HOE GESOND IS DIE WILDSVLEIS OP JOU TAFEL?
BOETIE KIRCHNER
Baie Suid-Afrikaners het met wildsvleis in hul diëte grootgeword. Die gewildste was seker biltong en droëwors en kort op dié se hakke was die benevleis wat Ouma met naeltjies tot fynvleis afgekook het. Soos met enige tradisie het evolusie ook in die kombuis plaasgevind en wildsvleis het ’n baie kleurvolle baadjie begin aantrek. Vandag word elke snit in ’n feesmaal omskep – van koedoefilet op ’n soutklip gaargemaak, tot gepekelde blouwildebeestong, om maar ’n paar van die liplek-lekker disse te noem.
Daar is nog altyd aanvaar dat wildsvleis gesond en parasietvry moet wees, maar net soos in die kombuis het ’n evolusie ook in die veld plaasgevind. Jare gelede was daar slegs “oop” plase met tradisionele beesheinings en wild is tydens ’n spesifieke seisoen gejag. Met die koms van wildheinings is diere se bewegings beperk en kon hulle nie meer vrylik rondtrek nie. Hulle het dus op hul eie spore begin terugwei. Dit het tot gevolg gehad dat wild tekens van siektes en parasiete, wat gewoonlik net in vee voorkom, begin toon het. Dié tendens het ook al hoe meer waarneembaar geraak hoe kleiner wildplase geword het. Van die algemeenste siektes wat deesdae gereeld kop uitsteek, is onder meer:
• Slenkdalkoors wat dodelike gevolge inhou indien mense daarmee besmet word; • Masels (tussenstadium van die menslike lintwurm) kom ook algemeen voor, veral waar daar ’n groot deurloop van mense is; • Hondelintwurm, wat deur rondloperhonde en heel moontlik ook deur jakkalse en hiënas versprei word, kan in die veld op ’n abnormale bokdraer beland en erge breinsiste in die mens veroorsaak;
• Tering;
• Brusellose;
• Lewerslak; en
• Parafilaria.
Die hele doel van hierdie skrywe is nie om jou bang te maak vir die benutting van wildsvleis nie, inteendeel, dit bied jou die geleentheid om meer ingelig te wees rondom die verantwoordelike gebruik daarvan.
Hier is ’n paar vrae om jou daaroor te laat herkou:
• Slag jy self jou bok af wanneer jy jag?
• Weet jy hoe ’n gesonde bok se karkas en ingewande moet lyk?
• Weet jy waar sit die dier se limfknope en hoe om daarmee te bepaal of die karkas gesond is?
• Is jy ingelig oor wat die daling in pH te doen het met die veiligheid en raklewe van wildsvleis?
• As die eienaar van ’n jagbestemming, weet jy hoe ’n higiëniese slagplek uitgelê moet word?
Die meeste hedendaagse jagters neem die maklike uitweg en sit eerder om die kampvuur en spog oor hul jag as wat hulle tyd in die slagplek deurbring. Hierdeur sê ek glad nie jy moet jou eie bok afslag nie, maar deur bloot teenwoordig te wees om ’n paar eenvoudige rigtingwysers waar te neem, kan jou gemoedsrus gee dat jou wildsvleis gesond is. Ek slag al vir baie jare self my en ander jagters se bokke af en het aangeneem ek weet hoe ’n gesonde dier en karkas moet lyk. Groot was my verbasing egter toe ek dr. Tertius Bergh se vleisondersoekerskursus bygewoon het. Nie net het ’n hele nuwe wêreld vir my oopgegaan nie, maar verskeie abnormaliteite wat ek deur die jare onbewustelik opgelet het, het begin sin maak.
Die kursus se inhoud het onder meer die volgende ingesluit:
• Inleiding tot vleismikrobiologie;
• Algemene slagplekuitleg;
• Persoonlike higiëne en sanitasie by die slagplek;
• Pesbeheer;
• Kwaliteitbeheer en die hantering van afval;
• Slagproses;
• Anatomie;
• Patologie;
• Siektes in wild wat ’n invloed op die vleis het;
• Vleisinspeksietegnieke;
• Regulasies ten opsigte van vleisveiligheid; en • Die oes van wild.
Die kursus behels drie dae se onderrig en ses maande se praktiese ondervinding by ’n geregistreerde abattoir. Suksesvolle kandidate verwerf ’n eenheidstandaard-sertifikaat, wat by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid (Sako) geakkrediteer is, en is dan ná registrasie gemagtig om in die veld as vleisondersoeker op te tree waar wild geoes word.
Die meerderheid van SA Jagters se lede het egter nie die tyd of behoefte om so ’n volledige vleisondersoekerskursus by te woon nie en dus het dr. Bergh vir ons lede ’n verkorte kursus saamgestel. Dit strek oor ’n Vrydagmiddag en Saterdag en behels ’n verkorte weergawe van al die relevante teorie, asook ’n praktiese afslagdemonstrasie. Hierdie kursus is baie insiggewend en het ten doel om jou as jagter se kennis rondom vleisveiligheid so uit te brei dat jy met redelike sekerheid kan weet die vleis wat jy vir jou familie voorsit is heilsaam en gesond. Kandidate ontvang dan ’n bywoningsertifikaat, maar sal nie as vleisondersoekers kan registreer nie.
’n Paar van ons lede het ’n proeflopie van die kursus bygewoon wat goedgunstiglik deur Ferdie Neumeyer, voorsitter van die Marico Bosveldtak, op sy wildplaas aangebied is. Ferdie het ook ’n bok geskenk wat vir die praktiese afslagdemonstrasie gebruik is. Kursusgangers het gewissel van jong, ywerige beroepsjagters tot ervare manne wat heel waarskynlik al langer jag as wat ek oud is. Almal was dit eens dat hulle in die twee dae se tyd meer geleer het oor die korrekte afslagprosedure en vleisveiligheid van wild, as wat hulle uit enige boeke of lewenservaring geleer het.
Hulle het almal die kursus met vrymoedigheid aanbeveel. * SA Jagterstakke of -streke wat belangstel om so ’n kursus aan te bied, kan my gerus kontak by boetiek@sahunt.co.za vir meer inligting.