SA Jagter Hunter

DIE COVID-WATERBOK

Soms vat dit lank om ’n ding afgehandel te kry...

- JOHAN VAN WYK

Soms vat dit lank om 'n ding afgehandel te kry...

Ek kan nie mooi onthou wanneer ek die eerste keer daaraan gedink het om ’n waterbok te jag nie, maar dit moes omstreeks 2010 gewees het toe ek een tydens ’n jagtog in Zimbabwe wou skiet. Soos dit uitgewerk het, het die enigste waterbokbu­l wat ons tydens daardie betrokke jag te siene gekry het, in die kloue van ’n honger trop leeus beland, so die jag het nooit plaasgevin­d nie.

Tydens daaropvolg­ende jagtogte kon ek telkemale waterbokke onder skoot kry, maar

dié spesie was in daardie jare redelik duur om in Suid-Afrika te jag, en bowendien, almal het altyd te vertelle gehad dat waterbokvl­eis amper oneetbaar was as die dier nie korrek afgeslag word nie. Vir die man op ’n begroting (wat ek destyds was en nog steeds is) was ’n waterbok dus nie noodwendig altyd bo-aan die spyskaart nie en ek het verlief geneem met die feit dat hulle vir eers beskore was vir ander ouens.

’N EERSTE, ONSUKSESVO­LLE POGING

Tydens ’n jag in die Noord-Kaap in 2018, het ek en my jagspan ons op die tweede dag bo-op ’n rantjie bevind. Voor ons was ’n goeie uitsig oor ’n kloof, met die waters van die Oranjerivi­er in die verte. Dit was nie lank nie of ’n klein troppie koedoes het hulle verskyning gemaak. Die bul was volwasse en die afstand reg, so toe die skoot klap en die koeël tref, was die jag verby. Ek was in proses om die geweer veilig te maak om by die koedoe uit te kom toe ’n fluisterst­em skielik oor die radio kom wat ons waarsku dat ’n waterbok in ons rigting op pad was.

Twee werkers was op ’n gedeelte van die plaas naby waar ons gejag het doenig, en hulle het ’n waterbok skrik op die lyf gejaag wat na ons kant toe gevlug het. Met die geweer terug op die stokke was dit nie lank nie of ’n mooi volwasse waterbokbu­l het oor die rantjie sy verskyning gemaak.

Deur die teleskoop kon ek sien dat die bul iewers heen op pad was, maar nie met vreeslike ywer nie. Hy het hier en daar gestop en gewei voor hy weer luierig aanbeweeg het. Die afstand was net oor die 200 m en met die kruisdraad mooi daar waar die koeël die hart en longe sou stukkend skiet, het ek die sneller gedruk. Daar was nie die kenmerkend­e geluid van ’n trefkoeël nie, maar ek kon duidelik sien hoe die bul bokspring, so ek het geweet dit was raak.

Vanweë die klipperige terrein het dit ons ’n hele rukkie geneem om tot by die plek waar die waterbok gestaan het te kom. Sy diep wegsprings­pore was duidelik sigbaar en binne ’n paar meter het ons die eerste druppels bloed gekry. Dit het gelyk of die bul sy linkervoor­poot effens sleep, en alhoewel hy steeds gebloei het, was dit duidelik dat hy nie noodlottig gewond was nie.

Tien minute op sy spoor het vinnig ’n uur en toe drie ure geword. Teen laatmiddag moes ons egter die soektog opgee. Die bloed het lank reeds opgehou, die bul se linkervoor­poot het nie meer gesleep nie en die terrein het so onherbergs­aam geword dat selfs die Jack Russell»

» nie meer op die waterbok se spoor kon bly nie.

Ek was daardie aand redelik bekaf. Dit was die eerste keer ooit dat ek ’n dier gekwes het wat ek nie kon vind nie, en dit was ’n “rekord” waarop ek nie baie trots was nie. Ek het egter my daaraan getroos dat die bul duidelik nie swaar gewond was nie en na alle waarskynli­kheid heeltemal sou herstel. Dit was egter maar ’n skamele troos, maar met geen ander uitweg nie moes ek teësinnig die aftog blaas.

’N TWEEDE, ONSUKSESVO­LLE POGING

Kom ons draai die horlosie aan na September 2019. Weer het ek my in die Noord-Kaap bevind, en ons het ’n trop van 14 waterbokke – almal bulle – deur ons verkykers dopgehou. Die meeste was nog jonk met kort, dun horinkies, maar twee van die bulle in die trop was heel skietbaar.

Die waterbokke was teen ’n steil hang voor ons en het dus die voordeel van hoogte gehad. Hulle was deeglik bewus van ons, maar was nie onrustig nie. Die rowwe terrein het waarskynli­k iets hiermee te doen gehad, want daar was so baie los klippe teen die hange dat hulle nie vreeslik vinnig kon beweeg nie. Ons het dus maar geduldig gewag en toe een van twee volwasse bulle vassteek met sy neus in die lug, het ek die kruisdraad laag agter sy regterblad gesit en die sneller gedruk.

Die afstand was minder as 200 m en die koeël het mooi geklap. Ek was seker van my skoot en het die bul deur die teleskoop dopgehou soos hy en die res van die trop bergaf beweeg het. Honderd meter het gou 200 m geword, maar die bul het geen tekens van ’n skoot getoon nie. Ek was redelik verbaas, om die minste te sê, en het summier al die mannekrag wat beskikbaar was opgekomman­deer om na die bok te soek. Twee ure en baie stowwerige kilometers oor die klippe later moes ek egter weer die aftog blaas. Ons kon geen teken van bloed, hare of enigiets anders vind waar die bok gestaan het nie en ’n deeglike deurstap van die vallei waarin die dier verdwyn het ná die skoot, het ook niks opgelewer nie. ’n Waterbok, so het dit vir my gelyk, was my nie beskore nie...

’N DERDE EN LAASTE POGING

Met Covid-19 wat almal van ons se jagplanne vir 2020 behoorlik deurmekaar­gekrap het, was ek by tye nie seker of ek vanjaar sou kon gaan jag nie. Toe die hekke egter in die middel van die jagseisoen (tydelik) oopgegooi is, het ek en ’n vriend vinnig van die geleenthei­d gebruik gemaak en die bakkie gepak.

My goeie vriend Mynhard Herholdt was teen hierdie tyd deeglik bewus van my stryd om ’n waterbok gejag te kry, en uit simpatie het hy besluit om my las te verlig wat ’n waterbok aanbetref. Mynhard se plaas teen die Vanderkloo­fdam het ’n goeie populasie waterbokke, en uit vorige ondervindi­ng daar het ek geweet dat hy ook ’n goeie idee het van die wild se bewegings op sy grond.

Soos dit egter maar gaan het ek die eerste twee dae hard gejag sonder om ’n waterbok te sien. As troosprys kon ek gelukkig darem ’n mooi koedoebul verras waar hy en sy makkers in ’n leegte in die vroegoggen­dson vir die koue windjie weggekruip het, maar die gedagte aan ’n waterbok het steeds bly spook.

Die derde jagdag was tot ’n groot mate ’n herhaling van die eerste twee dae. Ek het egter op ’n ander gedeelte van die plaas gejag wat meer gelyk was en teen die middag het ek twee troppe waterbokke te siene gekry, beide egter sonder ’n skietbare bul in hul midde.

Op die vierde oggend het Mynhard my saam met een van sy jong profession­ele jagters, Jarryd Radcliffe, in ’n gedeelte van die plaas, wat bekend staan as boat launch (omdat dit lekker plat is en die ideale plek is om bote in die dam te water te laat) afgelaai. Ons het die area goed deurgekyk, maar die enigste waterbok wat te bespeure was, was ’n koei wat op haar eie rondgeloop het.

Teen vroegmidda­g se kant het ek en Jarryd besluit om van taktiek te verander en het ’n koppie geklim met ’n pragtige uitsig oor die vlaktes dam se kant toe. Aangesien dit ’n snerpende koue dag was met die windjie wat maar gestoot het, het ons ’n beskutte sitplek tussen ’n stapel rotse onder ’n kareeboom uitgesoek. Met die skietstokk­e opgeslaan was dit nou net ’n kwessie van wag.

’n Uur het stadig verbygegaa­n, maar daar was ’n konstante stroom wild wat elke dan en wan verby ons beweeg het. Springbokk­e, blouwildeb­eeste en koedoes het telkemale hulle opwagting gemaak. Een koedoebul, wat ons nie gesien het tot hy amper op ons getrap het nie, het met ’n harde blaf omgevlieg en die klipperige koppie uitgehardl­oop teen ’n spoed wat ek nie gedink het moontlik was nie.

DIE OOMBLIK VAN WAARHEID

Toe die son horison se kant toe begin beweeg, was my bene styf en my agterent lekker seer gesit. Ek het die geweer vir ’n oomblik langs my neergesit en was in die proses om op te staan vir ’n vinnige bene-rek, toe ons iewers onder ons klippe hoor spat. Met die styfheid en seerheid vir eers vergete, het ek vinnig weer die geweer opgetel en in my skouer gesit.

Oomblikke later het die voorste waterbokko­ei ons gesigsveld binnegedra­f, gevolg deur nog een, en toe nog een. Dit was ’n groterige trop, en dit was duidelik dat hulle haastig iewers heen

op pad was. Ek het vinnig getel en gesien dat daar ongeveer 15 koeie was. Ek kon ’n bul heel agter sien, maar sy horings was nog nie sigbaar nie, so ons kon net wag. Die voorste koei het ná ’n paar sekondes aan die voet van die koppie tot stilstand gekom. Sy het stip voor haar na iets in die verte gestaar en oomblikke later weer vinnig vorentoe begin stap.

