SKOONPA SE STEVENS UIT STRUISBAAI KOOS BARNARD
Dié ou 12-boor het ’n vlammetjie in my hart brandgemaak wat ek in die toekoms gereeld sal moet stook.
Dit was die kolgans se hees roep wat hom weggegee het. Ek het gekyk na waar Kobus de Kock wys en die voël windaf aan ons linkerkant verby sien vlieg. “Hel, hy’s vinnig,” het ek gedink en die dubbel se lope ver voor sy kop verby getrek.
Toe dreun die Stevens en stuur sy haelkorrels die lug in. Ek kon hulle duidelik hoor tref en die volgende oomblik het die gans begin val. Dit was my eerste sukses met dié ou Amerikaanse haelgeweer op hierdie voëlspesie!
Die volgende twee voëls het oor ons koppe gevlieg en ek het weereens die regterloop laat praat. Net toe ek die sneller trek, het die een voël skerp agter die ander een ingeswaai en met geluk, eerder as deur vernuf, het die nommer 4’s beide getref! Hierdie was twee kopereende.
Na hierdie eerste suksesse was die lug vir ’n paar minute stil… en toe begin die ganse die laatmiddaglug te vul. Golf na golf het teen die sterk wind in op die pannetjie afgepyl waar ons in die lang gras geskuil het. Met die Stevens se lope gestook
met Blaser se 32g Nr 4’s het ek opgespring en die dubbelloop lugwaarts geswaai…
DIE STEVENS SE STORIE
Maar voor ek verder vertel oor my eerste gansskiet, wil ek meer oor die haelgeweer vertel. Dis ’n Stevens wat ek by my skoonpa, Dirkie Lourens, geërf het. Met dié geweer het ek reeds in my studentedae kennis gemaak, in 1981, toe ek nog na my vrou gevry het. Pa Dirkie was ’n plaasbestuurder op Bennie Groenewald se plaas, Krabbefontein net buite Grabouw. Ek en my vrou was beide studente op Stellenbosch en as ons naweke op Krabbefontein gaan kuier het, het Pa Dirkie vir my sy enkelskoot-.22 BSA of die Stevens 12-boor geleen sodat ek tarentale en fisante kon jag. Ek het die .22LR veel meer gebruik as die haelgeweer, want ek het glad nie met haelgewere grootgeword nie. Vir my was dit iets wat jy in die hoenderhok of duiwehok op pesdiere soos muishonde, groukatte of muskeljaatkatte gebruik.
Die enkele kere wat ek wel die haelgeweer gebruik het, het ek dit soos ’n koeëlgeweer aangewend en die voëls sommer op die grond gepeper. Haelgeweerskuts sal erg hieroor frons, maar ek het nie van beter geweet nie.
Pa Dirkie was ’n bedrewe haelgeweerskut wat nie net voëls in vlug kon klits nie, maar ook duikers en bosbokke met die Stevens gejag het. Dit was vroeër algemene gebruik.
Skoonpa-hulle het later finaal op Struisbaai gaan aftree. En dis daar waar hy eendag die Stevens aan my oorhandig het. My eerste, en die enigste haelgeweer wat ek besit.
Inligting oor die ou Stevens- »
» gewere is skraps, maar ek kan julle verseker dis nie een wat connoisseurs sal aanskaf nie. Dié gewere se grootste bate is dat hulle duursame werksgewere is wat nie opgepiep hoef te word nie. Gee hulle maar hel, hulle sal bly skiet.
Ek het oorspronklik gedink dat my erfstuk ’n Model 311 is, of dalk Stevens se Model Fox B. Maar na onlangse leeswerk op ’n Amerikaanse forum stel ek vas dis blykbaar ’n Stevens Model 530 wat in 1940 vervaardig is, aldus ’n Amerikaanse kenner. Aan die regterkant van die aksie staan: J Stevens Arms Company, Chicopee Falls, Mass. U.S.A. en ook die nommer, 5100. Daardie nommer dui nie op die model nie en is ook nie die geweernommer nie, dit verwys na die tipe aksie (daar was ook ’n nr. 5000aksie) en dié nommers was glo interne fabriekskodes om die verskil tussen die aksies aan te dui. Die Stevens se aksie is ’n vereenvoudigde Anson & Deelytipe en die lope is 30” lank.
