SA Jagter Hunter

DIE EEN IN DIE LOOP

-

Ly jy aan gewildheid? Het jy teveel jag vriende, teveel jag uitnodigin­gs, teveel skietbaan verpligtin­ge? Is jy moeg daarvoor dat mense om jou saamdrom om jou skietgoed te bewonder?

Wel, hier’s raad: Die gouste manier om so ’n situasie om te draai, is om ’n skoot af te vuur wanneer niemand dit verwag nie. Nie eers jy nie.

’n Onbedoelde skoot het min of meer dieselfde effek op die skut as ’n voltreffer-stinkskoot van ’n muishond: Almal probeer so ver moontlik van hom wegbly, want só ’n onveilige skieter raak die muishond in die geledere.

Per abuis, sal so ’n ou dan probeer aanvoer. Dit was tog ’n ongeluk! Aikôna ou maat. Nie sommer nie. As ’n jagter byvoorbeel­d sou gly terwyl hy op ’n bok aanlê en in die proses die sneller trek, kan dit dalk as ’n ongeluk beskryf word, maar sulke gevalle is die uitsonderi­ng. Nee, ’n onbedoelde skoot is waarskynli­k veel eerder bloot nalatighei­d. Nalatighei­d met die sneller, en veral nalatighei­d met die laai of ontlaai van die wapen. Per slot van sake kan daar tog nie ’n skoot gevuur word as daar nie eers ’n patroon in die kamer geplaas is nie.

’n Mens sou dink daar kan nie juis fout kom met iets so eenvoudig soos om ’n slot oop en toe te stoot nie. Maar tog is dit hoe die meeste ongelukke gebeur, glo ek. Nie per ongeluk laai nie, maar laai sonder om te registreer dat jy dit doen. En dan volg die nalatighei­d: Die nalaat om weer veilig te maak indien jy nie die skoot vuur nie.

Spanning, adrenalien, afwagting, aksie; dis die dinge wat die tafel dek vir sulke nalatighei­d. Daar’s ’n bok! Hy gaan staan! Verkyker, teleskoop en almal se aandag is daar voor, terwyl al wat daar voor gebeur is dat die bok sy gang gaan. Die kritieke besluite en die veiligheid wat daarmee moet saamgaan, speel hier agter die geweer af. By die jagter, wat moet koelkop bly en konsentree­r.

Groentjies is altyd ’n risiko.

Hulle raak nog maklik opgewonde en vergeet dan dat hulle ’n slot oop- en toegemaak het. Maar hulle is nie die grootste gevaar nie. Wees veral bang vir daardie weet-alles ou wie se selfvertro­ue nog groter as sy ego is. Die ou wat sy gat wip as jy vra of sy wapen veilig is voor hy op die bakkie klim, en wat hom vererg wanneer jy vra hy moenie met ’n gelaaide geweer agter jou loop nie. So ’n ou is te vol van homself om die basiese beginsels van geweerveil­igheid te verstaan:

’n Geweer is nie veilig omdat jy glo hy’s veilig nie.

’n Geweer is nie veilig omdat iemand so sê nie.

’n Geweer is nie veilig omdat hy laas nog veilig was nie.

’n Geweer is nie veilig omdat die veiligheid­sknip aan is nie.

’n Geweer is nie veilig wanneer die magasyn verwyder is nie.

’n Geweer is nie veilig nadat die teleskoop, draband, knaldemper en kolf almal afgehaal is en die skroewe in ’n blik op die werksbank lê nie.

’n Vuurwapen is alleenlik veilig wanneer daar geen patroon in die kamer is nie. As daar op enige stadium ’n patroon in die loop is, is daar risiko.

Enige gesoute wapenhante­erder sal daarom nooit ’n wapen aangee of neersit sonder om eers seker te maak dit is veilig nie. Die veilig maak van ’n vuurwapen is egter ook nie altyd ’n veilige proses nie. Wapenwinke­lmanne veral, het elkeen hul eie stories van die ou wat instap en sy pistool uithaal met die versekerin­g dat dit “veilig” is.

Die les van die vergete patroon in die kamer het ek self geleer toe ek in 1976 by ’n vriend aangedoen het wat ’n afgeleë negosiewin­kel in die Transkei bedryf het. Hy het met groot trots sy nuwe 9mm Browning HiPower vir my gewys, wat hy aangeskaf het nadat hy beroof is. Hy het die magasyn verwyder, die loop grond toe gewys en die sneller getrek voor hy die wapen vir my aangee.

In die stilte ná die dawerende skoot het ons verbaas gestaan en staar na die gat in die winkel se plankvloer, enkele duime van my linkervoet. Onder in die kelder het die koeël splinters uit die hout geruk, en ’n groot gemors gemaak van die kanne kookolie wat daar gestoor was.

Dan is daar natuurlik ook die ander reël wa tin Bitterfont­ein graniet gegiet is: Moet nooit’ n vuurwapen se loop op enigiemand rig tensy jy van plan is om hom te skiet nie.

Dis ’n seker manier om jouself ongewild te maak, of dit nou in ’n wapenwinke­l, by iemand se kluis, op ’n skietbaan of in die jagveld is. En “per abuis” tel hier ook nie as ’n verskoning nie. As jy nie ingestel is om te alle tye bewus te wees van waar die loop gerig is nie, moet jy liewer nie ’n wapen hanteer nie.

Hoe raak ’n mens ingestel? Wel, deur te konsentree­r en dit as ’n gewoonte aan te leer, natuurlik. Maar daar is ook ’n kort, intensiewe kursus wat nog uit die ou dae dateer. “Mik-enkoes” het hulle dit genoem, en dit het verbasend gou en doeltreffe­nd gewerk.

Dit behels bloot dat enigeen wie se vuurwapen op jou mik, daar en dan ’n plathand kry. Gelaai of ongelaai, maak nie saak nie; as ’n ysteroog vir jou kyk, tuit sy opsigter se ore. Summier, sonder verduideli­king, en sonder enige reg op beswaar.

Deesdae is daar natuurlik allerhande ander regte wat ter sprake kom, maar mik-en-koes is miskien steeds ’n goeie jag“tradisie” om te handhaaf.

As jy nie ingestel is om te alle tye bewus te wees van waar die loop gerig is nie, moet jy liewer nie ’n wapen hanteer nie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa