OOS-AFRIKA: TOEKA SE TYD
MARIE STEYNBERG
Ek is gebore en het grootgeword in Kenia in die 1940’s. Ons het destyds in die Eldoret-distrik geboer met beeste en gemengde gesaaides. Vandag dink ek met heimwee terug aan daardie lieflike, vrugbare land en die ongekunstelde lewe wat ons toe gehad het. Daar was altyd ’n oorvloed van lewensmiddele en ons het selfonderhoudend geleef en gewerk. Die lug was suiwer, water was onbesoedeld en volop, die grond was vrugbaar en onbesmet.
Na die beëindiging van die Vryheidsoorlog teen Britse imperialisme, het baie mense geen werk gehad nie en het gevolglik verarm. Brittanje, wat sy mag in
Oos-Afrika wou uitbrei, het mense toe genooi om hulle in Kenia te kom vestig en die land te ontwikkel. Baie het dié kans aangegryp. Die meeste mense het per boot gereis en by die hawedorp Mombasa geland. Een so ’n groep mense was die Van Rensburg-trek. My ouma, wat ’n oorlogsweduwee was, en haar twee dogtertjies, was deel van hierdie geselskap.
Vanaf Mombasa is die nuwe immigrante per trein na die binneland vervoer en op ’n stasie, Londiani, wat op die ewenaar geleë was, afgelaai. Hiervandaan het hulle met ossewaens na die hooglande vertrek. Die regering het klein stukkies grond opgedeel en teen billike
pryse beskikbaar gestel vir ontwikkeling. My ouma het so ’n stukkie grond gekoop en daarop geboer. Sy moes self hand aan die ploeg slaan, plant en ander plaaswerk doen en het so haar bestaan gevoer en die grondjie ontwikkel.
Die pioniers het huisies van wattelhout en klei opgerig. Voorrade en boumateriale was baie skaars en moes van Londiani met ossewaens aangery word. Met tyd het ’n dorpie, genaamd Sixty Four in die hooglande ontstaan – die naam is later verander na Eldoret.
Daar was nie inboorlinge wat as arbeiders opgelei kon word nie. Die plaaslike, inheemse bevolking, die Kikuyu’s, het in die Skeurvallei gewoon waar hulle met vee geboer het. Hierdie mense was nie landbouers nie en handearbeid was dus onbekend aan hulle.
WILD IN OORVLOED
Die grasvelde het gewemel van wild. Groot troppe hartbeeste (kongoni), sebras en gaselle het groot probleme vir die boere veroorsaak. Snags het hulle heinings platgetrap en in die landerye ingevaar. Olifante het sitrusbome en jong koffiebome uitgepluk en leeus het jaggemaak op die vee. My pa, toe hy ’n seuntjie van twaalf was, is eendag uitgestuur met ’n Martini
Henry-geweer en twee patrone om ’n leeu te gaan soek en te skiet, wat hy wel gedoen het!
Om hulle gesaaides te beskerm, moes die boere die wild uitdun. Selfs die vrouens is opgelei in die hantering van vuurwapens (veral gewere) en baie van hulle was self jagters. Die Lee-Metford was die geweer wat algemeen gebruik was. Daar was selfs Bisley-skietkompetisies. Ek onthou Poppie Jordaan was ’n kranige skut en sy en haar man het menige trofeë tydens hierdie skietkompetisies verower. Almal moes saamwerk om hul plase te bewerk en te beskerm.
Grootskaalse slagting van wild het plaasgevind. Olifantkoeie is geskiet en die kalfies is soms hans grootgemaak. Een so ’n olifantkalfie se naam was Sergoit. Hy het later in die Londense dieretuin beland en Helena Steyn, wat hom grootgemaak het, het met haar wittebrood dié dieretuin besoek om hom te besoek. Sergoit het haar herken en dit was vir haar ’n baie emosionele herontmoeting.
Duisende buffels is doodgemaak om plek te maak vir veeboerdery. Siektes soos nqami, wat deur tsetsevlieë oorgedra is, runderpes, Ooskus- en Corridorsiekte is deur buffels oorgedra. ’n Bufferstrook is geskep om die veeboerdery te beskerm. Jagters is deur die regering gesubsi- »
» te jag – dit was soms hulle enigste inkomste. Wildsvleis is tydens die Tweede Wêreldoorlog aan die troepe verskaf wat die grense bewaak het. So is die weg gebaan vir trofeejag en die dekades na die oorlog was gekenmerk deur grootskaalse trofeejag. Baie ivoor en pelse is uitgevoer, veral na lande soos Indië, China en ander Oosterse lande. Dit het ’n florerende bedryf geword, ongelukkig tot nadeel van die natuurlewe.
OPSTAND TEEN KOLONIALISME
Die vroeë 1950’s was onstuimig en groot onsekerheid het ontstaan oor grondonteiening en die politieke toekoms van die land. Dit was die begin van die onafhanklikheidsbeweging en ook die Mau Mau-beweging. Jomo Kenyatta, wat later president van Kenia geword het, was een van die leiers. Die Mau Mau, wat hoofsaaklik uit mense van die Kikuyustam bestaan het, het ’n skrikbewind gevoer in hul stryd om van die Britse oorheersing (en die blanke koloniste) ontslae te raak en gevolglik is duisende mense vermoor. Die plaasboere was een van hulle teikens – plaashuise is afgebrand, plaaswerkers vermoor en vee is op die wreedaardigste wyse vermink en doodgekap.
Die Britse regering het soldate uit Engeland ontbied om die mense te beskerm. Hulle is op plase gestasioneer en moes help met landelike beveiliging. Plaaswonings was met hoë draadheinings toegekamp en aandklokreëls is ingestel.
Ek het in ’n privaatskool by Thomson’s Falls skoolgegaan. Dit was in die bosagtige Aberdare-distrik geleë en dis waar die Mau Mau geopereer het. Die skool is ook met hoë doringdraad omhein en is dag en nag deur “askaris” (soldate) bewaak. Bedags het onderwysers met wapens klas toe gegaan. Selfs gedurende aandete het hulle wapens gedra. Die koshuisgronde is snags gepatrolleer en noodveiligheidsopleiding is toegepas om skoliere vinnig na veilige skuilings te kan ontruim waar hulle vir lang tye in doodse stilte moes sit. Hierdie noodtoestand het drie jaar geduur. Dit was ’n vreesaanjaende tyd waartydens almal op hulle hoede moes wees vir enige verdagte persoon en vir tekens wat die Mau Mau geplant het.
VERWOESTING NA SKRIKBEWIND
Teen die 1960’s het daar maar min oorgebly van al die groot getalle wild. Dit het noodsaaklik geword om die natuurlewe te beskerm en wildreservate soos Amboseli, Tsavo en Masai Mara en andere is geskep. Vandag is daar gelukkig weer groot troppe wildebeeste en sebras in Masai Mara en op die Serengetivlakte te sien. Kleiner wildsoorte soos die oribi, bosbokke, rietbokke en duikers wat deur bewaringsboere beskerm was, is ongelukkig grootliks uitgewis. Na Kenia se onafhanklikheid is die plase wat onteien is, uiteindelik opgedeel in kleinhoewes en van die wild het niks oorgebly nie.
Dit is vir my die treurige nalatenskap van ’n eens ryk en oorvloedige paradys. Van die Britse imperialisme wat die sogenaamde beskawing na Oos-Afrika moes bring, is daar weinig oor.
Die huidige Keniaanse regering werk hard om die natuurlewe te bewaar, want dit is ’n groot toeriste-aantreklikheid. Daar is egter groot uitdagings met die bevolking wat meer grond eis. Groot dele van die land ly onder swaar droogtes en die grond is oorbenut en oorbewei. Wildstropery is ’n groot kopseer vir die Keniaanse regering en daar is nie genoeg befondsing vir bewaringsprojekte nie. Dit is ’n eindelose stryd, net soos in Suid-Afrika.
Op die keper beskou, kan gevra word of die Britse kolonialisasie enigsins voordeel ingehou het vir die mens en die natuur in Oos-Afrika.