SA Jagter Hunter

DIE BULLE VAN BAKLYKRAAL

Hierdie bulle val nie sommer net in jou skoot nie.

- PIETA OOSTHUIZEN

Hierdie bulle val nie sommer net in jou skoot nie.

Waar Donald, my gids en spoorsnyer, sy voete optel, sit ek myne in die voetpad neer. Die ruitpatroo­n van sy stewelspoo­r, wat ek al uit my kop ken, word byna dadelik deur my velskoensp­oor uitgewis. My vellies is teen dié tyd rooi gekleur van die stof, maar die bulle van Baklykraal bly nog buite sig. Ek kyk waar ek my voete neersit, want geen takkie mag kraak of klippie mag onder my voete knars nie. Twee treë in Donald se voetspore, dan vinnig opkyk en die digte haak-ensteek-bos rondom my bespied. Dan weer twee treë in sy voetspore, opkyk, rondkyk, wydkyk.

Daar is geen luggie wat trek nie. Net soms styg ’n effense stofwolkie op waar ek my voete neersit, wat weer vinnig grond toe dwarrel. ’n Sweetdrupp­el gly stadig langs my regterwang af en vat kortpad deur my drie dae oue stoppelbaa­rd. Die son staan stil oor die digte Alldays-bosveld rondom my. Die handpomp skreeu geluid van vroegoggen­d se bosfisant is nou stil en die helder note van die tortelduif het vervaag tot agtergrond­musiek. Al waarvan ek nou bewus is, is die suisgeluid in my ore en die vars koedoespor­e voor my in die voetpad.

HARDE STAPJAG

Ek bevind my op Baklykraal, 20 kilometer anderkant Alldays in Swartwater se rigting. Hierdie wêreld, met sy granietkop­pies, mopanie, kremetart en hardebos het ’n baie spesiale bekoring, veral vir die jagter wat graag te voet wil jag. Dit bly egter ook ’n harde, warm, droë wêreld in die jagseisoen. G’n wonder die bulle van Baklykraal val nie sommer in jou skoot nie; jy moet werk daarvoor. Die baas van die plaas, Frik van Heerden, sê altyd dat jag op Baklykraal hard en uitdagend is. Daar is geen ander manier as om voet te slaan van voor sonsopkoms tot laatmiddag as jy ’n kans wil staan op sukses nie. Miskien is dié hardekwasu­itgeslape en skrik-vir niks-houding van die twee bulle na wie die stuk grond in die vroeë 1900’s vernoem is, steeds deel van die koedoe- en waterbokbu­lle op die plaas.

Vroeër dae was daar ’n poskantoor­tjie waar die oorspronkl­ike woonhuis vandag staan en volgens oorlewerin­g het twee jongmanne by ’n sekere nooi wat daar gewerk het, gekuier. Sy kon egter nie tot ’n besluit kom aan wie van dié twee sy haar hart wil gee nie. Die hele gemeenskap het haar gemaan om haar keuse te maak en daar word toe besluit om ’n boksgeveg tussen die twee warmbloedi­ge bulle te hou. Die wenner sou die nooi kry.

’n Datum vir die geveg is vasgemaak en ywerige helpers het ’n bokskryt in die beeskraal aanmekaar getimmer waar die twee manne mekaar met die vuis getakel het. Blykbaar het hulle tot groot vermaak van die toeskouers mekaar pimpel en pers geslaan sonder dat daar ’n werklike wenner was. Die uiteinde van die saak was dat die nooi só afgesit was deur hierdie gebeure, dat sy nie een van die twee gevat het nie. Vandaar die naam, Baklykraal.

’N UITGESLAPE BUL

Die koedoebul voor my in die voetpad is net so uitgeslape soos daardie twee vegtende bulle van destyds. Sy spore en mis is vars en sy blaf klink elke keer nader as die vorige keer, maar die bul self het ek nog nie met ’n oog gewaar nie. My oë is al moeg gekyk vir chevron-strepe in die sekelbos, maar sien is min. My hande wat die geweer vashou is natgesweet, en ek moet kortkort my greep verander sodat ek nie onverhoeds deur die krulhoring betrap word nie. My keel is droog en die khaki-broek is besig om die binnekant van my bobene stukkend te skaaf.

Ek is nou al vir drie dae op die bulle se spoor en hulle ontwyk my telkens, maar ek wil nie die kans om een plat te trek laat verbygaan nie. Veral nie toe ’n skielike gewerskaf so 100 treë vorentoe in die bos, regs van die voetpad, my ore bereik nie. Dadelik vee ek my natgeswete hande aan my broek af en maak seker van my greep op die geweer. My linkerhand vou gemaklik om die loop van Frik se

“Koedoe, skiet!” fluister hy dringend, sy oë groot. Ek moes mooi kyk om die twee koedoebull­e voor ons in die bos te gewaar.

Brno en my regterhand se snellervin­ger lê net buite die snellerbeu­l, reg vir vinnig skiet. In my verbeeldin­g sien ek al hoe daardie dik nek met die sierlike stel horings agteroor buig om die mopaniebla­re by te kom.

Donald steek eensklaps vas, die ene konsentras­ie. Met sy skoenpunt skop hy liggies in die voetpad. Die rooi stoffie word stadig deur die windjie, wat net effe roer, in ons rigting gedra. My hart begin dadelik vinniger klop. Is dit die kans waarop ek al vir drie dae lank wag en is dit die 60 duim-bul op wie se spoor ek al sedert 2012 loop? Die vrae maal onwillekeu­rig deur my kop terwyl ek die uitwerking van die gewerskaf voor ons in die bos op Donald se gesig dophou. “Kudu, big bull,” fluister hy saggies en met sy vinger voor sy mond beduie hy vir my om baie versigtig en stil te beweeg. My spoorsnyer self tel nou baie stadig sy voete op en sit dit neer terwyl hy die bos fynkam in die rigting waarin ons die geluide hoor. Sy gebukkende houding laat my glo dat die bulle van Baklykraal nie te ver voor ons is nie en ons mekaar binnekort van aangesig tot aangesig gaan sien.

Maar helaas. Die bulle is steeds agter die digte bosgor- »

»dyn van hierdie geheimsinn­ige haak-en-steek-wêreld verskuil. Kort voor lank is ons egter 200 meter weg van waar ons die geraas in die bos hoor en ek besluit reeds dat ek hierdie keer weer ’n bloutjie geloop het. My regterhand is op die knop van die slot, toe Donald skielik vassteek en met sy uitgestrek­te regterarm skuins voor hom in die bos beduie. “Koedoe, skiet!” fluister hy dringend, sy oë groot. Ek moes mooi kyk om die twee koedoebull­e voor ons in die bos te gewaar. Hulle beweeg in enkelgelid, sowat 100 treë skuins voor ons, stadig weg van ons af.

In een vloeiende beweging bring ek die geweer na my skouer om aan te lê. Ek vind hulle egter nie in die teleskoop nie en laat sak die geweer om met die blote oog seker te maak waar hulle op dié stadium half verskuil agter ’n jong mopanieboo­mpie is. Asof uit eie beweging vind die kiaatkolf weer die pad na my skouer en dié keer stap die twee bulle tot binne-in die gesigsveld van die teleskoop. Hulle onderbreek egter nie hul statige stappie nie en waar hulle op die wal van ’n droë rivierloop stap, gaan hulle binnekort teen die wal afbeweeg en dan gaan ek hulle nie weer sien nie. Dat hulle op hul hoede is, is vir seker, maar hulle is glad nie bewus van ons nie.

Vir ’n oomblik haak die kruishaar van die teleskoop agter die voorste bul se kop vas en ek wonder of ek nie maar ’n kans moet vat, so in die stap nie. My vinger krul al hoe stywer om die sneller en net toe ek wil skiet, steek die voorste bul skielik vas. Met sy kop na links gedraai, kyk hy terug oor sy skouer in my rigting. Dit is net die oomblik waarop ek gewag het en die skoot gaan amper outomaties af. Alles kom in daardie oomblik bymekaar en ek hoor die skoot in my ore klap. Oombliklik is die voorste koedoe weg en die agterste een spring skielik om en begin verward in ons rigting hardloop. Blitsvinni­g ruk ek die slot oop en voordat die doppie op die grond val is die oorgehaald­e geweer weer vas teen my skouer. Die koedoebul pyl reg op ons af, swenk skielik weg en verdwyn uit ons gesigsveld. Vir ’n oomblik is sy hoewegedre­un en gekraak van die bosse nog hoorbaar en toe is alles skielik stil.

Twyfel oor my skoot kom onwillekeu­rig by my op aangesien ek duidelik die koeël hoor klap het, maar nie die bok sien lê toe ek terugkyk in die rigting na waar die voorste bul gestaan het nie. Die breë glimlag op Donald se gesig en sy uitgestrek­te hand van gelukwense vertel egter ’n verhaal van sy eie. Op ’n vinnige drafstap lê ons die 100 treë na die wal van die droë rivierloop af en daar in ’n oop kolletjie tussen die skaarsbebl­aarde haak-en-steek-bosse lê een van die pragbulle van Baklykraal waar hy in sy spore omgeval het. Die strale van die laatmiddag­son kleur alles in goud en skilder ’n prentjie wat my altyd sal bybly.

Dit is nie die 60 duim-bul nie, maar dit is ’n mooi bul. Sy horings maak besonder diep draaie en sy donker velkleur beklemtoon die wit strepe op sy lyf en die maanhare op sy rug mooi. Oor ’n paar jaar sou hy definitief die bul onder die bulle van Baklykraal se koedoetrop gewees het. Dat ek hom kon uitoorlê – en dit nog te voet ook – het my net weer onder die indruk gebring van al die baie voorregte wat ons as jagters geniet, maar ook van die dure verantwoor­delikheid om deur volhoubare benutting ons erfenis vir die nageslag te bewaar.

 ??  ?? Ná drie dae se harde jag kon Pieta uiteindeli­k ’n koedoebul op Baklykraal plattrek.
Ná drie dae se harde jag kon Pieta uiteindeli­k ’n koedoebul op Baklykraal plattrek.
 ??  ?? HOOFFOTO: Die Alldays-bosveld verseker dat jag op Baklykraal hard en uitdagend is.
HOOFFOTO: Die Alldays-bosveld verseker dat jag op Baklykraal hard en uitdagend is.
 ??  ?? Hierdie wêreld met sy kremetartb­ome, granietkop­pies en hardebos hou ’n spesiale bekoring in vir jagters wat graag te voet jag.
Hierdie wêreld met sy kremetartb­ome, granietkop­pies en hardebos hou ’n spesiale bekoring in vir jagters wat graag te voet jag.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa