DIE .500 JEFFERY
Om ’n .500 Jeffery te bemeester neem lank, maar dis die moeite werd.
FRANCOIS VAN EMMENES
Soos die meeste grootkalibers, het die .500 Jeffery amper ’n stille dood gesterf. Toe Kynoch gedurende die 1960’s produksie van grootkaliber-ammunisie gestaak het, was een van die enigste bronne van ammunisie daarmee heen en het die handjievol eienaars wat nog in besit was van dié kalibers, hulle meestal tot die kluis gerelegeer. Sedert die 1980’s het ’n groot verskeidenheid ammunisie en komponente egter weer beskikbaar geraak vir amper alle grootkalibers, en soos die Engelsman sê, “The rest was history...”
SCHÜLER VS JEFFERY
Die .500 Jeffery het ook ’n tweede kans gekry en is vandag meer gewild as ooit tevore. Die kontroversie oor wie die oorspronklike ontwerp gedoen het sal seker altyd voortduur: Dit is óf August Schüler van Duitsland, wat die 12,7x70 Schüler gemaak het, óf W.J. Jeffery van Brittanje wat die .500 Jeffery in 1928 die lig laat sien het. Die meeste kenners glo egter dat die Schüler die Jeffery se voorganger is.
Dit is noodsaaklik om te sê dat daar ’n verskil tussen die twee kalibers is – die skouerhoek van die Schüler word gelys as 23,54 grade (RWS se tekening nr. M466, 1940), terwyl die Jeffery s’n 12.63 grade is (Kynoch-tekening nr. BK82/132, 1928). CIPC aanvaar die .500 Jeffery se afmeting as die standaard, maar daar is verskeie “nuwe” gewere in omloop wat ’n Schüler-kamer het. Die twee is teoreties nie verwisselbaar nie – verskeie bronne beweer dat die Jeffery-patroon sal kamer in ’n Schüler, maar nie andersom nie. Dit is egter nie altyd waar nie en daar is uitsonderings.
My “Jeffery”-patrone kamer in vriend Phillip Venter se geweer met sy “Schüler”-kamer en sy “Schüler”-patrone in myne. Om dinge verder te kompliseer, het Wolfgang Romey in 1997 ’n patroon met ’n 19,97 gradeskouer vervaardig. Wees dus baie versigtig en maak presies seker met watse ruimer jou kamer gesny is voordat jy sommer enige
“.500 Jeffery”-patroon daar indruk. Oorspronklike Schülers en Jeffery’s is vir alle praktiese doeleindes onbekombaar – daar was bitter min gemaak en hulle is nou gesogte versamelstukke.
HUIDIGE OPSIES
Waar los dit die jagter wat ’n oop spasie in sy kluis het vir ’n .500? Kommersieel vervaardigde gewere is redelik skaars. CZ het ’n paar jaar gelede die .500 Jeffery in hul 550-reeks aangebied, maar dit was nie ’n sukses nie – die meeste van hierdie gewere moes teruggaan fabriek toe aangesien hulle nie betroubaar gevoer het nie. Maar meer hieroor later...
Ek weet van Blaser wat .500’s
aanbied in hul R8-reeks, maar die reguit terugtrek-aksie op ’n gevaarlikewild-kaliber geval my persoonlik nie. Die Finse vervaardiger Sako maak ook ’n paar modelle in .500 Jeffery en te oordeel na die terugvoer is hulle wel ’n sukses.
Twee goeie opsies vir die plaaslike .500 Jeffery-liefhebbers is ongetwyfeld ’n tweedehandse “moderne era”-geweer, of die bou van ’n pasmaakgeweer. Beide opsies het hul slaggate. Indien jy in ’n tweedehandse geweer belangstel, maak baie seker van sy herkoms en soos voorheen genoem, presies watter kamer hy het. Ek het al talle .500 Jeffery’s in die mark gesien en hulle was, met die uitsondering van twee, nie ’n tweede kyk werd nie. In sommige gevalle wou die patrone wat ek uit my versameling saamgeneem het om te verseker dat die geweer voer soos dit moet, nie eers in die magasyn pas nie! In ’n ander geval was die naam as “.500 Jefferies” (sic) op die loop gegraveer – iets waarmee ek net eenvoudig nie sou kon saamleef nie. Wees dus bedag – caveat emptor, soos ons redakteur gereeld opmerk.
Die pasmaakopsie is, ten spyte van die probleme wat ons tans ondervind met die goedkeuring van geweerbou deur die SAPD, ’n goeie een.
