SA Jagter Hunter

AMPER KOOP EK ’N MARTINI

- ATTIE PELZER

Vroeg in 2019 koop ek ’n ou .22 Krico uit ’n vriend se boedel. Die geweer moes mooigemaak word en Dup doen vir my die werk. Die geweertjie staan sommer in sy werksafdel­ing by die handelaar, want sien, Dup is die handelaar se wapensmid.

Ek kom gereeld daar om die vordering dop te hou en ek geniet dit baie. Met die wapenlisen­sie se aansoek kom ek agter die .22’tjie het ’n kluis nodig. Geen probleem, ek koop hom. Later het die geweertjie ’n teleskoop en ’n knaldemper gekry, en alles moontlik word aan hom gedoen. By die huis kyk ek na die leë kluis en reken daar is te veel plek vir net een geweer. Ek koop toe ’n ou .308. Dup het toe albei my gewere en ek ’n leë kluis. Later het ek twee boodskappe op my selfoon dat my aansoeke deur die Manne in Blou ontvang is.

Die gewag vir die lisensies frustreer my sodanig dat ek aan ’n Martini-Henry as ’n derde geweer begin dink. Ek het as jongmens ou gewere versamel, maar het later alles verkoop toe die land se nuwe lisensiest­elsel ingestel is. Gelukkig besef ek betyds dat ek ook vir die Martini ’n lisensie moet hê en sy doppe is skaars en dan moet ek ook nog ’n swartkruit­permit kry.

Ek het nog so geproe-proe aan die Martini toe ek in SA JAGTER/HUNTER ’n spesiale aanbod van ’n handelaar raaksien waarin ’n 9,3x62 vir ’n billike prys aangebied word. Dit is mos amper ’n Martini, maar net een met ’n grendel en magasyn. Later dieselfde dag is my geld in die handelaar se kluis en in my kluis was daar darem al die .22.

Toe begin ek alles wat nodig is, koop: ’n laaistel met koeëls en doppe, en matrysstel­le vir die .308 en 9,3 en ek begin die wetenskap van herlaai bestudeer. Ek leer by almal en lees stokou SA JAGTER/HUNTERtyds­krifte wat ander wil weggooi. En ek kon nie wag vir die nuutste uitgawe om te verskyn nie.

Na baie maande se wag kry ek toe die SMS dat die .308-lisensie vir my wag. My ou lyf van 72 somers was in ’n rekordtyd met lisensie in die hand by die handelaar en skielik is ek die trotse eienaar van ’n .308.

Voor Kersfees 2019 ontvang ek ’n SMS wat sê die geregsmann­e weet van my 9,3 en op 25 Maart vanjaar spring ek amper deur die dak toe my selfoon vir my vertel dat my lisensie goedgekeur is. Vandag is 3 Augustus en ek wag nog. Dis al amper ’n jaar terug wat ek gedroom het van ’n Martini en nou wag ek vir my 9,3x62-lisensie. Hoeveel patrone het ek al in die lang nagte “gelaai” vir die gweer en steeds wag ek vir my lisensie. Die ouderdom maak die wakkerlê-tye in die nag lank, maar die “herlaai” in die donkerte maak die nagte kort. My dank aan die SAPD, want sou ek my .308-lisensie eerder gekry het dan was daar nie nou ’n 9,3 op pad nie. My grootste dank kom Jaco toe wat so geduldig al my vrae by die winkel beantwoord het en my grootste vrees is dat my liewe vroutjie na my dood die gewere gaan verkoop vir die pryse wat ek gesê het dit my gekos het.

Terwyl ek my laaste lisensie, wat reeds in Maart goedgekeur is, nog nie het nie, begin ek wonder hoe sal ’n 6,5 Creedmoor in my versamelin­g lyk. Ek wil net vir die polisie sê, hoe langer julle wag om my lisensie te stuur, hoe meer lisensies sal julle moet stuur. My grootste wens is dat daar gebruikte gewere in my boedel gaan wees, maar soos dit vir my lyk gaan my boedel bestaan uit nuwe gewere wat danksy die polisie nog nie gewerk het nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa