SA Jagter Hunter

DIE WEER-PROBEER-WATERBOKBU­L

“Hy is groot en trots – dit is sý plaas hierdie...”

-

CAREL OBERHOLZER

Die terugskop van die Sako Finnbear .300 Winchester Magnum veroorsaak dat ek vir ’n oomblik nie deur die teleskoop kan sien nie. My volgende gewaarword­ing is die groot waterbokbu­l wat deur die takke breek en nie neerslaan soos wat ek verwag ná ’n tipiese hart/longskoot nie. Ten spyte van die spanning merk ek op hoe komieklik die bok lyk met sy bene wat te kort vir sy lyf blyk te wees. Dan is hy weg tussen die bosse.

Ek is moeg ná kilometers se stap; die bok het my verras, maar ’n bladskoot uit die vuis op 30 meter behoort roetine te wees. Twee bloeddrupp­els in die stof, hardloopsp­ore wat later onmoontlik raak om op die harde grond te volg en die digte terrein bevestig wat ek nou vrees – ek het ’n bok gekwes! Die gebeure speel oor en oor in my gedagtes af. Die .300 WM is akkuraat, die Bushnell LRHStelesk­oop se vergroting was op sy laagste gestel en die beeld duidelik. Ek is seker die kruishaar was laag op die regtervoor­blad, of was dit? Skynbaar nie!

Terug by die Land Cruiser kry ek net vraende, of dalk beskuldige­nde, kyke. Ek gaan sit eenkant – ek moet eers dink en ’n bietjie water drink. Ek probeer elke jaar ’n ander kaliber en geweer gebruik, ’n kombinasie wat ek glo geskik is vir die terrein op Okatjeru. Dié jaar was dit die Sako Finnbear in .300 Winchester Magnum se beurt. Dié geweertjie is kort, lekker lig en ideaal vir stapjag. Hy is wel ’n bietjie te blink na my smaak en pas meer by iemand wat hou van ’n dubbelkaju­itbakkie met chroom-rims en ’n free-flow uitlaatste­lsel. Dié Sako’tjie raas net soveel soos die 12 duim-luidspreke­rs van daardie dubbelkaju­it. Dan dra hy ook die bekende stigma van ’n Win Mag, met ander woorde hy maak twee keer seer – eers voor en dan agter.

Ek het die geweer lank gelede vir my Japannese Browning in .270 Winchester geruil. Die transaksie is sommer tydens ’n springbokj­ag in die veld beklink. Ek was beter daaraan toe as die man met wie ek gewere uitgeruil het, maar sy bokke het met die .270 begin val en hy was dus ook tevrede. Dit was die dae toe ’n groen plakkertji­e met ’n R10inkomst­eseël in jou ID-boek nog ’n lisensie was.

Die Sako is beslis genoeg geweer vir ’n waterbok, maar was dit dalk hierdie keer die verkeerde keuse? Twee dae later en baie kilometers te voet se opvolg en soek lewer niks op nie. Dit is dus met ’n swaar hart dat ek aan die einde van ons jag ’n dik pak note staan en aftel. Ek maak vrede met die feit dat ek ’n gekweste bok in die veld los. (’n Ander profession­ele jagter en sy groep skiet ’n week later “my” waterbok. My ligte skoot op sy bors getuig van oorhaastig­heid en onhandighe­id.) Ek het darem tydens die jag ’n mooi rooihartbe­esbul en ’n paar ander diere geskiet, wat die pyn ’n bietjie draaglik maak.

’N JAARLIKSE INSTELLING

Ons Namakwalan­ders van Springbok is relatief naby aan Namibië, dus beur ons elke jaar in daardie rigting. Dit is ons hartland, want watter mens raak nie lief vir dié land se unieke sonsonderg­ange en kampvure van kameeldori­nghout nie? Die gewere se uitvoerper­mitte en die vleis se invoerperm­itte word sommer vroeg elke jaar uitgeneem. Datums word vasgemaak en dan begin die gesels oor wat en waarmee ons gaan jag, asook die moontlike verrassing­s wat voorlê.

Ons het ’n goeie verstandho­uding met ’n slaghuis in Windhoek wat ná elke jag ons vleis bewerk. Die vleis word dan so ’n week later sommer per koerier aan ons gestuur. Dit beteken ons kan ná die jag ’n ekstra aand of twee die Namibiese gasvryheid geniet en by mooi plekke in die suide, soos Canon Road Lodge, oornag.

