SA Jagter Hunter

DOOIERUS – SJÊNSBÔKSM­OUS

-

Mens kan nie dink die lewe beweeg so vinnig aan nie. Daar was ’n tyd voor Covid19, onthou jy? Voor die siekte ’n masker om ons leefstyl kom span het, was daar ’n tyd toe baie mense begin lewe het asof daar geen môre was nie. Vir hulle het alles gedraai om besittings en bymekaarma­ak en plesier, kompleet asof dit sou opraak. Meer, beter, groter, duurder: Dit was die dwingende dryfvere, met weinig respek vir die gevolge daarvan. Maar eintlik was daar vir baie reeds te veel. Te maklik, te gierig, te verwyderd van die natuur. En toe raak dit inderdaad skielik op, tot hulle skok en afgryse.

Dié van ons wat ouer is sal egter ook ’n ander, meer sober era, onthou.

Ja, daar was ’n tyd voor jag ’n luukse geraak het, voor skiet tegnototte­rmetrie geraak het, voor wildtelers rockstars geraak het, en voor oorlewing finansieel eerder as eksistensi­eel geraak het. Dit was die era van arbeid adel en spaarsamig lewe, van nederig wees en hergebruik en hard werk en plan maak. ’n Tyd toe dit gegaan het om die ware nut van ’n sak sout en nie om die brand value daarvan nie.

Gielie was ’n ou uit daardie milieu. Dorper geboer op ’n stukkie huurgrond in die duine en met alles wat hy kon ’n lewe probeer maak. In gestalte nie veel langer as vyfvoetwei­nig nie, maar dit het hom nie gestuit nie. Hy was ’n raakvatter, en as Dorslandtr­ekkernages­lag ook ’n vasbyter.

So, tussen jagters uitvat en vir mense bakkietral­ies sweis en windpompe oordoen, en rantsoenvl­eis smous en hansskaap grootmaak vir vendusie, het Gielie nog gemsbokke gevang ook. Teen ’n prys natuurlik, of om mee te spekuleer.

Sy tegniek was eenvoudig: Jaag hulle in, keer ’n jonger een af, jaag hom in die rondte en gryp hom aan die horing, sommer van agter die stuur uit. Toerusting, anders as ’n oop Jeep met ’n sessilinde­r 4.1 Chev-enjin en ’n ou skaaplorri­etjie sonder battery, het hy nie gehad nie. Hulp ook nie, behalwe vir een plaaswerke­r. Maar planne het hy wel gehad.

Om sjênsbôk (soos hy dit genoem het) te vang, het jy hande nodig. En al tyd wanneer daar genoeg hande op die plaas was, was as daar jagters was. Wanneer die jagters klaar geskiet en klaar hulle vleis gewerk het en dan gesit en wag het vir die biltong om droog te word, het Gielie hulle genooi om te kom kyk hoe hy gemsbokke vang.

Dis hoe ek hier êrens in die 80’s by Gielie se sjênsbôkva­ngery in die Kalahari beland het. (Nie dat ek al ooit spyt was nie.)

Die vorige agtermidda­g is daar versit na die vangplaas wat ’n goeie twee ure weg was. Duin op en duin af deur die sand, hekke oop en hekke toe, verskeie plase deur. Uiteindeli­k is daar kamp gemaak vir die nag, sommer in ’n straat tussen die duine.

Ek onthou ’n bitter koue nag daar op die bokseil langs die lorrie, in my slaapsak ingewurm met alles wat ek kon aantrek. Hout vir die vuur was min – my waterbotte­l wat langs my kop gestaan het, het kliphard gevries.

Vroegoggen­d is daar geroer. Eers ’n staanvuur vir koffie en ontdooi, en toe, aksie. Gielie, in sy uitgebleik­te kakiehemp, blou ouwerolbro­ek en koöperasie­vellies sonder sokkies, het die koue nie gevoel nie. Agter die stuur van sy gehawende Jeep was hy

’n windhond wat sjênsbôkke aangekeer en afgekeer en dronk geja het dat daar stukke driedoring in sy hare sit.

Wanneer daai Jeep dan tot stilstand sleep (partykeer het ons nog ’n ent aangery na die bok Gielie agter die stuur uitgepluk het), moes jy spring om te help. Sulke tye het die adrenalien hoog geloop en Gielie se stem het dun geraak:

“Vat vas daar kêrels, vat vas! Moenie dat hy skop nie, kry sy agterbene bymekaar! Hou daai horings! Waar’s die pype?! Moet hom nou nie sta’ en versmoor nie. Onthou hy’t gehardloop, gee hom asem. Werk mooi met hom, maar los, los jy nie, hoor julle! Op jou moer as ek jou vang los. Jy los nie!!! Hou!!”

En dan, wanneer die bok gelaai is met ’n stuk tjoep oor sy oë en plastiekpy­pe oor sy horings, en sy bek met water gespoel is, was Gielie dankbaar.

“Netjies, kêrels, netjies. Nou moet ons hom nog net oorgelaai kry op die lorrie en hulle gesond aflaai, dan boer ons alweer bietjie vorentoe!”

Ja, ou Giel. Lankal ook al ses voet onder die rooi sand. Sedertdien het wildvang natuurlik ontwikkel tot ’n gesofistik­eerde bedryf, maar met die introspeks­ie wat Corona nou oor ons kom hang het, dink mens weer aan daardie plat-op-die-aarde dae.

Na die meer onlangse era, die sogenaamde ‘goue jare voor Corona’, verlang ek egter glad nie. Veral nie wat wildhandel betref nie. Put and take was nog altyd vir my ’n immorele praktyk en aan telers wat met Texas-houdings uit hul helikopter­s klim, het ek nie erg nie. Aan die kleurkaart­e en kwasi-aristokrat­iese prostituut­bulle waarmee hulle wou smous, nog minder.

Om die waarheid te sê, nou dat ’n mikroskopi­ese natuurorga­nisme vir ons kom wys het hoe nietig die mens eintlik is, word ons (dié wat wil hoor) eerder herinner aan hoe arrogant ons begin omgaan het met natuur- en erfenisgoe­d.

Wat Gielie sou gesê het van verwikkeli­nge sedert sý tyd, sal ’n mens nie weet nie. Eintlik is ek maar bly hy is eerder al hierdie dinge gespaar. (Hy sou in elk geval ook nie reg gelyk het as hy met ’n Stetson en ’n helikopter by ’n sjênsbôksm­ousery moes opdaag nie.)

“Vat vas daar kêrels, vat vas! Moenie dat hy skop nie, kry sy agterbene bymekaar! Hou daai horings! Waar’s die pype?!...“

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa