DIE LEKKER VAN MESMAAK
’n Kuns amper so oud soos die mens.
'n Kuns amper so oud soos die mens.
Die mesmaak-kuns is so oud soos die mensdom self en die eerste metaalmesse is gevind in uitgrawings waarvan die oorsprong terugdateer na die Brons Era, so 4 000 jaar gelede. Dit was nog altyd – en sal altyd – in die mensdom se toekoms die mees basiese, maar seker ook die algemeenste en noodsaaklikste stuk gereedskap bly.
Ek het in die 1980’s as tiener my eerste mes in my pa se motorhuis gemaak. Die eenvoudige stuk sagte staal het na baie ure se sweet na ’n lem begin lyk, maar ek het geen manier gehad om die lem te verhard nie. Dit het dus baie vinnig stomp geword tydens my tiener-ekspedisies in die veld.
Sedertdien wou ek dit nog altyd ordentlik doen en het in Julie 2019 ’n vastelem-mesmaakkursus by Gawie en Thinus Herbst se akademie in Pretoria bygewoon. Beide hierdie manne is lede van die Mesmaker-gilde van Suid-Afrika en het tussen hulle ’n horde toekennings verwerf. Die kursusse word oor naweke aangebied; vroeg Vrydagoggend tot laat Saterdagmiddag. Dit is ’n inleidende kursus wat daarop gemik is om jou die basiese beginsels en tegnieke te leer, asook die gepaardgaande veiligheidsaspekte.
Om al die tegnieke en metodes te leer, sal seker weke neem, dog met Gawie en Thinus se wakende oë en hulp is dit moontlik om die belangrikste aspekte te bemeester in die tyd wat toegelaat word. Al die kursusmateriaal word in boekformaat aan elke aspirant-mesmaker gegee, maar Gawie verwys selde daarna en verkies om met praktiese illustrasie die boodskap oor te dra.
EK MAAK MY EIE MES
So, hoe gaan ’n mens te werk? Elke kursusganger ontvang ’n stuk N690 vlekvrye staal wat reeds met laser in die basiese vorm van die mes gesny is. In hierdie geval was dit ’n mediumgrootte jagmes. Die N690 is ’n ou bekende onder mesmakers en ’n ideale staal vir dié tipe toepassing. Die eerste stap is om te merk waar die “bolster” of versterker aan die hef gaan vaskom, asook om die gaatjies te merk vir die vlekvrye staal-pennetjies wat die bolster aan die “tang” of hef vashou. Die rede hiervoor is omdat die “ricasso” se lyn en posisionering bepaal word deur waar die bolster vasgesit word – ’n mens kan die ricasso skuif deur afmaling, maar die bolster se posisie is vas as die gate eers geboor is.
Tweedens word die tang gemerk vir die gaatjies van die vlekvrye staal-pennetjies, wat die hefmateriaal aan die tang sal heg – dit dien as ’n versterkingsmeganisme maar het ook estetiese waarde. Die gaatjies word dan geboor vir al hierdie penne – so 0,1 mm groter as die pennetjies se grootte. Die rede hiervoor is dat wanneer die lem verhard word, die staal effe krimp en die gaatjies ’n titseltjie kleiner word, wat kan maak dat die penne nie meer deur die gat sal gaan nie. Selfs onverharde
N690-staal is reeds baie hard en boorpunte van kobalt word gebruik. Die enigste tyd wanneer deur die staal geboor kan word, is vóór verharding. Ná verharding sal nie eens kolbalt-boorpunte deur die staal kom nie.
’n Stuk staal in die vorm van ’n mes raak natuurlik ’n gevaarlike wapen as die boorpunt hom vasgryp, dus het die Herbstboormasjien spesiale penne in die basis se tafel om te verseker dat indien die mes begin tol, hy vinnig vasgevang word. Nieteenstaande hierdie veiligheidsmeganisme moet ’n mens jou gesonde verstand ook gebruik... Ek was nie soseer bekommerd oor myself nie, maar wel oor die veiligheid van een van my vriende se tienerseun wat uit die Kaap gekom het om die kursus saam met my te doen, en vir wie ek verantwoordelik was in sy pa se afwesigheid.
Met die gaatjies klaar geboor, was dit tyd om met die hulp van ’n ontbramer die klein brame aan die rante van die gate te ver-»
Ek dink die geheim lê in die stap-vir-stapbenadering wat gevolg word, asook die hulp om jou foutjies reg te maak soos wat ons vorder.
»wyder. Weereens het Gawie al die werk gestop en presies aan elke kursusganger verduidelik hóé om dit te doen, aangesien dit net so gevaarlik kan wees as ’n mens verkeerd te werk gaan. Die basiese beginsel met maalwerk is dat jy heeltyd beheer moet uitoefen oor die lem en téén die draairigting, wat ná jou draai, van die slypband of -skyf moet werk. Sodoende is dit redelik maklik om die lem vas te hou, maar as die band of skyf weg van jou draai en hy gryp die lem, het jy ’n groot probleem (g’n mens sal die lem kan vashou as die band hom gryp nie en dit word ’n gevaarlike projektiel).
Volgende het ons die maallyne op die mes uitgemerk met behulp van “merkblou” en ’n skerp els. Om ’n lem te holslyp of “hollow grind”, sit nie in elke ou se broek nie en is seker die stap in die mesmaakproses wat die meeste vernuf en aanvoeling verg. Ons het op goedkoop, sagtestaal-lemme geoefen nadat Gawie eers vir ons verduidelik en gewys het hoe om te maak.
Weereens is die rigting van die belt se draai uiters belangrik – ’n mens hou die mes met sy snyvlak na bo en druk hom teen ’n belt wat afwaarts na jou toe draai. Sodoende, as die belt die lem gryp, gooi hy hom grond toe en nie in jou gesig nie. Dit is egter senutergend – een verkeerde beweging en die (duur) lem is daarmee heen... Ek het stadig te werk gegaan; ’n bietjie op ’n slag gedoen en gereeld die lem in water afgekoel. Nadat ek so 90 % van die nodige maalwerk gedoen het, het my moed my begewe toe ek dink dat al hierdie werk verniet sal wees as ek met die finale lyntjies en snyvlakdikte sou droogmaak – ek wou graag ’n baie mooi mes huis toe neem! Thinus het die uitdrukking op my gesig soos ’n boek gelees en aangebied om die finale bietjie slypwerk te doen. Met sy jare se ondervinding het hy so een of twee plekkies ook vir my reggemaak wat my ongeoefende oog nie raakgesien het nie en die eindreslutaat was so te sê perfek.
VERHARD DIE LEM
Volgende aan die beurt was die verharding van die lem. Gawie het al die kursusgangers se lemme geneem en gedemonstreer hoe om dit te doen, tesame met ’n omvattende verduideliking van die moets en moenies.
Die lemme word toegedraai in ’n stukkie koerantpapier (wat natuurlik die suurstof om die lem opbrand sodat dit nie die proses beïnvloed nie), asook ’n spesiale foelie. Hulle word dan verhit (afhangend van die spesifieke staal se verhardingsprotokol) tot so 1 060 ºC. Dis daar gehou vir ongeveer 18 minute en toe onmiddellik in ’n spesiale olie (Genheat 22) gedruk. Sodra hulle uit die olie kom, word hulle geïnspekteer om te sien of alles reguit is en ’n finale buigie of twee gegee terwyl die lem nog redelik warm is, net om seker te maak. Die verharde lemme word dan gebrei deur hulle ongeveer ’n uur lank teen 180 ºC te bak – dit laat die struktuur van die metaal die regte vorm aanneem en verseker die korrekte sterkte en buig-saamheid van die lem.
Ons messe het nou na messe begin lyk, en die volgende stap was om die ricasso en tang skoon te maak, asook om die slypwerk te doen. Die finale holslyp verwyder alle krappe wat deur die vorige (meestal growwer) belde agtergelaat is. Die mes word dan met die hand geskuur. In hierdie geval het ons messe met ’n spieëlafwerking gemaak en eers met 600 gruis-waterskuurpapier begin en met 1 500 gruis-waterskuurpapier geëindig. Dit is baie belangrik om seker te maak dat die vorige skuurpapier se merke almal verwyder is voordat daar aanbeweeg word na ’n fyner papier.
Volgende word die bolsters aan die tang vasgesit. Ons het hulle uit vlekvrye staal (316) gemaak terwyl ons lemme in die oond was. Basies behels dit om alle oppervlakke gelyk en eenvormig te kry sodat dit perfek teen die tang pas en daar nie onooglike gapings is nie. Slegs die voorkant van die bolster word sy finale afwerking gegee voordat hulle met die pennetjies (ook 316) aan die tang vasgehamer peen word – ook ’n proses wat redelike konsentrasie verg. Die vorm van die bolster aan sy buitekante word dan met die belt- en skyfskuurder gedoen. Die idee is dit moet só gedoen word dat die pennetjies nie in die finale produk sigbaar is nie.
AMPER ’N MES
Die produk het nou soos ’n mes begin lyk, en die volgende groot stap was om die handvatsels aan te sit. Ons het Dymondwood gebruik en volgens Gawie is dit ’n baie goeie materiaal om mee te werk. Dit is ook duursaam en prakties. Dis van kritieke belang dat die oppervlakke teen die bolster aan die voorkant en die hef se plat kante, heeltemal plat is en dat die gaatjies vir die vlekvrye staal-pennetjies op presies die regte plek
geboor word.
As dit korrek klaar gedoen is, word die hefmateriaal aan die hef geplak met behulp van ’n epoksie-mengsel wat binne ’n paar minute droog word. Die volgende stap is dan om die hef sy vorm te gee. Weer word die verskillende slypmasjiene gebruik asook skuur met die hand, eers grof en dan al hoe fyner skuurpapier, totdat die afwerking seepglad is. Tydens hierdie proses word alle oppervlakke wat nie geskuur moet word nie met maskeerband toegedraai om dit te beskerm.
Die mes word dan gepoleer – weereens ’n potensieel gevaarlike proses en ’n mens moet kophou en ’n bestendige hand gebruik. Laastens word die mes op die bandslypmasjien tussen die wiele skerpgemaak. Die draairigting word vir hierdie proses omgedraai sodat die gedeelte van die belt wat jy gaan gebruik, wegdraai van jou af. Eintlik word daar net ’n snyvlak gemaak – die finale skerpmaak kan met ’n steen of spesiale skerpmaakmasjiene gedoen word.
Thinus het ons toe gewys hoe om ’n embleem (wat ons elkeen kon kies) op die lem te ets, wat natuurlik iets persoonliks van die maker op die lem sit. Party van ons het gekies om die bolsters te “stippel”, wat ’n pragtige afwerking daaraan gee.
DIE FINALE RESULTAAT
Die resultaat? ’n Pragtige mes, al moet ek (en al die ander kursusgangers) self so sê! Ek het nie gedink dat dit vir ’n beginner moontlik sou wees om dit reg te kry in net twee dae nie, maar onder die Herbst-manne se hande en leiding was dit wel so. Ek dink die geheim lê in die stap-vir-stap-benadering wat gevolg word, asook die hulp om jou foutjies reg te maak soos wat ons vorder. Gawie en Thinus is vriendelik, baie goed met wat hulle doen, en mev. Herbst se ontbyte en middagetes is heerlik.
Elke kursusganger wat die kursus voltooi, kry ’n sertifikaat asook ’n leerskede vir sy of haar mes. Benewens die mesmaakkursusse vervaardig hulle ook ’n reeks mesmaaktoerusting en bied spanboukursusse aan. Ek beveel só ‘n kursus ten sterkste aan vir elke beginner wat belangstel om sy eie mes te maak.