COVID-19 SE PYNE BLY PLA
KOOS BARNARD
In die Mei-uitgawe het Johan van Wyk reeds die probleme uitgespel wat die Coronavirus vir die jagbedryf in suidelike Afrika inhou. Ons gee nou meer inligting maar hou in gedagte dat hierdie berig geskryf word op 29 April 2020 (ons finale sperdatum vir die tydskrif om drukker toe te gaan). Teen die tyd dat julle hierdie tydskrif ontvang of dit op winkelrakke beskikbaar is, mag die inligting dalk verouderd wees.
Weens die reisbeperkings (internasionaal en plaaslik) moes baie jagters hul jagte uitstel en baie het dit gekanselleer as gevolg van al die onsekerheid. Ondernemers wat konsentreer op trofeejag is dus onmiddellik erg geraak. In lande soos Zimbabwe waar daar op groot stukke staatsgrond gejag word, het die gebrek aan jag nie net ondernemers en hul werkers se inkomstes geraak nie maar ook die plaaslike bevolking ontneem van broodnodige proteïne. En verder neem wilddiefstal toe, want met minder geld kan die ondernemers nie meer patrollies doen in hul konsessiegebiede nie.
Die voorsitter van Zimbabwe se professionele jagtersvereniging reken hulle het altesaam reeds soveel as 4 500 jagdae verloor as jy die getal jagters in aanmerking neem wat alreeds gekanselleer of uitgestel het.
REISBEPERKINGS PLAASLIK
Plaaslik is die situasie ook kritiek. Baie konsessiehouers en wildplaaseienaars wat in Januarie en Februarie oorsee was vir bemarking, het reeds van die deposito’s begin gebruik wat hulle vir jagte ontvang om hul bemarkingsonkoste te dek en nou vra die mense wat hul jagte uitgestel of afgestel het, hul geld terug. Sommige jagondernemers begin dus met ’n skuldlas sonder dat hulle enige wild aan jagters verkoop het.
Ons het gedink dat sake vir ons plaaslike bedryf beter sou verloop en dat daar verligting sou wees met die inperking wat op 30 April verslap is. Baie SuidAfrikaners het geglo dat hulle wel in Mei sal kan jag, maar dit blyk nie die geval te wees nie. Wat bydra tot die verwarring, is die regeringsamptenare se bewoording wanneer maatreëls uitgespel word. Met die verslapping van die inperking vanaf 1 Mei word genoem dat interprovinsiale reise verbied word en word die indruk geskep dat reise binne provinsies toelaatbaar is.
Daar is dus tans baie spekulasie oor wat toegelaat word en wat nie. Sommige mense glo jy mag ’n dagjag in jou eie provinsie doen, wat behels dat jy jou sosiale afstand tydens die jag moet behou, ’n masker dra en net nie die aand oorslaap op die plaas nie. Soos almal weet, is dit bykans onmoontlik om sosiale afstand te behou tydens ’n jag.
Ons wil mense dus waarsku om nie op hul eie interpretasie staat te maak nie, want daar is wel riglyne wat neergelê is. Hou ook in gedagte dat sommige amptenare hul eie interpretasie het van wat vereis word en dat dit onverstandig sal wees om met amptenare by ’n padblokkade, byvoorbeeld, in argumente oor interpretasie betrokke te raak. Die kanse is goed dat jy gearresteer gaan word.
Op SAFA.net word die regulasies in ’n regeringsbrief uiteengesit. Onder die hofie, Personal Movement, word duidelik genoem: No recreational travel or to meet family or friends.
In dieselfde brief word daar wel die volgende genoem: All agriculture, hunting, forestry, fishing and related services, including the export of agricultural products permitted.
Maar laer af in die uiteensetting staan daar: No local or interprovincial travel, except those operations returning to do or support Level 4.
Soos genoem, is dit die bewoording van die regulasies en die vae beskrywings rondom reise binne ’n provinsie wat die probleem skep.
NUUSBRIEF VAN SAJWV
SA Jagters het deur middel van hul HUB, Fred Camphor, ’n spesiale nuusbrief uitgereik waarin dit duidelik gestel word dat reise binne provinsies nie goedsmoeds toegelaat sal word nie. Jy het steeds ’n spesiale permit nodig en dit word net uitgereik aan mense wat essensiële dienste lewer. Hier volg ’n verwerkte uittreksel uit Fred se brief:
“Jag in 2020: Aangesien reis steeds beperk sal bly met die voorbereiding en inperking op fase vier, moet ons verwag dat ons nie in Mei 2020 sal mag jag nie. Indien reisbeperkings in Junie en Julie geld, sal jag steeds buite die kwessie wees. Hoewel niemand eksplisiet besluit het dat ons nie sal mag jag nie, maak die reisbeperkings dit buite die kwessie. Net die tyd gaan egter leer wat werklik gaan gebeur. HAWASA, wat die organisasies in die jag- en wildbedryf verteenwoordig, het op 17 April ’n telefoonkonferensie met mininster Barbara Creecy, die Minister van Omgewing, Bosbou en Visserye gehou. Sy het aangedui dat jag nie ’n noodsaaklike diens is nie en dat reis tussen metropole en die platteland vir ontspanningsdoeleindes nie gou van die inperking uitgesluit sal word nie. Haar antwoord oor jag was as volg:
‘No movement will be allowed across provinces, from metropoles (epicentres) to rural areas. At the moment they find better outcomes in rural areas, because all
influx of tourists was stopped, whereas they don’t find such good outcomes in urban areas, because of the density of populations. Therefore, no suggestions of movement between metropoles and rural areas will be considered.