Dit is ongetwyfeld ’n feit dat ’n geweer in hierdie kaliberklas die eienaar soos ’n handskoen moet pas. Die rede is natuurlik eenvoudig – ’n .500 Jeffery genereer sowat 6 900 voet/ pond-energie met ’n 600 greinkoëel teen 2 275 vps – meer as wat meeste skuts en jagters kan hanteer. Behalwe die estetiese element, verleen die bou van ’n pasmaakgeweer aan jou die geleentheid om seker te maak die kolf se lengte en ander kritieke mates is absoluut korrek vir jou unieke bou, armlengte en handgrootte. ’n Reguit kolf, sonder enige oormatige val, is uiters belangrik, en tog sien ’n mens steeds dat gewere verkeerd gebou word. Ek probeer so hoflik moontlik enige aanbiedinge om so ’n geweer te skiet van die hand te wys...
KOMPONENTKEUSES
Wat van die komponente? Vir my is daar eenvoudig geen ander keuse as ’n “beheerde voer” M98-tipe aksie nie. Dit is die goudstandaard in gevaarlikewildkalibers en sal altyd so wees. Die rede is eenvoudig: In ’n gevaarlike situasie het die jagter absolute betroubaarheid nodig. Die nie-roterende uittrekker, reuse-uittrekkerklou en beheerde voer is onontbeerlik.
Oorspronklike Mauser- en Vektor Magnum-aksies is deesdae so skaars soos hoendertande en uiters duur as jy een in die hande sou kry. ’n Magnumlengte aksie is natuurlik nie nodig vir die .500 Jeffery nie – dit is ontwerp om in ’n standaardlengte aksie te werk. Goeie opsies is die “voor-’64” Winchester-aksie (wat ook al skaars is), Brno VZ24, Brno 602, kommersiële (vooroorlogse) Mauseraksies, die CZ 550, ’n aksie deur byvoorbeeld Granite Arms of ons eie Magnum Arms-aksie wat deur Eugene Combrink gebou word. Al hierdie aksies het relatief min werk nodig om ’n .500 Jeffery in te laat werk. Vermy maar ’n P-14-aksie. Hulle het te veel werk nodig en dit wat jy spaar op die aksie se koste gaan dubbel in die geweersmid se sak.
Seker die grootste uitdaging is om te verseker dat die geweer betroubaar voer. Die .500 Jeffery het al deurgeloop oor sy rebated rim-ontwerp, so doen maar jou huiswerk, want dit sit nie in enige geweersmid se broek om dit reg te doen nie.
Magasynkapasiteit is gewoonlik drie patrone. Soms is dit moontlik om ’n vierde een in die kamer te kry deur die onderste drie af te druk in die magasyn in, soms nie. Ek het al verskeie gesien wat selfs vier in die magasyn neem, maar dan is die magasynkas gewoonlik ondertoe uitgebou wat vir my nie mooi op die oog val nie – dis maar ’n geval van persoonlike smaak teenoor die ekstra versekering.
ANDER OORWEGINGS
’n Winchester-tipe drieposisieveiligheidsknip is ook vir my ’n moet. Sodoende kan jy met die knip op die middelste posisie al die gelaaide patrone voer terwyl jy in die gerief en veiligheid van jou eie huis sit.
Dit is uiters belangrik met enige gevaarlikewild-geweer om vooraf te toets dat alles werk soos dit moet. ’n .500 Jeffery moet verkieslik meer as 11 pond weeg. Die terugskop op enigiets ligter raak te veel.
’n Ander belangrike komponent van só ’n geweer bou is die oop visiere. ’n Vlak “V”-visier agter en duidelik sigbare korrel wat teen ’n 45 grade-hoek gevyl is, werk baie mooi. Dit gee jou ’n wye sigveld en vinnige teikenverkryging. Neem maar aan dat jou oë waarskynlik ná ’n sekere ouderdom nie meer die gebruik van oop visiere sal kan hanteer nie en bou sommer nou al die geweer met die nodige veranderinge vir die gebruik van ’n elektroniese, optiese rooikolvisier. Ek ken bitter min eienaars van .500 Jeffery’s wat teleskope sal monteer, en dié wat wel teleskope op die geweer het, bloei gereeld!
KOMPONENTE VIR DIE .500 JEFFERY
Daar is fabrieksammunisie van Norma, Kynoch, Wolfgang Romy, Nosler en ander beskikbaar, maar die pryse laat jou »
»oë traan en jou kredietkaart in jou sak smelt. Dit maak herlaai by verre die beste opsie. Die .500 Jeffery is nie ’n uitermatig moeilike kaliber om voor te herlaai nie, maar dit het tog sy geite. Gelukkig is doppe, matryse en veral koeëls geredelik beskikbaar, alhoewel duur, veral die doppe. Oor die afgelope paar jaar was Norma-doppe omtrent altyd beskikbaar met Kynochs wat hier en daar ’n verskyning gemaak het. Bertram-doppe word ook van tyd tot tyd ingevoer.
RCBS se matryse is my gunsteling – verwag om so R6 000 te betaal vir ’n driematrys-stel. Koeëls is volop (met ’n .510”deursnit, nie .505” soos die .505 Gibbs nie). Vir die baan gebruik ek Claw Bonded-koeëls – hulle is uiters bekostigbaar vir teikenskiet. Die .500 sluk natuurlik kruit soos wat ’n boelterriërhondjie pap vreet, en met ’n 119 greinlading sal jy met ’n blik dryfmiddel net so 64 patrone kan laai. S365 is maar sy kos, maar daar is manne wat al S335 en S355 ook gebruik het. Die oorspronklike lading was ’n 535 greinkoeël teen so 2 350 vps (6 562 voet/pond-energie). Die 570 greinkoeël is ook plaaslik baie gewild, en daar is selfs diegene wat uitsluitlik ’n 600 grein-koeël skiet, gewoonlik so teen 2 250 vps.
Maak seker dat die 570 greinkoeëls wat jy wil gebruik se krimpgroef op die regte plek sit. Baie van hierdie koeëls is ontwerp vir gebruik in die .500 NE, waarvan die krimpgroefposisie kan verskil van dié van ’n .500 Jeffery. My persoonlike drempel is die 535 grein-koeël teen 2 325 vps, enigiets meer en ek sien dubbel ná 20 skote. Uit die aard van die saak moet slegs ’n Magnum-slagdoppie gebruik
word. Ek kry dieselfde resultate met beide CCI Magnum en Federal se 215 Large Rifle Magnum-slagdoppies, maar joune kan dalk verskil. Bevestig ook gekose ladings met meer as een bron, en begin áltyd by die minimum lading en werk stadig op. Moenie oormatige spoed najaag nie – daardie ekstra 100 vps gaan jou niks in die sak bring behalwe ’n seer skouer en verkorte
dopleeftyd.
Dit is belangrik om dopvolumes asook dopgewigte te meet. Sommige vervaardigers se gewigte verskil beduidend tussen individuele doppe en die uitskieters moet weggegooi word. Wees ook versigtig om sommer goedsmoeds enige lading as korrek te aanvaar, veral met ingevoerde kruit. Dis nodeloos om te sê dat alle gevaarlikewildkalibers se doppe gekrimp moet word, en soveel te meer ’n kaliber in hierdie klas. ’n Los koeël sal teen die voorkant van die magasynkas stamp en dieper in die dop druk wat kan lei tot moontlik drukprobleme as die doppe nie gekrimp is nie.
Ek het al geleer dit is van kritieke belang om met die .500 Jeffery ’n uniforme doplengte te hê. As gevolg van die groot deursnee van die dop is die nek/ skouer-struktuur nie so sterk soos dié van kleiner doppe nie. Omdat krimp tot so ’n mate toegepas moet word dat die koeël redelik styf vassit, bestaan daar ’n groot gevaar dat die skouer tydens die krimpproses meegee en dan so erg uitbol dat die patroon nie voer nie. Dit gebeur as jou matrys vir ’n korter dop opgestel is, selfs 0.5 mm maak ’n verskil. Dit gebeur makliker as wat ’n mens dink wanneer jy nie die doplengtes konstant dieselfde hou nie. ’n Koeëltrekker is onontbeerlik om ten minste die dryfmiddel en koeël te red as so iets gebeur (RCBS se collet-tipe werk baie goed). Doppe verskil ook van maak tot maak en party pas baie moeilik in dopskoentjies (shell holders) – ek het verskeie make skoentjies juis om hierdie rede.
Om ’n .500 Jeffery te bemeester neem lank. Dit het my drie jaar geneem om presies te bepaal waar ek die streep moet trek met die lading en dienooreenkomstige terugskop om konsekwent goed te skiet. Die meeste ander manne wat ek ken het net so lank geneem, so moet dus nie ongeduldig wees nie.
Die terugskop is vir baie ouens te veel, maar dis alles in die kop – as jy dink die geweer gaan jou stamp, dan sal dit. En as jy dink jy kan dit hanteer, dan sal jy kan!