DOOIERUS – SO GEPRAAT VAN BALLISTIEK...
’Ngeweersmid se toonbank is altyd ’n interessante plek om jou ore by te gaan uitleen. Daar hoor ’n mens van allerlei wapenkwale en verwante skandes en dinge. Soos nou die dag, toe ons oor die dronkenskap van koeëls staan en skinder, en die gesprek omsit van loopstaal na taal.
“Dis ’n ding,” sê Coenie, “die manne wat hier inkom is meestal Afrikaans, maar as hulle van ’n geweer en sy skieterjasies praat, dan gebruik hulle Engelse terme. Hoekom dan nou nie maar liewer Afrikaans nie? Die taal is dan hoeka aan soveel fronte onder druk.”
Dis waar. Afrikaans gaan sy sirkelvormige opening sien as ons nie meer moeite doen om die taal ook op tegniese gebied te gebruik nie. Maar bestaan die nodige terme wel?
Nie noodwendig nie. So, om daad by die woord (of woord by die woord?) te voeg, hiermee my beskeie bydrae tot die bevordering van Afrikaans: ’n Paar nuwe toevoegings tot die taal. In besonder dié wat verband hou met ballistiek – die studie van die beweging van ’n projektiel of koeël – en ons omgang daarmee.
Die eerste van hierdie neologismes, vars opgeteken in Jonker se Wilde Woordeboek van Wedervaringe, is “ballistiekmusiek”. Ja, dit is nou ’n woord, en dit verwys na die soet klanke van skote wat knetter en koeëls wat tref. Soos ons weet, is hierdie vorm van musiek so meevoerend dat die mense op ’n skietbaan met oorfone rondloop om daarna te luister.
Dan is daar “kanniballistiek”. Dié woord het betrekking op die gebruik van sommige ouens om vuurwapens te kannibaliseer om ’n ander wapen mee te diens. Iets soos om byvoorbeeld ’n .30-06 se doppe af te nek om in ’n .25-06 of ’n selfgebroude 6mm-06 te laai. Of om een of ander oorplanting met ballistiese implikasies te doen, soos om ’n .22 se teleskoop op ’n .378 Weatherby Magnum te probeer monteer om geld te spaar. (En dan te kla die .378 is ’n vrot kaliber – hy groepeer nie.)
Daarteenoor, en wesenlik ’n antoniem in die praktyk, is “kwaliballistiek”. Dit is ’n term wat verwys na die najaag van kwaliteit in die werking van vuurwapens en ammunisie. Ek dink veral handelaars behoort die woord nuttig te vind, want dit is van toepassing op hulle gunsteling-klant, naamlik daardie ou wat nog nie eintlik vantevore geskiet het nie, maar vir homself die grootste kaliber en die duurste toebehore in die winkel koop, omdat hy altyd die grootste en beste moet hê.
Wanneer so ’n kwaliballistieklyer homself dan met sy eerste skoot ’n sloot voor die kop skiet wat veertien steke verg om te heg, kan daar seker gepraat word van “masochallistiek”. Dié woord is ’n samevoeging van “masochisme” en “ballistiek”, en verwys na een of ander selfopgelegde pynlike ervaring wat met die afvuur van
’n skoot verband hou.
Skuts wat die grootste en beste wil hê, maar dit nie kan bekostig nie, wend hulle soms tot “bekballistiek”. Hierdie term omskryf verwysing na ballistiese eienskappe wat buite normale, werklike, of verklaarbare perke val, soos wat gereeld om kampvure gebeur wanneer daar ruim gespog en oordryf word met die vermoëns van ’n spesifieke kaliber of ammunisie.
“Bekballistiek” moet egter nie verwar word met “malleballistiek” nie. Laasgenoemde word gebruik wanneer daar al soveel kere aan ’n geweer en sy ammunisie getorring is dat daar geen voorspelbaarheid meer is aan waar die skote val nie, en niemand meer kan onthou wat wanneer en deur wie gedoen is om die geweer te “verbeter” nie. Die malleballistiese effek kan vergelyk word met daardie ou speletjie waar ’n geblinddoekte persoon drie keer in die rondte gedraai word en dan ’n stert aan die donkie moet steek.
Lynreg teenoorgesteld hiermee is die term “statillistiek”. Dit behels die sorgvuldige opteken en verwerking van alle moontlike data wat met die skiet van ’n skoot te doen kan hê. Die statillistiese skut omring homself met allerhande meeten berekeningsapparate, eerder as iets soos ’n verkyker of ’n mes. Wanneer hy wel ’n slag ’n bok skiet en nie net doilies maak van papier nie, word die bok se beserings volledig geanaliseer en ’n hele wetenskaplike verslag opgestel oor die heersende atmosferiese- en geografiese omstandighede. Laasgenoemde word dan verwerk tot ’n breedvoerige tesis wat verduidelik hoekom die bok in sy pens geskiet is.
En dan is daar natuurlik die tragiese verskynsel van “babellistiek”, wat ook tot pensskote kan lei. Dis pateties om te aanskou, en ’n vreeslike ding om self te ervaar. Ergste van alles is dat dit totaal voorkombaar is, maar tog steeds gebeur, veral met die onervare jonger manne. As die koeëls so rond en bont val omdat die skut die bewerasie het van babelaas, is daar baie min wat ’n mens daaraan kan doen. Trouens, so ’n man behoort in die eerste plek nie naby ’n geweer te kom voordat hy nie sy roes behoorlik afgeslaap het nie.
Laastens is daar “ballieballistiek”, wat gebruik kan word om die skote van ouballies te beskryf.
Die ballieballistiese jagter daag op met ’n blinkgeslyte geweer uit die tyd van die Slag van El Alamein, ’n ou Weaver K4-teleskoop, en ’n bruin boksie koöperasiepatrone met die prys nog daarop: R14.85 vir twintig. En dan gaan hy huis toe met sestien van die twintig nog oor en vier bokke én ’n tarentaal agter op sy Nissan 1400’tjie. Elkeen met ’n netjiese ronde gaatjie agter die oor.
Nou toe, laat ons ’n glasie klink op ons taal en natuurlik ook op die wondere van ballistiek. Lank lewe Afrikaans!!
Laastens is daar “ballieballistiek”, wat gebruik kan word om die skote van ouballies te beskryf.