Aan die linkerkant van die aksie is die naam Stevens gegraveer en ’n patryshond wat point, asook die kop van ’n patrys wat bo die gras uitsteek. Bo-op die linkerloop, net voor die aksie is gestempel: PROOF TESTED – 12 GAUGE, 2¾ INCH CHAMBER. Op die regterloop staan daar: SELECTED FORGED STEEL. Soos die foto’s aandui, is dit ’n sy-aan-sy dubbel met dubbele snellers – die voorste sneller vuur die regterloop en die agterste een, die linkerloop.
’N BIETJIE OPKNAPWERK
Skoonpa het die geweer gedurende die 1960’s tweedehands gekoop deur middel van ’n vriend, Orgie Ritter, en vertel dat die voorlaai eens op ’n tyd gebreek het na ’n val teen ’n berg. Dis toe vervang met ’n nuwe wat effens vetter is as dié wat die geweer oorspronklik gehad het. Foto’s op die internet van ander Model 530’s toon ’n langer, slanker voorlaai. Skuins aan die onderkant van die regterloop, ongeveer 75mm van die tromp af, is daar ’n vlak duikie in die loop, maar dit affekteer nie die Stevens se skietvermoë nie.
Toe ek die geweer ontvang het, was die kolf en terugskopkussing taamlik gehawend en die lope heeltemal blink. Vriend Alan Henry van Natal Gun Company in Amanzimtoti het die kolf gedokter, ’n nuwe skopkussing aangesit en die lope sommer koud-geblou. “Not necessary to spend a lot of money on a gun like this,” was sy kommentaar.
Dit was ook duidelik dat iemand lank gelede ’n stuk skuurpapier in die hande gekry het en die hele aksie daarmee probeer blink skuur het. Ek het die skuurmerke en roeskolletjies met ’n fyner papier gepoleer.
LINKER- OF REGTERHANDS?
Opvallend is dat dit lyk asof die kolf vir ’n linkshandige skut gemaak is, of cast-on het vir ’n regshandige skut. Dis ook wat ’n bedrewe Natalse haelgeweerskut my vertel het toe hy die geweer sien. “You wil never hit anything with this gun,” was sy kommentaar.
Aanvanklik het ek hom geglo, want as ek die geweer links-om geskouer het, het my oog mooi opgelyn met die rib, maar regsom was my oog effens links van die rib. Toe hanteer iemand wat veel meer van haelgewere weet as ek, eendag die geweer, en volgens hom is die kolf perfek vir regshandiges. Blykbaar was dit ek wat uit onervarenheid nie my wang styf genoeg teen die kolf geanker het nie.
Wie van die twee kenners met my kop gesmokkel het, weet ek nie, maar as ek deesdae die geweer aangooi, pas dit my perfek en is my oog presies opgelyn met die rib. So, die verkeerd-om kolf is dus eintlik reg-om. Interessant is dat foto’s van hierdie haelgewere wat ek op die internet gesien het, ook dieselfde kolfkonfigurasie toon.
Toe ek nog in Natal gebly het, het ons ’n paar maal gaan kleiduiwe skiet met die Stevens. Daarna het dit ’n “safe queen” geraak. My werk het vereis dat ek met koeëlgewere peuter en ek moet toegee dat ek eenvoudig net nie die nodige belangstelling gehad het om ’n voëljagter te word nie. Die ou Stevens is dus vir jare nooit afgevuur nie.
DIE STEVENS KRY WEER LEWE
Maar op ’n dag begin daar skielik ’n lus in my groei om dié ou haelgeweer te gebruik waarvoor dit bedoel is... om voëls in vlug te skiet. Die man wat die vlammetjie aangesteek het, is Kobus de Kock. Hy lewer gereeld bydraes vir SA JAGTER/HUNTER oor haelgeweerjag. Sy lekker vertellings oor voëljagte het my geïnspireer om die Stevens se lope te gaan stook daar in die Overberg waar Pa Dirkie hom vir so baie jare gebruik het.
Ek en Kobus het op ’n datum besluit en ons (ek en my vrou) het afgesit Struisbaai toe. Pa Dirkie en Ma Beatrice woon nou in Bredasdorp in Suideroord, die tehuis vir bejaardes en ons het vir oulaas in hul kliphuisie op Struisbaai tuisgegaan voordat dit aan die nuwe eienaar oorhandig sou word.
Op ’n koue, winderige middag in Maart stap ek toe by dié huisie in Marlynstraat uit waar Pa Dirkie die geweer jare tevore aan my gegee het. Ek het koers gekies na die Van Brakel-Stoor, geleë tussen Napier en Caledon. Dis waar ek en Kobus mekaar sou ontmoet.
Ek het gewonder hoe suksesvol ons sou wees want ’n tierende wind het sy woede oor die Overberg geblaas.
Kobus het my na een van sy gunsteling-skietplekke geneem en toe ons daar aankom, sien ek dat hy reeds vroeër die dag ’n hele klomp lokkers rondom ’n vlak pan uitgesit het. Ons het aan die windop-kant van die pan stelling ingeneem en volgens Kobus sou die voëls (as hulle maak soos altyd) reg teen die wind inkom oor ons koppe na die pan toe. Ons skote sou dus weg van die water wees.
KOLGANSE VERPES SAAIBOERE
Behalwe vir kolganse, wou ek ook ’n wildemakou of twee skiet, want ek het nog nooit een met ’n haelgeweer geklits nie. Op Kobus se aanbeveling het ek 32g, nr. 4-patrone gekoop vir dié taai reuse. Toe ek sien hoe klein ’n nr. 4-haelkorrel is (3.25mm in deursnit) het ek gewonder of ek nie maar growwer hael moes gekoop het nie.
Kolganse is deel van die eend-, gans- en swaanfamilie en is endemies tot Afrika, suid van die Sahara en die Nylvallei. Hulle is deur die ou Egiptenare as heilige voëls beskou en kom volop voor in ou Egiptiese kunswerke.
Daar is ook populasies in WesEuropa (veral Brittanje), die VSA en selfs in Nieu-Seeland. Hulle is afstammelinge van ganse wat vroeër deur mense na dié dele geneem is.
Met ’n gewig wat wissel van 1.1 tot 3.5kg en ’n vlerkspan van 134 tot 154cm, is kolganse nogal groot en selfs húlle vereis growwe hael.
As gevolg van min natuurlike vyande en volop kos, het kolganse se getalle baie toegeneem en hulle is verantwoordelik vir groot skade aan gesaaides op baie plekke in ons land. Daar- »
» om dat sommige boere voëljagters verwelkom.
GEWIGTIGE WILDEMAKOUE
Wildemakoue is ook deel van dieselfde familie as kolganse maar weens ’n paar anatomiese verskille word hulle in ’n ander subfamilie geplaas ( Plectropterinae). Hul verspreidingsgebied is bykans dieselfde as kolganse s’n maar effens meer beperk. Wildemakoue is Afrika se grootste watervoël en een studie het bevind dat die gemiddelde gewig van 58 mannetjies 5.52kg was en dié van 34 wyfies, 3.35kg. Hul vlerkspan bereik amper twee meter. Die snawel alleen kan van 5.7 tot 6.4cm lank wees.
Behalwe vir hul groter grootte, verskil makoumannetjies ook van wyfies deurdat hul rooi gesigvlek groter is as die wyfies s’n en daar is ’n knop by die basis van die boonste mandibel. Hul roep is ’n fyn fluitgeluid wat basies net deur die mannetjies geuiter word. Die Engelse naam spurwing is te danke aan die skerp spoor wat op die voorkant van die vlerk aangetref word… en nee, daardie spoor is nie giftig nie!
Wildemakoue eet ook gras en gesaaides soos kolganse, maar word nie as so ’n groot pes beskou nie omdat hulle getalle kleiner is. Iets interessants wat ek op die internet raakgelees het, is dat hul vleis glo giftig kan wees omdat hulle by tye die giftige blaartrekkewers (blister beetles) vreet. Dié kewers skei kantaridin af, ’n chemiese stof ( cantharidin) wat erge blase kan veroorsaak as dit op jou vel beland. Die bekendste blaartrekkewers in Suid-Afrika is daardie geel-enswartes. Blykbaar is 10mg kantaridin dodelik vir die mens.
