SA Jagter Hunter

IN MY VISIER

-

Daar kom ’n tyd, sê neef Org Hamman, dat die 13 syfers voor in jou ID-boek jou lewe begin regeer. Daardie tyd het nou ook vir my aangebreek. Media24 se beleid bepaal dat ek moet oppak.

Iemand jonger met varser idees moet oorneem.

Hierdie uitgawe is die laaste een wat ek as redakteur hanteer aangesien my dienstermy­n einde Mei verstryk (teen die tyd dat julle hierdie uitgawe lees, sal ek dus reeds die tuig neergelê het). Ek sal wel nog op vryskutbas­is vir tydskrifte bydraes lewer.

Ek kyk met groot dankbaarhe­id terug oor my sewe jaar by SA JAGTER/HUNTER. Ek het die ongeloofli­kste mense ontmoet; medejagter­s, sportskuts en natuurlief­hebbers. Mense met wie ek my passie kon deel en mense by wie ek kon leer. My pos as redakteur het dit moontlik gemaak dat ek plekke kon besoek wat my andersins nie beskore sou wees nie. Ek was elke dag besig met die twee groot passies in my lewe, naamlik jag en vuurwapens. Dit het my werk deurentyd interessan­t en hoogs bevredigen­d gemaak.

Soos met enige werk, was daar hier en daar ’n paar klein jakkalsies in die wingerd – die poskantoor se geploeter om SA JAGTER/HUNTER af te lewer; die voortduren­de stryd om begrotings te laat klop en adverteerd­ers te lok en soms rekenaars wat lol as sperdatums naderkruip. Tog was daardie jakkalsies te klein en te min om van my werk ’n las te maak.

Ek wil elke leser bedank wat my en die tydskrif ondersteun het sedert my aanstellin­g. Dankie vir al die oproepe, e-posse en warm handdrukke. Julle vriendelik­heid was altyd vir my ’n riem onder die hart.

Ek moet ook die span noem met wie ek daagliks saamgewerk het; Malinda Craythorne, Marthie van Dyk, Marisa Beeton, Eunia Barnard, Jacques Boshoff en dan oor die laaste jaar, Johan van Wyk. Baie dankie! Julle het voorwaar my werk baie lekker en maklik gemaak. ’n Spesiale dankie ook aan al die lojale adverteerd­ers van die afgelope sewe jaar!

Johan van Wyk, ons huidige adjunk-redakteur, gaan by my oorneem. Sterkte Johan, veral in die lig van ons land se huidige finansiële krisis en die probleme met die Coronaviru­s.

Ons jagbedryf is erg in die pekel as gevolg van die virus, daarom wens ek vir elke jagonderne­mer en PH wat finansieel gely het, ’n spoedige herstel van besigheid toe. Dis ook my wens vir elke persoon, ongeag beroep, wat benadeel is. Al lyk die toekoms dreigend, weet ons dat daar uit elke donker nag weer ’n nuwe dag gebore word. Byt vas en staan sterk!

Vir jagters hoop ek dat dinge weer normaal sal verloop voor die jagseisoen hierdie jaar eindig en dat julle steeds biltong en droëwors huis toe sal kan bring.

Nou ja, al wat oorbly, is om te groet. Veilig jag en lekker jag. Ek wens elke leser nog vele genotvolle ure in die jagveld toe. Mag julle aandvure die volmaakte afsluiting­s wees van vervulde dae in die veld, en mag die herinnerin­ge wat julle versamel vir baie jare warm in jul harte bly gloei.

Vir oulaas dan…

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa