BENUT JOU JAG VOLUIT
SCHALK VERMEULEN
Die rede waarom baie meer dinge vandag eerder verkeerd loop as reg, is eintlik voor die hand liggend, reken ’n vriend nou die ander dag. Volgens hom was dit glo nog nooit anders nie. Dit is doodeenvoudig omdat daar legio maniere bestaan om iets verkeerd te doen, maar daar is net een manier om dit reg te doen. Dit is gewoonlik die moeiliker of duurder manier wat meer moeite en energie van jou verg en langer neem om te voltooi, maar dit bly steeds die regte manier.
Wanneer jy dus iemand uitvra oor sy laaste jag en jy kry enkelwoord-antwoorde soos: Dit was “lekker” of “uitputtend” of “suksesvol” of “te kort”, is dit ook van die maklike, vinnige antwoorde, maar dit is sowaar nie die regte antwoord nie. Nee, met so ’n oop vraag sê jy mos eintlik vir hom, of liewer, nóói jy hom eintlik uit om jou alles moontlik van sy laaste jag te vertel, want jy het nóú tyd vir ’n lekker jagstorie.
Hierdie soort vrae kom gewoonlik teen laatskemer so rondom vlermuistyd, wanneer daar ’n rustigheid oor die jagplek begin neerdaal. Daardie tyd van die dag wat die liggaam ophou om rond te hardloop en die siel tyd gegun word om in te haal. Met siel en liggaam herenig, ’n vuur wat sy eie taal praat, naggeluide wat al hoe meer hoorbaar word en die hemelruim wat ophelder soos wat die “dim switch” Meesterlik hanteer word, is die tyd presies reg vir ’n lekker jagstorie. En hierdie jagstorie het ook net een ras-egte weergawe, en dit is die mees volledige weergawe moontlik. “Chapter 1” vir vandag is verby. “Chapter 2” het begin met die veiligmaak van die gewere en die wegsit daarvan. In geen boek kom daar weer ’n Chapter 1 na ’n Chapter 2 nie, ook nie hier nie. So, Chapter 2 kan sy regmatige tyd gegun word met volledige stories.
Met jou vraag oor iemand se laaste jag, moet sy storie asse
blief aan die begin begin. Dit moet wegtrek met hoe hy gekom het aan die geweer waarmee hy gejag het. Baie vrae ontstaan dadelik by jou en jy wil dié nie vra nie, want jy verwag dat die antwoorde spontaan in sy vertelling sal uitkom. Vrae soos: Hoekom hierdie kaliber, herlaai jy, wat is jou lading en hoekom juis hierdie lading? Al is dit sy enigste geweer en gebruik hy winkelpatrone en daar is net een soort beskikbaar, mag sulke detail nie gemis word nie. Hierna ook al die detail oor die teleskoop, asseblief!
’n “Volledige” jagter sal ook vir jou die koeëltrajek beskryf, soms selfs met ’n paar teikenfoto’s op sy selfoon, net om byvoorbeeld die verskil in die trefpunt tussen 100m en 200m uit te wys. Heel dikwels ook die twee verskillende ladings wat hy vir vlaktejag en bosveldjag gebruik. Onthou net, hy wil nie kort-kort in die rede geval word met vrae nie. Jy het gevra vir ’n volledige storie en dit is presies wat jy nou kry. Hier mag dit nie ontaard in ’n nuttelose gekibbel oor kalibers en ladings nie. Hierdie is sý storie, maak nie saak of sy gebruike jou tande swart maak en jou hare laat uitval nie.
Dan moet hy verduidelik wat hy gaan jag het en waar dit was, met menige wanneer-, wat- en hoekom-vraag se antwoorde ingebou. Oor die jagplaas moet hy absoluut in volsinne praat oor alles. Die “landlord”, terrein, hoeveelheid, soorte en kondisie van die wild, gidse, slagters, manier waarop gejag word, die blyplek, en laaste, maar nie die minste nie, wat alles gekos het. Selfs hoe die weer was tydens die jag. Dan kom die detail oor die manier waarop elke dier bekruip is, oor die wind wat gepla het, die skietafstande en selfs die lastige alleenloper-volstruismannetjie, want hy sien die jagter gewoonlik mos, óf as ’n mededinger, óf as ’n volstruiswyfie.
AANPOR EN NOG UITVRA
Dis gewoonlik hier dat die verteller so ’n showstopper wil ingooi met die regte afsluiting en opsommend iets sê soos: “Janee, dit was regtig ’n onthoujag. Sal graag weer daar gaan jag...”