Ek betwyfel egter bogenoemde inligting se korrektheid en Kobus de Kock vertel ook dat hy al baie makoue se kropinhoude bestudeer het en nog nooit goggas daarin gekry het nie, net graan.
Wat wel ’n feit is, is dat die blaartrekkewers se chemise afskeiding dikwels as afrodisiakum (liefdes-opkikkermiddel) gebruik word en bekend staan as Spanish Fly.
TOE KOM HULLE ENMASSE
Toe die voëls sterk begin vlieg, het die ou Stevens se stem met gereelde tussenposes gedreun. Kobus het my gewaarsku dat daar ook baie bloukraanvoëls saam met die ganse vlieg en vir hulle mag jy glad nie skiet nie. Gelukkig het ek darem nie daardie fout begaan nie.
Ek het baie goed begin maar toe die kluts kwytgeraak en ’n paar misskote geskiet. Met die groot aantal ganse het ek soms nie geweet op watter een om aan te lê nie en dan oorhaastig skote afgetrek. Partykeer ook as hulle te ver was. Veral weens hul grootte, lyk die wildemakoue nader en stadiger en ek het hulle nie genoeg gelei nie.
Later het ek agtergekom dat ek nie my wang behoorlik teen die kolf anker nie en dus die hele rib sien in plaas van net die bessie-korrel. Daardie skote het ook net blou lug getref. Teen die einde het ek myself reggeruk en toe het dit weer goed gegaan.
Ek sal my eerste wildemakou nie gou vergeet nie want ek het die ou reus met die eerste skoot uit die lug laat tuimel. Toe hulle nader kom, het ek eers nie besef dis makoue nie, maar toe ek oor die Stevens se lope kyk, sien ek die wit-en-swart lyf en dat dié voël heelwat groter is as ’n kolgans. Met die lope so effens voor sy snawel, het ek die sneller getrek en deurgevolg. Die nr. 4-hael het met ’n duidelike slag getref en die groot voël grond toe laat duik.
Kobus het later ook lus gekry om in die aksie te deel en sommer gou-gou vier kolganse laat val. Dit was reeds sterk skemer toe ’n enkele kolgans weer aan ons linkerkant verby vlieg. Ek het hom lêgemaak en vir Kobus gesê dis nou genoeg. Ook maar goed so, want toe ons die voëls tel, kom ons agter dat ek my volle toegelate daaglikse kwota van tien kolganse geskiet het. Saam daarmee was daar twee wildemakoue en die twee kopereende. Ek het ongelukkig ook een kolgans gekwes.
HERINNERINGE WAT SAL BLY
Wat ek van my eerste gansskiet sal onthou, is die groot getalle voëls – swaar zeppelins wat met stewige vlerkgeroei oor ons koppe geseil het. In die skemer sien jy hulle soms glad nie aankom teen die donker agtergrond van die Overberg se rûens nie... totdat hulle sommer hier by jou is. Dan moet jy opspring en in een vloeiende beweging skiet of dis te laat. Ek het ook besef dat ek nog baie oefening kort voordat ek ’n bedrewe haelgeweerskut sal wees.
Wat hierdie voëljag ook besonders gemaak het, was Kobus se teenwoordigheid en hulp. Dit was lekker om ’n ervare voëljagter in aksie te sien en ons gesels het glad en gemaklik verloop. Hy is ’n gans van ons plaas se dam! Ek moet hom ook spesiaal bedank want hy het retriever gespeel en die meeste van die voëls wat ek geskiet het, gaan optel. Dankie Kaspaas, jy is ’n yster! (Sien die artikel oor Kaspaas op bladsy 26.)
Toe ek die aand terug ry na die kliphuisie op Struisbaai, was my hart dankbaar teenoor mense soos Kobus de Kock en Pa Dirkie. Die ou Stevens het in een middag ’n vlammetjie in my hart behoorlik brandgemaak... om meer dikwels in die laatmiddag te gaan wag vir die vlerkslae van die Overberg se zeppelins.
In 2013 het ek oor die Stevens in ManMagnum geskryf: “Pa Dirk, ek lig ’n glasie op jou en die Stevens. Ons twee, ek en die Stevens, sal in die Overberg kom stap waar jou spore eens gelê het... ek sal aan jou dink en dankie sê... vir alles.”
Daardie belofte het ek nou nagekom.