What we have to accept, is that we will not have a hunting season this year. A game farmer might have a hunter from the farm next door, but any concept of recreational activities from main urban areas to rural areas, will not happen. The health authorities are serious about managing the movement and spreading of the diseases; they do not want to reinfect areas where there are no infection at the moment.’
Ons moet met redelike sekerheid aanvaar dat geen verbruiksjag of beroepsjag in Mei, Junie of Julie toelaatbaar sal wees nie. Dalk is daar verligting in Augustus en mag daar enkele jaggeleenthede wees.
Tyd sal leer. Tydens hierdie geleentheid het die minister ook soos volg bevestig: ‘In the case of legitimate DCA or culling activities the landowner/rancher should be the prime essential service initiator of the activity and should be the entity issuing the necessary permissions, covered by his own Lockdown Exemption Certificate. The participants in the cull or management of DCA activity would thus fall under those legitimate permissions and would require the necessary letters confirming this. Persons involved in this activity should be cautious and wherever possible they should attempt to get some form of clearance from their local law enforcement as an extra precaution, even if just verbally from a senior official. The Minister encouraged the production of game meat to proceed as normal. Wildlife ranchers should therefore proceed to cull their wildlife to be sold to registered abattoirs as previously done, or alternatively make use of registered culling teams. It is important to note that the culling of game for game meat purpose does not include culling undertaken by consumptive or trophy hunters.’
Dit beteken dat die oes van wild of uitdunning toelaatbaar is met die nodige permitte. Hou in gedagte dat die wetstoepassingsbeamptes dikwels self nie weet wat toegelaat word en wat nie. Ons raai lede aan om uiters versigtig te wees en nie in argumente met wetstoepassingsbeamptes betrokke te raak oor enige onderwerp nie.”
Aldus die brief vanaf die SA Jagtersvereniging.
Onthou dat jag self nie verbied word nie, dis die reise tussen verskillende bestemmings wat opgeskort is. Ons sal dus kan jag die oomblik wanneer die reisverbod opgehef word. Soos dinge nou staan, sal dit eers gebeur gedurende Vlak 2 van die inperkingsmaatreëls. Onthou ook dat mense steeds verbied sal word om vanaf provinsies of streke te reis wat onder ’n hoër vlak van inperking val, na provinsies of streke wat onder ’n laer vlak van inperking val.
Tans is ons grense steeds gesluit, so jag in Namibië is ook vanjaar van die baan. Dit neem gewoonlik ’n paar weke om tydelike uitvoerpermitte vir gewere te bekom en met die huidige onsekerheid oor wanneer die inperking gestop gaan word, is dit tans onmoontlik om beplanning te doen en toekomstige jagdatums te bevestig.
GEVOLGE VIR WILDBOERE
Wat die uiteinde van hierdie gebrek aan jag vir ons plaaslike bedryf gaan beteken, kan ons maar net raai. Een ding is seker, sommige wildboere gaan met ’n oorskot van diere sit wat hulle op een of ander manier sal moet bemark. Hulle kan dit laat oes en aan slaghuise probeer verkoop of hulle kan hul pryse verlaag en hoop jagters sak op hul plase toe. Die probleem is net dat die beskikbare jagtyd erg verkort sal wees, so daar gaan heel moontlik nie genoeg diere gejag kan word nie.
Op plase waar daar goeie reën geval het, kan ’n oorskot aan diere dalk gedra word en as die boer finansieel sterk genoeg is om eers volgende jaar te laat jag, kan dinge goed uitwerk. Maar wat van diegene in droë gebiede wat wild móét uitdun? Of ondernemers/boere wat finansieel nie kan bekostig dat hulle inkomste vir een jaar wegval nie? Dit kan tot grootskaalse werkverliese en bankrotskap lei.
Ons doen ’n beroep op mense om nie die reëls te oortree nie. Ons herhaal weer dat jóú interpretasie van die regulasies mag verskil van dié van die regeringsamptenare en dit kan tot botsings lei wat jy mag berou.
Hoe onregverdig dit ook al is, onthou dat jag tans as ’n vorm van ontspanning gesien word en nié as ’n essensiële bedryf nie. Dit wil voorkom asof die regering nie die feit in aanmerking neem dat jagplase en jagondernemers afhanklik is van ’n inkomste wat slegs gedurende die jagseisoen gegenereer word nie. Ons weet jy kan op baie plekke die heel jaar deur jag, maar die meeste jagters doen dit eenvoudig nie. Jag in Suid-Afrika is steeds seisoengebonde en beperk tot die kouer maande van die jaar.
Sterkte met die inperking, kom ons hoop dinge swaai redelik gou en dat ons nog sal kan jag hierdie jaar.