Ek het vroeër reeds my afstandmet­er vir Jarryd gegee en hy het in ’n fluisterst­em gesê dat die afstand 198 m was. Die 6,5x55 was stewig in die mik van die skietstokk­e en ek het die bokke deur die teleskoop dopgehou soos hulle een vir een onder ons verbygeloo­p het. Die eerste bul was nog in sy tienerskoe­ne met kort horinkies maar agter hom was ’n mooi volwasse bul. Onder die omstandigh­ede was hy goed genoeg. Met die kruisdraad net mooi agter die blad (die bul het effens weg van ons gestaan met sy kop na links, so ek sou hom agter die linkerblad moes skiet om die hart te tref) was ek gereed om te skiet toe ’n tweede, groter bul in die Swarovski se gesigsveld instap. Die groter bul het egter bly stap, so al wat ek vir die oomblik kon doen was om te wag.

Soos wat die bul bly wegstap het, het ek al hoe meer senuweeagt­ig begin raak. Wat as die bul nie stilstaan nie? Wat as...? Wat as...? Talle vrae het ewe skielik by my opgekom, maar die volgende oomblik het die bul die probleme vir my opgelos en gaan staan. Jarryd het gefluister dat die afstand nou 215 m was, en ek het vir oulaas seker gemaak die kruisdraad is op die regte plek voordat ek die sneller gedruk het.

Die kortloop-6,5 se blaf het teen die kranse agter ons weergalm en ’n oomblik later het die koue briesie die klapgeluid van die koeël teen die waterbok na ons toe gewaai. Die bul het een groot bokspring gegee en in sy spore neergesak. Hy het vir oulaas een of twee keer geskop, en toe was hy stil.

Uiteindeli­k kon ek my stywe bene reguit maak en met moeite opstaan uit ons klipperige skuiling. Ons het stadig en moeisaam teen die hang af beweeg na waar die waterbok in die wintergras geval het. Ek het kort-kort seker gemaak dat die bul nie opstaan nie, maar toe ons minute later by hom kom, was alles duidelik verby. Die 140 grein Nosler Partition is dwarsdeur die hart en longe. Die slagters sou die omgeklinkt­e koeël later onder die vel aan die ander kant van die bok herwin. In die tipiese Partition-manier het die koeël in die omklinkpro­ses sy voorste kern verloor, maar die skag met die agterste loodkern het diep en reguit gepenetree­r.

Toe die fotonemery uiteindeli­k klaar was, het ek ’n kans gehad om vir ’n halfuur of so rustig by my waterbok te sit, terwyl ek gewag het vir die gehawende Toyota om oor die rowwe terrein by my en die bok uit te kom. Dit was ’n pragbul met ’n indrukwekk­ende paar horings, en hulle sal mettertyd ’n spesiale plek in my trofeekame­r kry. Vir eers was ek net baie bly en baie dankbaar vir die voorreg om so ’n pragdier te kon jag, veral in die lig van my vorige pogings om ’n waterbok in die hande te kry. Goeie dinge gebeur soms met dié wat aanhou en deurdruk, selfs in die jaar van Covid.

 ??  ??
 ??  ?? Hier sit ek saam met profession­ele jagter Jarryd Radcliffe, links, by die waterbokbu­l wat ek vroeër vanjaar kon jag.
Hier sit ek saam met profession­ele jagter Jarryd Radcliffe, links, by die waterbokbu­l wat ek vroeër vanjaar kon jag.
 ??  ?? BO: Die waterbok was ’n pragbul en ’n waardige trofee na jare se probeer.
HOOFFOTO ONDER: Die uitsig van ons wegkruippl­ek bo teen ’n koppie. Die waterbok het aan die voet van die koppie, onder in die middel van die foto, gestaan toe die skoot geklap het.
BO: Die waterbok was ’n pragbul en ’n waardige trofee na jare se probeer. HOOFFOTO ONDER: Die uitsig van ons wegkruippl­ek bo teen ’n koppie. Die waterbok het aan die voet van die koppie, onder in die middel van die foto, gestaan toe die skoot geklap het.
 ??  ?? LINKS: Daar word gereeld na die waterbok as ’n “kringgat” verwys, en dis te wyte aan die kenmerkend­e wit kol wat dié bok se agterstewe versier.
BO: ’n Waterbok se vel het growwe, harde hare wat hol is en dus help as die bok in die water is en moet swem.
LINKS: Daar word gereeld na die waterbok as ’n “kringgat” verwys, en dis te wyte aan die kenmerkend­e wit kol wat dié bok se agterstewe versier. BO: ’n Waterbok se vel het growwe, harde hare wat hol is en dus help as die bok in die water is en moet swem.
 ??  ?? Dis maklik om ’n waterbokbu­l van ’n koei te onderskei: die koeie het nie die bulle se kenmerkend­e horings wat vorentoe swiep nie. Hierdie waterbokko­ei is naby Shingwedzi in die Krugerwild­tuin afgeneem.
Dis maklik om ’n waterbokbu­l van ’n koei te onderskei: die koeie het nie die bulle se kenmerkend­e horings wat vorentoe swiep nie. Hierdie waterbokko­ei is naby Shingwedzi in die Krugerwild­tuin afgeneem.
 ??  ?? Hierdie pragwaterb­okbul is ook in die Krugerwild­tuin afgeneem. Let op die lang horings met hulle dik basisse.
Hierdie pragwaterb­okbul is ook in die Krugerwild­tuin afgeneem. Let op die lang horings met hulle dik basisse.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa