dit tref met 1 715vt/ lb. Maar kyk wat gebeur op 500m. Die .30-06 se koeël val 130cm, windskuif is 68cm, die koeëlsnelheid is 1 899vps en die energie 1 201vt/lb. Vir die .270 is die koeëlval 4cm meer maar die windskuif 61.6cm (6.4cm minder). Koeëlsnelheid is 1 922vps en die energie 1 230vt/lb.
Op 500m het die .270 Win dus meer slaankrag en minder windskuif as die .30-06 en die verskille in trajek is basies weglaatbaar klein. Mense wat langafstandjag doen, gebruik af
standmeters, so die effense platter trajek van die .30-06 tel nie regtig nie. (Let wel, ons moedig glad nie mense aan om op afstande verder as 300m na wild te skiet nie, ek het bogenoemde bloot ter illustrasie gebruik.)
Ek probeer glad nie met bogenoemde statistiek bewys dat die .270 Win beter as die .30-06 is nie. Laasgenoemde kaliber lanseer koeëls van dieselfde gewig vinniger as die .270 en sal altyd oor normale jagafstande (tot 300m) meer slaankrag hê as die .270 Win. Die feit is net dat jy nie altyd daardie ekstra slaankrag nodig het nie want die .270 Win is meer as dodelik genoeg vir die meeste tipes wild wat ons plaaslik jag.
SLOTSOM: MY ERVARING
Oor die afgelope twee en ’n half jaar het ek koedoes, blouwildebeeste, blesbokke, rooibokke, vlakvarke en springbokke met 150gr-koeëls uit my .270, .30-06 en .308 geskiet en ek kon nie enige verskil in effektiwiteit tussen dié drie kalibers merk nie. Let wel, skietafstande het nooit 230m oorskry nie.
Soos genoem, is my .270 Win ’n Blaser. Dis ’n kort, ligte en handige geweertjie wat uitstekend in die bos hanteer en daarom gebruik ek dit ook gereeld met 160gr Nosler Partitions en hulle is dodelik. Vir langer afstande het ek aanvanklik 130gr Sierras gebruik maar later oorgeslaan na die 140-greiners toe want hulle is akkurater uit die Blaser. My geweer is ook akkurater by laer snelhede en daarom jaag ek nie 3 000vps met hom nie.
Alhoewel ek jare lank ’n .243 Win gebruik het vir springbokke, vind ek die .270 Win werk beter ten opsigte van windskuif, selfs al skiet ek sy koeëls teen matige snelhede. Vir my is die .270 ’n veel beter opsie as die .243 of selfs die .25-06, vir mediumgrootte wild.
Om af te sluit: Die .270 Win was nooit bedoel om die .30-06 te vervang nie. Ek dink dit was bedoel om die .30-06 aan te vul as jy mediumgrootte wild oor langer afstande wou skiet in ’n tyd toe afstandmeters nog nie beskikbaar was nie of as die terugskop van die .30-06 ’n bietjie te veel na jou smaak was. Of vir diegene wat besef het dat die .270 Win kragtig genoeg is vir al die tipes wild wat hulle ooit gaan jag. Dis ’n uitstekende kaliber vir klein en mediumgrootte vlaktewild en staan vandag nog steeds sy man ten spyte van die ontwikkeling van nuwer, sogenaamde “beter” kalibers.
Ek geniet my .270 geweldig baie en sou ons toegelaat word om net een geweer te mag besit, sal dit beslis my Blaser in Jack O’Connor se kaliber wees. Dié veteraan wat vanjaar vyf-ennegentig jaar “jonk” is, is nog lank nie vuisvoos nie.