DIE UITNODIGING DIRK STEYNBERG
’n Reis lank gelede deur Donker Afrika na verre Kenia.
“As die polisie ons nou vang, word ons opgesluit en vir ewig agter tralies gebêre,” het Breg gehyg...
Dit was die jaar 1961 en ek het ’n uitnodiging van my meisie, Marie, ontvang om vir haar op hul plaas in die Eldoret-omgewing in Kenia te gaan kuier. Wat die uitnodiging meer gewig laat dra het, was die belofte dat haar pa vir my ’n jagtog sou reël.
Ek het twee vriende saamgeneem: Pi et ,’ n universiteit s vriend, en Breg, ’n vriend wat familie in Kenia gehad het. Volgens sommige van ons vriende sou ons reis maar gewaagd wees, maar TS Elliot sê in dié verband: “Life is either a daring adventure or nothing at all.”
Breg se ouers het vroeër jare per motor Kenia toe gery en by hulle moes hy dus al die nodige inligting oor ons reis daarheen kry. Verder was sy teenwoordigheid noodsaaklik, want hy sou die voertuig voorsien én hy was meganies aangelê. Piet, weer, was in beheer van die kos, eetgerei en beddegoed.
Ons aanvanklike twyfel en onsekerheid het mettertyd verander in entoesiasme. Ons het ure gesit en padkaarte bestudeer om die beste roete uit te werk. Een of ander wyse persoon het gesê: “Travel is the only thing you buy that makes you rich and is never a matter of money but of courage”. Die 1960’s was die tyd van onafhanlikheidswording vir baie Afrikastate en ons het vooraf inligting gekry oor die gesindheid van die inwoners van die lande waardeur ons sou reis, naamlik Rhodesië, Zambië, Tanzanië en Kenia.
Ek en Piet het besluit dat ons nie Donker Afrika kon aanpak sonder vuurwapens nie. Ons twee was wel goed bekend met vuurwapens, maar Breg wou net mooi niks daarvan weet nie. In Pretoria is ons na ’n wapenwinkel waar ons by die bestuurder gaan kers opsteek het. Hy het met groot belangstelling na ons planne geluister en op sy aanbeveling koop ons toe elk ’n .38 Smith & Wesson-rewolwer met oorspronklike leersakke. Die lisensies kon ons ’n paar dae later kry, waarna die bestuurder sou reël dat ons op ’n skietbaan kan
gaan oefen. Ons is daarna na die polisie toe om uit te vind wat ons te doen staan by die verskeie grensposte. Die polisieman het aanbeveel dat ons die wapens by elke grenspos verklaar.
DIE RIT DAARHEEN
Ons besluit vooraf was dat ons so vinnig as moontlik sou deurdruk tot by ons eindbestemming. Met ons terugkeer sou ons dan rustig tyd bestee op besienswaardige plekke. Al drie van ons het vroegoggend, toe ons vertrek, voor in die bakkie gesit. Agterop was ’n dubbelbedmatras waarop ons beurte sou maak om te slaap. Met tye was daar elke 10 myl ’n mylklip. Ons het maar swaar gekry met die nagbestuur en soms is daar na elke tweede mylklip bestuurders geruil.
Rhodesië se berugte tweespoorpaaie het ons baie moeg gemaak. Dit het ook gou duidelik geword dat Piet vir te min kos gesorg het. En daar was nie eintlik plekke langs die pad waar ons kos kon koop nie, net vulstasies vir brandstof. Ons was al baie honger toe die soveelste haas oor die pad hardloop en nét daar besluit ons: Dis mos kos wat daar weggekom het!
Dadelik besluit ons toe dat die volgende haas geskiet moet word. Ek het met die rewolwer in die hand by die oop venster gereed gesit en wag vir ’n kans. Nie lank nie, of die volgende haas maak sy verskyning. Breg het ankers aangeslaan en toe die haas skaars 10 treë van die pad af stop, klap die skoot. Ons het die haas agter in die bak gegooi en verder gery om ’n plek te soek waar ons dit kon braai.
Terwyl ek en Piet hout bymekaar maak, moes Breg die haas afslag. Ewe skielik het ons ’n benoude gil van die bakkie af gegehoor en toe dadelik soontoe gehardloop – die haas was oortrek met bosluise en almal se eetlus was daarmee heen. Ons gooi toe maar weer die haas agter in die bak en kry later ’n smous langs die pad aan wie ons die haas verruil het vir ’n ui en ’n paar tamaties.
DEUR ZAMBIË EN TANZANIË
By Kariba draai ons toe af om hulle ablusiegeriewe te gebruik en besluit sommer om vir elk ’n visstok te huur sodat ons vis kon vang. By die opsigter het ons aas gekry en, nie lank nie, of ons vang twee tilapias. Met die vis vat ons weer pad en ’n ent in Zambië in hou ons toe stil om dit te braai. Die vleis was egter te sag om filette van te sny, toe maak ons maar vissop saam met die tamaties en ui. Dit het goed gesmaak en ons het alles opgeëet.
In Zambië was daar oral rooibokke langs die pad en die versoeking het al groter geraak soos die honger knaag... as ons ’n rooibok in die hande kon kry, kon ons vars lewer vir die volgende ete geniet. Die res van die vleis sou ons los vir die honger kinders wat ons oral langs die pad gesien het. So maak ek en Piet toe reg om rooibok te skiet. As Breg stilhou, sou ons gelyk skiet. Breg moes vir ons aftel.
Kort voor lank kry ons ’n troppie rooibokooie, maar na die skote lê daar geen bok nie. Ons begin bloedspoor soek, maar niks. Ons sprei uit in die bosse om te soek en hoor toe stemme al nader kom. Die bakkie het ’n ent weg gestaan, met oop deure en lopende enjin. Dis tóé dat Breg dringend waarsku dat ons in groot moeilikheid kan kom. Ons storm toe gelyk op die bakkie af, spring gat oor kop in en trek met spoed weg, om eers na ’n paar myl weer behoorlik tot verhaal te kom.
AANGELAND IN KENIA
Laat die middag kom ons in Arusha, Tanzanië aan. Nog een skof het voorgelê. Ons het die bakkie op ’n oop stuk gond voor die hotel geparkeer. Daar was egter ’n funksie in die hotel en ons was verplig om te wag voor ons die geriewe kon gebruik. Volgens ons berekeninge het daar toe nog so 400 myl vir ons voorgelê. Die volgende dag, ons derde op die pad, het ons Kenia se grens gekruis, daarna is ons deur Nairobi en Nakuru. By die ewenaar het ons gestop om ’n foto te neem en daarna uiteindelik op Marie-hulle se plaas net buite Eldoret, gearriveer.
My maag was op ’n knop – ek sou vir die eerste keer Marie se ouers, asook haar ouer suster en man, ontmoet. Maar almal was baie gaaf en ons is werklik soos konings behandel. Breg is laatmiddag weg om sy familie te gaan opsoek. »