Nee, só kan dit beslis nie. Gaan maak maar vol sy glas of koffiebeker of wat sy gebruiklikhede vereis, want hier kort nog baie en die man vertel dan so lekker. Kyk dat jy self ook ietsie uit die Franse fles kry, want luister kan jou keel erg uitdroog en dit is mos nou amptelik Chapter 2. Nou moet jy hom net help om sy handrem weer ’n bietjie skiet te gee met ietsie soos: “En die vleis, werk jy dit self of laat jy dit verwerk?”
As hy al ’n paar jaar jag, moet jy mooi luister wat hy maak, want hy doen dit al vir jare op dieselfde manier omdat dit is soos hy en sy mense dit geniet. Baie koop vooraf voorbereide speserye van bekende leweransiers, maar baie meng hulle eie speserye en hierdie manne is gewoonlik baie trots op wat hulle maak. Hulle ken die resep uit hulle koppe en is nooit ongeneë om dit met almal te deel nie. Op die koop toe gooi hy ’n rolletjie van hierdie spogwors op die vuur dat jy self kan proe.
Een man het, wat hy sy waatlemoenwors noem, op die vuur gesit en verduidelik dat wild nie genoeg vog en vet op sy eie het vir lekker braaiwors nie, so jy sit vet en vog by, en sommer genoeg daarvan. As die worsie op die vuur na rook begin ruik, is dit reeds gaar, want anders braai jy net weer al die vog en vet uit wat met groot sorg bygevoeg is, en jy eindig met ’n droë, oneetbare besigheid. Dis hoekom hy dit sy waatlemoenwors noem, want wanneer die manne aan so ’n proestukkie van die vuur af begin smul, lyk dit kompleet of hulle waatlemoen eet soos hulle vooroor leun om nie op hulle klere te mors nie, so lekker sappig is dit. Dan wil almal dadelik weet presies hoeveel vet en watter soort vet en watter speserye in hierdie spesifieke wors gebruik is.
Die volgende vrae wat ontstaan, is wat met die trofee en/ of die vel gedoen is. Soms gebeur daar niks daarmee nie, maar in baie gevalle word skouermonterings, vollyf-trofeemonterings of plat velle laat maak. Nie altyd omdat die horings so uitermate groot is nie, maar omdat die jag so lekker was, omdat dit sy eerste bok van dié soort was, of omdat dit die moeilikste jag was wat hy al in sy lewe beleef het.
DEEL DIE STORIE VERDER
Dan ontstaan die vraag wat die manne soms sukkel om spontaan in hulle storie te beantwoord, so jy vra: “Magtig, dit klink na ’n hengse ervaring. Wat gaan jy nou daarmee maak?” Dan kyk hy jou met ’n hoebedoel-jy-dan-nou-gesig aan, terwyl jy eintlik net wil weet of hy hierdie jag die heeltyd op sy eie gaan herkou en geniet, en of hy dit ’n bietjie met ander mense ook gaan deel. Dit was vir jou só ’n lekker storie om te hoor en selfs te proe, dat dit beslis gedeel behoort te word.
Maar hoe sal hy dit regkry, wil hy weet? Maklik. SA JAGTER/HUNTER-tydskrif, ManMagnum, of enige jagtydskrif wat voortdurend op soek is na jagstories. Dan is die verskoning gewoonlik dat hy nou nie juis ’n skrywer is nie. Bog. Ons het dan nou net letterlik aan sy lippe gehang, so al wat hy moet doen, is om dit wat hy vertel het, op papier neer te pen. Daar is slim mense by die tydskrifte wat elkeen jare gelede al ’n Afrikaanse Woordelys en Spelreëls- boek ingesluk het. Hulle kan jou storie se duike uithaal. Jy kry selfs ’n paar rand as jou storie gepubliseer word (wat net kan help dat jou volgende jag ’n maand of twee vroeër en/of ’n dag of twee langer kan wees).
Natuurlik is foto’s van alles wat tydens jagte gebeur (die lekker en die slegte) van onskatbare waarde en met vandag se selfone is ’n ekstra kamera in die meeste gevalle oorbodig.
REK DIE ONTHOU UIT
Nog iets wat gedoen kan word om die onthou ’n bietjie makliker te maak, is om jou eie jagkaart te begin en by te hou. Hierop dui jy al die plekke aan waar jy al gejag het. Wanneer jy weer vir ’n slag daarna kyk, onthou jy van nuuts af plekke en mense wat al vergete geraak het en die dag wanneer jy besef jy het jou laaste kolletjie op daardie kaart gemaak, dan laat raam jy dit en gee dit ’n ereplek in jou trofeekamer.
Teen daardie tyd is vergeet die enigste ding wat jy dan beter kan doen as nou en dan het jy ál die bewyse dat, toe jy nog kón, toe hét jy!
Onthou, jou laaste jag is dalk nie die laaste een wat jy al vasgemaak het nie. Jou laaste jag is die laaste een waarop jy reeds was. Die ander gebeur dalk nooit!