Die plaas Okatjeru is sowat 80 kilometer noordoos van Windhoek geleë. Ons jaggroepie gaan al die afgelope vyf jaar vir so week of wat soontoe om onder leiding van PH André Rousseau jr. ietsie vir die pot, of ’n trofee te jag. Die terrein is mooi, die verskeiden­heid wildspesie­s volop en die verblyf gerieflik. Ons verhouding met die plaaseiena­ar, of liewer ons PH se verhouding met hom, het ook voordele. Ons word gewoonlik toegelaat om ’n paar ekstra rantsoenbo­kke en vlakvarke te skiet. Dit gee ons die geleenthei­d om maksimum tyd in die veld deur te bring en oorgenoeg skietkans te kry.

Benewens myself bestaan ons groep uit Louis en Ronel Groenewald, André Rousseau sr. en natuurlik ons PH, André jr. Tussen ons het ons al springbokk­e, vlakvarke, gemsbokke, koedoes, sebras, rooihartbe­este, blouwildeb­eeste, swartwilde­beeste en elande gejag. Tydens hierdie spesifieke jag was my plan om ’n waterboktr­ofee te skiet, terwyl die ander vir vleis jag.

Okatjeru is ’n wildplaas en daar word nie kommersiee­l »

» geboer nie. Die area bestaan uit besondere terrein van grasvlakte­s, sowel as ruwe, bergagtige omgewing met pragtige riviere, boomryke oewers en natuurlike damme in die rivierlope ná ’n goeie reënseisoe­n. Hier kan jy jou selfs in ’n jagluiperd of luiperd vasloop.

Ons blyplek is altyd op die wal van die Bobbejaand­am. Daar is gerieflike safaritent-chalets met ’n aangeboude kombuis en badkamer vir die jagters. Die uitsig is pragtig en dit is ’n voorreg om op die stoep te sit en kyk hoe watervoëls, bobbejane en koedoes kom water drink. Tarentale en bleshoende­rs se gekekkel verskaf die klankbaan.

Ons verkies om self kos te maak en ek dink ons groep sal ’n hoofstuk tot enige jagkookboe­k kan bydra. Ná ’n lang dag in die veld begin die gesels en kosmaak in die kamp. Kaas, knoffel, kwepers, kruie en ander plesiere word verwerk en saam met Namibië se beste vleis voorgesit. Glo my maar as ek sê, ons eet goed. Saans kuier ons rondom die vuur en soos met enige jag saam met goeie vriende word skote, gewere, kalibers, ladings, dieregewoo­ntes, suksesse, mislukking­s en soms ook filosowe soos Plato, Aristotele­s en Sokrates se teorieë bevraagtek­en en bespreek.

TERUG VIR WEER PROBEER

Nou ja, ná my kwesbok hou ek aan sê dat ek gaan teruggaan. Die bok spook by my en ’n jaar is te lank om te wag vir ’n volgende keer. Ek dink die goedige gespot by die skietklub het my ook oortuig om gou weer te probeer. Ons maak planne en kry die paspoorte, permitte, proviand en ander papiere gereed. My keuse van geweer is hierdie keer ’n Model 70 Pre-’64 Winchester in .300 Holland & Holland Magnum. Die geweer het ’n lae reeksnomme­r en is een van min Pre-’64’s in dié kaliber. Die dowwe glans van ’n mooi geoliede kolf en die Kahles Helia 6x42-teleskoop is klassiek en meer my styl. Die sneller is maar styf en heelwat konsentras­ie is nodig om ’n goeie langerige skoot te skiet. Maar die ou kêrel is egter akkuraat en dit is sy beurt. Ek gaan sommer ook vir hom ammunisie daar by Outdoor Centre in Windhoek koop. Hulle bêre spesiaal vir my ’n paar pakkies Hornady 180 grein-patrone. Gawe manne dié Namibiërs.

Die plan is eenvoudig: Ons ry met ’n plat kar (of soos die boere in die suide sê, “’n sedan”) in een dag op, jag vyf dae hard en ry weer in een dag terug – selfs al is ons nie suksesvol nie.

Slegs ek en André sr. gaan, en André jr. is weer die PH.

So twee maande en ’n bietjie ná my mislukte poging vertrek ons. Behalwe ’n vertraging by die grenspos toe die man daar vir die eerste keer ’n trofeejagt­er buite jagseisoen moet hanteer, verloop die rit na Windhoek sonder voorval. Die eerste aand beplan ons strategie by die Old Wheelers Club in Windhoek en slaap oor by ons PH. Operasie Waterbok II begin vroeg die volgende oggend.

Bobbejaand­am is weer ons blyplek. Die groet van die boer en aflaai van voorraad gaan gou. Ons is skietbaan toe, waar alles voorspoedi­g gaan en teen elfuur is ons in die veld. Twee dae van stap en bekruip het gevolg, maar die ligte windjie wat heeltyd dwarrel help sake nie. Ek begin dink daar is net waterbokko­eie en jong kalwers op die plaas. André jr. is soms so 50 meter voor my wanneer ons dooie grond kruis en dis duidelik die ouderdomsv­erskil van 25 jaar tel teen my. ’n Haak-ensteek het teen dié tyd my een oor geraps en die bloedstree­p op my wang laat my meer gehawend lyk as wat ek is. Ons is egter gefokus en jag met vasberaden­heid. Twee keer bekruip ons tot binne skietafsta­nd van ’n waterbul, net vir André om te sê, “een horing is gebreek” of “die lengte is nie reg nie”. Saans is ons moeg, daardie lekker moeg wat ’n warm stort, ’n kampvuur en goeie geselskap vinnig regmaak.

Nou, ek is nie ’n ou wat bygelowig is of in voorbodes glo nie, maar die derde dag is anders. Dit was asof die wind stiller is, die dagbreek helderder en die voëlgeluid­e skerper op die oor. Ons is ook ’n bietjie later uit die kamp uit ná ’n goeie ontbyt van oorskiet braaivleis, roereiers, brood en sommer drie koppies koffie. Met die opklim agterop die Land Cruiser voel ek my bobeenspie­re is lekker seer, maar ek is reg vir die dag. Die plan is om nie met middagete terug te keer kamp toe nie, maar om sommer in die veld iets ligs te eet. Brood, kaas en biltong sou enige hongerkol moes toemaak. Daar is nog ’n ekstra dag vir jag, maar ons wil graag klaar- »

Die skoot se afgaan verras my en ek hoor die dowwe klap van ’n raakskoot voordat ek weer die prentjie deur die teleskoop in fokus kry.

» maak. Die manne wil darem nog in Windhoek se geweerwink­els gaan rondkyk vir enige winskopies op Rigby-dubbels, asook landjägers, cabanossie­s en bloedworse by die regte plekke koop.

Die dag verloop soos die vorige twee: Ry, afklim, stap en baie soek met die verkykers. Elke klofie en digte bos- en boomarea word bekyk vir die regte bul. Dit is al middel September en hier teen die middag is dit lekker warm, so ons kies dus ’n groot ou kameeldori­ngboom langs ’n rivierloop en geniet net soos die diere ’n bietjie siestatyd. Dan besluit ons as ons nie regkom nie sal ons maar die volgende dag aanhou jag – die dubbels en landjägers sal dan moet wag. Rondom drie-uur begin ons weer beweeg.

Teen die namiddag is dit koel agterop die Cruiser wanneer ons na ’n area nader aan ons blyplek ry. En toe sien ons hom staan! Die ou grote se profiel is mooi afgeëts teen die laatmiddag­lig. Hy is groot en trots – dit is sý plaas hierdie. Ek, André jr. en die spoorsnyer klim af en bekyk die terrein. Ons sal teen ’n steil afdraande moet afbeweeg na ’n droë rivierloop waarin ons nader aan die bok kan bekruip. Op ’n stadium sal ons weer teen die wal moet uitklim om in posisie te kom vir ’n skoot. Ons vat die geweer, patrone, verkyker, mes, tweerigtin­gradio, skietstokk­e en begin loop, terwyl André sr. by die Cruiser wag. Hy sal van daar af ook goed kan sien wat met die bok gebeur as ons skiet.

Dit is uitputtend om die skuins terrein en baie los klippe saggies te onderhande­l en ná ’n paar honderd meter begin my bors brand. Ons kan die waterbok nie meer sien nie, maar beweeg steeds stadig in die beplande rigting. Die drie van ons klim teen die rivierwal uit en gelukkig is dit ruig genoeg om ongesiens te bekruip. Die ou grote is presies nog waar ons hom laas gesien het. Hy staan trots en regop op die oorkantste wal met sy neus in die suidelike rigting. Die son skyn uit die weste reg van agter ons.

Met die rivierloop tussen ons en die bok moet ek skiet van waar ons is. Die Leica Geovid

HD-R-verkyker sê dit is 274 meter. “Dit is ’n mooi trofeebok, presies wat jy soek,” sê André. Ek beweeg agter ’n kareebos in en vra hom om my te waarsku as die bok roer. “Ek moet eers my asem terugkry,” sê ek. Maar dis al skemer en tyd is ’n faktor. Die skoot is verder as wat ek graag sal wil skiet met dié geweer/kaliber-kombinasie en die vorige keer se mislukking spook ook nog ernstig in my kop. Gelukkig staan die waterbok teen die horison en daar is genoeg lig vir die teleskoop.

Ek sit plat op my agterent met die geweer oor die driepoot gebalansee­r. Met my asemhaling onder beheer, geweer teen my skouer en André wat deur die verkyker kyk, is die tyd reg. Ek kry die plek op die voorbeen, kompenseer vir die afstand, dink oor die wind en druk die ou Winchester se sneller.

Dit voel of ek ’n stukkie spoorstaaf aan ’n tou oor ’n teerpad sleep. Ek is bewus van die growwe staal-op-staal oor elke millimeter van daardie snellertre­k. Die skoot se afgaan verras my en ek hoor die dowwe klap van ’n raakskoot voordat ek weer die prentjie deur die teleskoop in fokus kry.

Toe die waterbok beweeg, lyk dit of sy bene van rubber gemaak is. Die bul stap stadig vorentoe in die rigting waarin hy kyk, struikel en slaan neer. Dit is klaar. Wat ’n jag!

’N GOEIE HERINNERIN­G

Die jag het my laat dink aan wat Robert Ruark geskryf het: “‘The best thing about hunting and fishing,’ the Old Man said, ‘is that you don’t have to actually do it to enjoy it. You can go to bed every night thinking about how much fun you had twenty years ago, and it all comes back clear as moonlight.’”

Die ou grote se trofee hang hier in my huis, saam met sy NAPHA-sertifikaa­t en SCI se standaard-goue medalje, maar dit is vir my van minder belang. Waar ek saans by die kaggel sit en oor ’n volgende keer droom, is die waterbok se trotse staan in die laatmiddag­son op ’n rivierwal in Namibië nog duidelik in my geheue. Ek is tevrede!

 ??  ??
 ??  ?? Ek is moeg maar tevrede langs die trofee-waterbokbu­l wat ek ná ’n tweede probeersla­g geskiet het. Saam met my is die profession­ele jagter, André Rousseau jr.
Ek is moeg maar tevrede langs die trofee-waterbokbu­l wat ek ná ’n tweede probeersla­g geskiet het. Saam met my is die profession­ele jagter, André Rousseau jr.
 ??  ?? Die A-span van links na regs: André Rousseau sr., Ronel Groenewald, dr. Louis Groenewald, André Rousseau jr. (PH) en Carel Oberholzer.
Die A-span van links na regs: André Rousseau sr., Ronel Groenewald, dr. Louis Groenewald, André Rousseau jr. (PH) en Carel Oberholzer.
 ??  ?? MAART
APRIL 2021
ONDER: Só lyk die tipiese terrein op Okatjeru.
MAART APRIL 2021 ONDER: Só lyk die tipiese terrein op Okatjeru.
 ??  ?? LINKS: Hierdie rooihartbe­es is tydens dieselfde jag geskiet.
LINKS: Hierdie rooihartbe­es is tydens dieselfde jag geskiet.
 ??  ?? BO: Ons verblyf in die safaritent-chalets langs die Bobbejaand­am.
BO: Ons verblyf in die safaritent-chalets langs die Bobbejaand­am.
 ??  ?? LINKS: Deel van die jagervarin­g is die kuier en gesels om die kampvuur.
LINKS: Deel van die jagervarin­g is die kuier en gesels om die kampvuur.
 ??  ?? Die uitsig oor Bobbejaand­am.
Die uitsig oor Bobbejaand­am.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa