DIE SONDES VAN DIE VADERS...
Met 2021 wat teen ’n onverwagse flinke pas uit die blokke gekom het, moes ons by die tydskrif al meer as een keer hierdie jaar bontstaan om navrae en ander skrywes van lesers, en selfs persone wat nie lesers is nie, te hanteer.
Een wat my lank sal bybly, is die pa van ’n jongman wat laat in 2020 vir my ’n bydrae gestuur het om vir publikasie te oorweeg. Ek is altyd opgewonde as ek van ’n jonger persoon ’n bydrae ontvang, want dit dui op een ding: jonger mense (en jagters) lees ook die tydskrif en bring nie noodwendig die heeldag met een of ander elektroniese apparaat in die hand deur nie.
Hierdie betrokke bydrae was, wel, ietwat anders. Dit was die verhaal van ’n jag van een van die Groot Vyf wat in ’n meer suidelike provinsie van SuidAfrika plaasgevind het. Nie net het die jongman met ’n kaliber geskiet wat onwettig is vir gebruik op dié betrokke spesie nie, maar dit was ook ’n ver skoot, selfs by die punt van uiters onverantwoordelik ver vir enige lid van die Groot Vyf. Dit was dus niks anders nie as ’n baie, baie gelukkige vloekskoot, wat vir die skut goed geëindig het.
Ek het my redes waarom ek dit nie gaan publiseer nie in ’n e-pos aan die jongman saamgevat en tot sy krediet was sy antwoord dat hy verstaan en met my saamstem. Die jongman se pa het egter van my verskil, en redelik hewig ook! Ek het die volgende dag ’n e-pos van Senior ontvang wat op geen ander manier as uiters beledigend beskryf kon word nie. Volgens hom was sy seun onteenseglik die beste skut wat nóg ’n geweer vasgehou het, en net geen poging om diplomaties terug te antwoord het gehelp nie. Die uiteindelike gevolg was dat Senior ’n dag of wat later geblok is nadat ek ’n aanbod van “skietlesse” deur sy seun van die hand gewys het. ’n Mens kan nie almal tevrede hou nie...
Met die jagseisoen wat stadig maar seker besig is om nader te kruip, is die gemoedere op skietbane en in geweerwinkels vir my merkbaar anders as net ’n maand of so tevore. Self met Covid-19 wat steeds soos ’n swaard oor ons koppe hang en nog groot ontwrigting veroorsaak, is daar ’n opgewondenheid oor die nuwe jagseisoen en ek hoop en vertrou dat dit vir al die rolspelers in die bedryf ’n baie beter jaar sal wees as 2020!
Iets anders wat weer (steeds?) op vuurwapeneienaars se lippe is, is die toenemende traagheid waarmee die SAPD vuurwapenlisensie-aansoeke verwerk. Daar word selfs in die parlement geluide gemaak oor die polisie se optrede en ek hou nie meer by met die hoeveelheid navrae en klagtes wat ek in hierdie verband ontvang nie. Inteendeel, ek is self in die posisie waar ’n vuurwapenlisensie-aansoek al vir bykans ’n jaar hangende is met geen einde skynbaar in sig nie. Hierdie toedrag van sake is nie net onregverdig teenoor lede van die publiek wat met swaarverdiende geldjies vuurwapens aankoop nie, maar ook teenoor die handelaars wat die moeite doen om hierdie vuurwapens aan te hou en uiteindelik verkoop. Ek kan net die hoop uitspreek dat dié onaanvaarbare toedrag van sake binnekort hard en duidelik op die hoogste vlakke aangespreek sal word.
Ek wil julle vriendelik herinner dat hierdie uitgawe die laaste tweemaandelikse uitgawe vir ’n rukkie sal wees. Vanaf die Mei-tydskrif sal ons weer teruggaan na ’n maandelikse siklus tot en met Augustus, so hou gerus jou posbus of die rakke van die plaaslike winkels dop vir die volgende klompie uitgawes van SA JAGTER/HUNTER.
Soos altyd, wees veilig!