EEN DONKER NAG IN DIE SUIKERRIET...
JOHAN VAN WYK
Die suidoostelike laeveld van Zimbabwe is ’n area wat my baie na aan die hart lê. My jagspore lê op verskeie plase in hierdie deel en alhoewel die streek sedert 2000 baie swaar gebuk gegaan het onder Robert Mugabe se grondhervormingsprogram, het ek steeds baie goeie herinneringe van my ondervindinge daar.
So ’n paar jaar gelede was ek op ’n buffeljag naby Chiredzi saam met goeie vriend en professionele jagter, wyle Barry Style. Ons was een middag op pad na waar ons vroeër die spore van ’n klein troppie buffels gekry het toe hulle ’n bospaadjie gekruis het. Die Land Cruiser het kreun-kreun oor ’n klipperige hoogte tussen twee koppies geworstel toe Barry se selfoon begin lui. Dit was pure geluk dat daar hoegenaamd opvangs was. Die persoon wat geskakel het, was die plaaslike distrikskommissaris, so ons het gestop sodat Barry met die man kon gesels.
Soos dit dikwels in Afrika gaan, was daar eers ’n paar minute se “Hoe gaan dit?” en
“Nee, goed dankie,” in Shona voor die amptenaar by die rede vir sy oproep uitgekom het. Daar was glo ’n alleenloperseekoeibul op nabygeleë plase wat skynbaar ’n voorliefde vir die boere se suikerriet ontwikkel het. Veral die plaas van een spesifieke boer het al verskeie kere kwaai deurgeloop en die boer was dus fed-up met die seekoei, aldus die distrikskommissaris. Barry het belowe dat hy sou kyk wat hy kon doen, afgelui, en doodluiters vir my gevra: “Want to shoot a hippo, Bud?”
SEEKOEI-VERWOESTING
Dis die tipe vraag wat ’n mens se hart ’n slag laat mis, maar toe ek tot verhaal kom, het ek die aanbod met groot blydskap aanvaar. Aangesien dit reeds laat in die dag was, het ons die buffels met rus gelaat en teruggegaan kamp toe om ’n paar voorbereidings te tref. Op pad kamp toe het ons egter by ’n diep poel in die Chiredzirivier gestop waar ’n trop seekoeie gewoon het. Barry het die bul uitgewys en daar en dan vir my ’n vinnige skootplasingsles gegee, sou ons die seekoei in die water teëkom.
Ek het gewonder of ek alles gaan onthou as dit saak maak, maar het niks gesê nie. Dis immers nie aldag dat ’n mens buffeljag net so los om ’n probleemseekoei te gaan maniere leer nie!
Toe ons net voor donker by die fed-up boer se plaas aankom, was dit duidelik dat hy een van diegene was wat voordeel getrek het uit Kameraad Robert se grondgrype. Dit was ’n kleinerige besproeiingsplaas waarop duidelik in vroeër jare intensief met suikerriet geboer is, maar nou reeds baie vervalle voorgekom het. Op sommige van die omliggende landerye het ylerige lappies mielies tussen oorgroeide suikerriet gegroei, maar dit was duidelik dat die mense wat nou hier woon nie kommersiële boere was nie.
Uit hoflikheid het ons eers by die boer se huis gestop om te groet, maar hy was nie tuis nie. Sy vrou het egter onmiddellik aangebied om vir ons ’n gids te reël en bygevoeg dat die seekoei stiptelik after dark elke aand opdaag. Dit was verblydende nuus, maar toe ons die gids raadpleeg, het hy net sy kop geskud en aangedui dat die seekoei gewoonlik eers after midnight opdaag! Met geen ander opsie nie, is ons toe na die landerye toe waar die seekoei so skade maak. Op pad kon ons sien dat die groentetuine ook nie skotvry afgekom het nie, en die groenboontjies en tamaties wat nie opgevreet was nie, was fyn en flenters vertrap deur die groot dier.
Langs die suikerrietland was ’n groot ou kremetartboom waaronder ons die Land Cruiser geparkeer het. Barry se twee spoorsnyers, Kennedy en Bikita, het plastiekstoele vir my en Barry opgeslaan en, met ons gelaaide .375’s byderhand, kon ons elk ’n louwarm Zambezi Lager geniet terwyl ons die sonsondergang bewonder.
DIE WAGTYD BENUT
Soos ek daar gesit het met die amper-warm bier in my hand en my geweer wat langs my teen die Land Cruiser gestut staan, het die gedagte by my opgekom dat ek besig was om iets te beleef wat hom al vir baie dekades lank oor en oor in Afrika afgespeel het. In Suid-Afrika is jakkalse, bosvarke en bobbejane gewoonlik die grootste kopsere vir die meeste boere, maar hier waar ek nou was, noord van die Limpopo, sou iets soos ’n .243 nie noodwendig die probleemdierkwessie kon oplos nie! »
» Ek en Barry het later ’n vinnige toebroodjie afgesluk en so rondom 21h00 het die diep asemhaling vanuit die stoel langs my my oortuig dat my onverskrokke professionele jagter aan die slaap geraak het. Ek was egter in verwondering oor die miljoene sterre in die hemelruim, en elke dan en wan kon ek die twee spoorsnyers hoor wanneer hulle na die land toe stap om te kyk of die seekoei al sy verskyning gemaak het.
Dit was skuins na 23h00 toe Bikita saggies nader stap en Barry aan die skouer skud. Hy het dadelik sy geweer opgetel en fluisterend vir my beduie dat die seekoei in die land was. Weereens het my hart ’n bokspring gegee, maar ek het my geweer opgetel, seker gemaak die veiligheidsknip is nog aan, en agter Barry aan beweeg. Daar was feitlik geen maan nie en ek het Barry gevolg deur sy ligte khaki t-hemp voor my as baken te gebruik soos ons aanstap. Kennedy, wat voor geloop het, het ’n skietlig gedra en Bikita, volgende in gelid, het ’n flits gehad.
Voor dit donker geword het, het ek opgelet dat daar ’n afleivoor rondom die land was. Die voor was van sementblokke gemaak, en dit het deur my gedagtes geflits dat dit bepaald nie ’n goeie idee sou wees om nou in die afleivoor te trap nie. Ons het gelukkig baie stadig vorentoe beweeg en ek het stil-stil gewonder of die ouens wat voor my loop, geweet het waarmee hulle besig is.
NET ’N DONKER KOL
Na wat soos ’n ewigheid gevoel het, maar seker nie meer as ’n minuut of twee was nie, het ons gestop. Ons was so naby aan die seekoei dat ons duidelik kon hoor hoe hy in die suikerriet wei. Ek kon egter steeds niks anders as duisternis sien nie. Barry het stadig omgedraai en in sy sagste fluisterstem gevra of ek die seekoei sien. Ek het stip die duisternis ingestaar, maar al wat ek kon sien, was donkerte, met ’n baie donker kol in die middel. Toe ek dit aan Barry noem het hy bevestig dat die donkerder kol inderdaad die seekoei was.
Die spanning het opgelaai en my adrenalien het behoorlik gepomp. Barry het na my toe gedraai, sy hand op my skouer gesit en in my regteroor gefluister: “You better dump him, Bud, otherwise we might end up with a lap full of hippo!” Sy aanmerking was om een of ander rede onder omstandighede vir my skreeu-snaaks en ek moes hard veg om nie uit te bars van die lag nie. Praat van snaakse sêgoed op snaakse tye!
Ek kon sien hoe Kennedy die skietlamp optel en het terselfdertyd die .375 opgelig en die donkerder kol begin soek. Toe Barry my vra of ek reg is, was ek glad nie seker nie, maar nou ja, hier was ons nou met nêrens anders heen om te gaan nie. Ek het net ’n vinnige yes gefluister, en die volgende oomblik was my teleskoop vol helderverligte seekoei.
AWEREGSE SKOOTPLASING
Die bul se kop was na regs en ek onthou spesifiek dat daar ’n stuk suikerriet by sy bek uitgesteek het. Hy was ongemaklik naby, verseker nie verder as 15m nie, so ek moes skiet en klaarkry.
Ek het die kruisdraad op die bul se blad gesit en die sneller gedruk. Met die terugskop van die .375 het ek die seekoei uit my sig verloor, maar toe ek die geweer laat sak om te herlaai, het Barry my op die rug geslaan. Die seekoei was teen die grond met bloed wat by sy bek en neusgate uitgestroom het, en dit was duidelik dat hy nie weer sou opstaan nie. Barry het egter gevra dat ek hom nog ’n slag moet skiet, net om seker te maak, en ek het ’n tweede 300gr Woodleigh-volmantel agter die blad in die hartlong-area ingeskiet.
By nadere ondersoek het dit geblyk dat my eerste skoot ’n perfekte nekskoot was. Hoe ek dit reggekry het om op 15m die koeël amper ’n meter regs te flinch sal ek nooit weet nie. Die eindresultaat was egter ’n dooie seekoei, so ek het toe maar heel beskeie almal se lofprysinge aanvaar en eers die volgende dag gebieg oor my aweregse skootplasing!
Aangesien die seekoei ’n probleemdier was, het sy tande en vel aan die Zimbabwiese Parkeraad behoort. Die boer wat die skade gely het, was egter geregtig op die vleis as vergoeding vir sy verlies. Kort nadat ek die seekoei geskiet het, het die boer opgedaag en hy was heel dankbaar toe hy die dooie dier in die middel van sy suikerrietland sien. Volgens Barry sou hy tot soveel as $2 per kilogram vir die vleis kon kry aangesien die bevolking in daardie gedeelte van Zimbabwe versot was op seekoeivleis.
NABETRAGTING
By nabetragting die volgende dag het dit geblyk dat die seekoei weens ’n gesteelde omheining uit ’n nabygeleë natuurgebied ontsnap het. Dié het glo aan ’n welbekende suikerprodusent behoort. Die suikerprodusent het die jagregte elke jaar ten duurste verhuur aan ’n bekende Zimbabwiese professionele jagter, wat op sy beurt weer oorsese kliënte gekry het om daar te kom jag. Daardie jaar sou daar egter een seekoei minder op die kwota wees. Die betrokke suikerprodusent het onlangs verklaar dat hulle in groot finansiële moeilikheid was. Dit het my laat wonder of die geld wat hulle vir “my” seekoeibul kon gekry het, nie die moeilikheid begin het nie!