GEMEENSKAPLIKE SKIETSTILSTAND
Sommige dae wonder ek hoe ons daaglikse roetine pre-Covid19 was. Die meeste van ons word tydens ons dagtake gekonfronteer met die een of ander regulasie en/of voorskrif vir Covid.
Dit is dan juis in hierdie tyd dat ek deur jag en die koop van ’n jaggeweer tot ’n “gemeenskaplike skietstilstand” met my tienerseun gekom het. Uiteindelik was daar iets wat ons saam kon doen en waaroor ons nie verskil nie!
So beplan ons ons eerste jag saam by Willowmore. ’n Springbok vir hom en ’n koedoe en/of springbok vir my. Ons altwee het in die verlede darem al biltong op die tafel gesit, maar nou vir die eerste keer met ons eie geweer. Ons het saam beplan, saam ingeskiet, saam opgewonde geraak – ’n ware resep om ongeskonde deur die tienerstadium te kom.
Amper is ons uitstappie in die wiele gery deur Covid19-regulasies oor die reis oor grense vir jag, maar die avontuur het uiteindelik aangebreek. Willowmore se mense en hul gasvryheid is spesiaal. Op die eerste dag laat Boeta ’n pragtige springbok bakkie ry (sommer ’n kopskoot). Pa sien uit na sy eerste koedoe. Die potensiaal vir ’n mooi koedoe is groot in die koppies van Willowmore. Maar teëspoed tref! Ek gly, val, breek my
enkel en skeur ’n ligament. Dis operasiesake en die einde van ons jag.
Nou, twee weke, later kyk ons maar saam jagvideo’s, lees SA JAGTER/HUNTER en sien uit na volgende keer se jag. En daar is darem steeds ’n skietstilstand weens ’n gemeenskaplike belang in jag.