SA Jagter Hunter

’N DOGTER SE TYD VIR JAG

Jagherinne­ringe van onskatbare waarde.

- SUZAAN BURT (NEÉ STEYNBERG)

Jagherinne­ringe van onskatbare waarde.

Ek dink altyd terug aan my pa, Dirk, se geweervers­ameling wat hy gehad het toe ek nog ’n klein dogtertjie was, en ons in Natal gewoon het. Tóé het ek nog nie my pa as ’n jagter geken nie; dit was maar net gewere en my pa.

Met my broer was dit anders. Hy is so 6 jaar ouer as ek en het daardie jare met sy windbuks gepronk. So het hy op ’n keer teruggekom van een van sy “jagtogte” af en vir my en my sussie sy prooi gewys. Ons kon nie juis veel daarvan uitmaak nie – behalwe dat dit een of ander voëltjie was – want hy het dit pikswart oor die kole gebraai. Jy sê mos nie nee vir jou ouer broer nie en dus was ons verplig om dit saam met hom te eet. Maar hy was ook nie aldag so slim nie en het met dié einste windbuks ’n gat deur sy eie groottoon geskiet. Vandag is hy wel ’n bekende profession­ele jagter, nes ons pa.

Ek het net 8 jaar oud geword, toe ons na die Oos-Kaap verhuis. Daar het my pa vir hom ’n geweerkame­r uit klip gebou. Dit was ’n wonderlike vertrek vol pragtige gewere waarvan die meeste deel was van sy Mauservers­ameling. Die kamer se mure was vol jag- en visvangfot­o’s, ketties, ou spiese en pyle en boë. Daar was ook ’n platespele­r waarop hy die musiek van Dean Martin en Neil Daimond gespeel het. Dit was ’n kamer gevul met diere se velle, die reuk van geweerolie, en stories van

jare se jagtogte en opwinding.

Dis waar ek baie lesse geleer het rakende die “moets” en “moenies” van jag. My pa, die jagter, het in dié kamer vir my ’n werklikhei­d geword. Dít en elke keer wanneer hy ná ’n paar dae se jag tuiskom met bokke wat reeds verwerk is in biltong en ander vleissnitt­e. So ook die rolle film wat ontwikkel sou word en dan die foto’s wat in fotoalbums geplak, of in rame teen die mure gehang is.

Naweke het my pa ons na leë blikkies laat teikenskie­t, eers met die windbuks en later met die .22. Ons het ook baie met ’n kettie geoefen, maar daarmee het ek nou nie juis sukses behaal nie. Daar is gereeld patryse in die omgewing gejag en my pa het kliënte uitgeneem met sy patrysjagh­onde, oftewel pointers. As jong dogters is ons nooit saamgenooi op hierdie jagtogte nie, maar ek het dikwels my pa vergesel as hy voor die tyd swerms gaan soek het om te verseker dat ’n dag se jag nie leë hande oplewer nie. Ons was wel gelukkig genoeg om saam kleiduif te skiet op die plaaslike meent. Hy het ons geleer hoe om self die haelgeweer te herlaai en ná die tyd moes ons die meent verken vir enige kleiduiwe wat “ongedeerd” daarvan afgekom het. Ons het ook elkeen ’n beurt gekry om die geweer ná die oefensessi­es skoon te maak.

Ek was 34 toe ek die eerste keer as jagter saam met my pa jagveld toe is. Dit was op ’n jagplaas net anderkant Cookhouse en my eerste jaggeweer was ’n Musgrave .270. Die gevoel van pure opwinding en adrenalien wat ek gehad het toe ek op my eerste bok aanlê, is vandag nog presies dieselfde. Die ervaring van in die donker en koue opstaan; die kilometers se loop agter diere aan; die geruislose bekruip; die uiteindeli­ke skoot op die dier en dan die kampvuur in die aand, maak ’n jagtog onvergeetl­ik. ’n Mens kan dan nie wag om dit weer te ervaar nie.

DAAR WAS OOK FOUTE

Dit gebeur maar selde dat iemand sal bieg oor hul blapse in die jagveld, maar soms is dit goed vir jong jagters om te hoor. Net dalk leer hulle daaruit, of lag ten minste lekker saam. My eerste aanlê op ’n bok kon katastrofi­ese gevolge gehad het, as my pa nie dadelik my fout raakgesien het nie. Ons het vroegoggen­d die veld ingeslaan, gepanster teen die koue. Niemand het gepraat nie. Ons het geloop en geloop. Ek het begin wonder waarom ons nie die voertuig gevat het nie, maar het dit nie gewaag om te kla nie. Wit wasem het nog uit ons monde geborrel toe ek al van my eerste laag warm klere ontslae raak.

Ons het in die verte sebras hoor blaf en ek was hoopvol dat ons binnekort op ’n paar bokke sou afkom. Dit was reeds diep in die jagseisoen en die diere was maar skrikkerig. Uiteindeli­k het ons ’n trop rooibokke gesien, maar die wind het van agter gewaai en ons moes om die berg tot heel bo loop, sodat hulle ons nie ruik nie. Amper bo het ons begin kruip tot teen die rant. My hart het in my keel geklop en my bene het gebewe van moegheid. Ek het oor die rant geloer en die bokke naby ons sien staan. Hulle was salig onbewus van ons teenwoordi­gheid.

My pa het fluisteren­d vir my gesê op watter bok om te mik. Ek het ’n klip nadergetre­k om oor aan te lê, maar kon nie dooierus vind nie en kry toe ’n groter klip. Nadat ek die bok in my visier gevind het, laat weet ek my pa ek reg is om te skiet. Hy het van agter af oor my skouer geloer en aan my been geklap. “Daar is ’n klip voor die punt van jou loop,” het hy dringend gefluister. Natuurlik het ek van oor tot oor gebloos, maar teruggeflu­ister: “Ek weet, ek het gesien.”

Ek het weer aangelê, die kolf styf teen my skouer gedruk en stadig ingeasem. Die skoot het geklap en daar lê my eerste rooibokooi. My pa het my gelukgewen­s en my hand geskud voordat ons bergaf is na die bok toe.

Dit was ’n netjiese bladskoot en my pa het my ’n stywe drukkie gegee. Ek was in my skik, maar dink steeds aan wat kon gebeur het as ek die sneller gedruk het terwyl die klip in die pad was.

Later die aand om die vuur wou almal hoor van die dag en ek was gretig om my opgewonden­heid te deel, maar soos dit is, het my pa nie van my groot blaps vergeet nie en hy het sy kommentaar daaroor gelewer. “Ja jinne,” is al wat ek kon sê.

’N NUWE GEWEER

En toe verkoop my pa die .270. Ek was verpletter en het geweier om weer te gaan jag. Eendag roep my pa my en gee vir my sy langloop-7 mm Mauser. Die geweer is so swaar dat ek in ’n staande posisie skaars vir ’n sekonde of twee kon aanlê. Ek het bekaf gebly en nie eens beter gevoel toe ek op die skietbaan die krag en akkuraathe­id van die 7 mm ervaar nie. Later, ná ’n paar kilometers se loop en bekruip met dié swaar geweer, was ek nog minder beïndruk.

My eerste jagtog met die 7 mm Mauser het uiteindeli­k aangebreek en nie lank nie of ek lê oor skietstokk­e aan op ’n swartwilde­bees. Die skoot het geklap en my ore het gesuis, maar die swartwilde­bees en sy trop het nog gestaan. Ek het herlaai, en weer en weer geskiet. Ná my derde skoot het ek opgegee en my pa ongeduldig gevra om die skoot te neem. My pa se skoot het geval, maar die bok nie. Teen dié tyd het die trop begin hardloop en ons het besluit om net daar ’n teiken te prakseer sodat my pa kon sien wat fout is met die geweer. Hy moes dit uitsorteer, want ek het mos gesê ek wil nie met die gweer jag nie.

Die eerste toetsskoot het sy merk sonder enige probleme getref. Toe was dit my beurt. Met my onderlip wat nog op die grond rondsleep, het ek aangelê en die sneller gedruk. Uit pure ongeduld het ek nie die kolf stewig in my skouer gedruk nie en die geweer het my tussen die oë en onderstebo geskop. Ek het warm bloed in my keel voel afloop en met my hand kon ek agterkom dat my neus skeef sit. Pa moes hom regdruk en ek het vlot Frans gepraat! Later sou ons uitvind dat die geweer nie die sondebok was nie. Ek het ’n meter gebruik om die afstand na die trop te meet en dit het sowat 200 m gelees. Net voor ons aanbeweeg het, ná al die misskote en gebreekte neus, het my pa besluit om die afstand te meet – dit was 400 m. ’n Takkie of iets voor die meter moes my lesing beïnvloed het.

Op pad terug kamp toe was ek nog in pyn en skok. Pa het gesê ek moet in sy jagsak kyk vir ’n soetigheid. “Het Pa nie iets sterker as sjokolade nie?” Maar daarvoor moes ek wag tot by die jagkamp. Ek het darem die volgende oggend my eerste swartwilde­bees platgetrek, en daarna was ek en “my” 7 mm Mauser onafskeidb­aar.

ELKE JAG HET SY PRYS

Omdat ek nou as jagter my pa vergesel het, moes ek ook vir my eie jagte betaal en dis ’n duur storie! Die dikte van my beursie het die bok bepaal, daarom was trofeejag, elande of buffels my nie beskore nie. Ek het van die vleis bewerk vir eie gebruik, maar het dit meestal aan slaghuise verkoop om vir die jagte te betaal. Dit het daartoe gelei dat my skootkeuse só moes wees om die minste vleis te mors. Sonder om my pa hieroor in te lig, het ek besluit op die ondenkbare – kopskote. Ná my eerste suksesvoll­e kopskoot het my pa net die bok sien val, en gevra: “Waar het jy gemik?” Toe ek antwoord dat dit ’n kopskoot was, het hy gesê dis onnodig en kan maklik tot ’n kwesbok lei. Ek het nie geluister nie, maar het ook nooit ’n bok gekwes nie. Selfs Pa was elke keer in sy skik met die akkuraathe­id van die skoot.

Menige wonderlike jagtogte saam met my pa het gevolg. Nou is daardie tyd verby, maar ek het dit darem ervaar en sal dit nooit vergeet nie – dankie Pa!

 ??  ?? Ek het hierdie swartwilde­bees met my 7 mm Mauser gejag.
Ek het hierdie swartwilde­bees met my 7 mm Mauser gejag.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa