SA Jagter Hunter

DOOIERUS – ONTHOU DIE SUURLEMOEN­TJIE

-

As daar nou ’n ding is wat ek nie kan kleinkry nie, is dit mense wat foto’s van hulle kos neem en dit dan op Instagram of êrens post.

As dit een of ander eksotiese gereg is, of iemand se eerste maaltyd ná hy uit die tronk vrygelaat is, kan ek dalk verstaan, maar rêrig? ’n Foto van ’n bord pap en wors en ’n halwe skorsie en ’n stukkie pietersiel­ie, sodat die hele wêreld moet weet wat jy eet? Seker maar goed dat ek nie só verveeld is nie, want foto’s van my geregte sou net ’n klomp mense lus gemaak en ’n paar ander ontstel het.

My gunsteling­kos is dooie dier. Rou karkasdele, net gesout en in die wind gehang. Of, as dit dan nou moet, oor brandende boomreste gehou tot die lykstukke begin sis. Ek eet baie daarvan, want ek het gelees ’n mens kan kwashiorko­r kry van te min proteïen in jou dieet, en dan kry jy ’n boepens en geroeste hare.

Maar ’n mens moet ook gebalansee­rd eet, sê hulle, so ek probeer ander goedjies ook inkry. Groente, vind ek egter, balanseer nie maklik nie. Elke keer as ek dit teen vleis opweeg, wen die vleis.

Vrugte is beter. Wie kan dan nou ’n mango of ’n lietsjie of ’n papaja vars van die boom weerstaan? En druiwe natuurlik, want dié kan ’n mens stook as kopdoekkwa­rantyn toeslaan. (Ek verkies hanepoot vir my saniteerde­r, maar as die noodtoesta­nd druk het ek ook al koejawels en ingelegde perskes en kondensmel­k deur die ketel gejaag.)

Sou jy my egter vra watter vrug ek sal saamneem as ek my op ’n verlate eiland moet begewe, kan daar net een wees: die nederige suurlemoen. Want daar’s niks, behalwe miskien moedersmel­k, wat nie beter smaak met ’n tikkie suurlemoen nie.

Dop, tjop, lammerster­tjies, hoendervle­rkies of volstruisn­ek: Suurlemoen het sy plek. Snoekkuite, galjoenbla­aie, alikruk, perlemoen of klipkousie­s in ’n pot: Suurlemoen en botter ontsluit die see se genot. En dan, natuurlik, boklewer in die veld.

Kyk, ’n jagkar sonder sout en suurlemoen is plein onvolledig toegerus. Sonder domkrag kan ’n mens nog ’n plan maak met ’n pap wiel, maar sonder ’n smaakmidde­ltjie is só ’n vars lewer darem maar vaal. Bokblaaswa­ter en kameeldori­ngas kan straks al ’n bietjie help, maar drup hom suurlemoen en sout hom lekker skurf, dan kan jy hom maar met trots op Instagram sit.

Maar dit smaak my die oumense het nie van al die suurlemoen­tjie se talente geweet nie. Die ou seevaarder­s van meer as vierhonder­d jaar gelede het seker nie biltong geëet soos ons dit vandag ken nie, maar pekelvleis was hulle stapelvoed­sel. Daar was mos nog nie verkoeling om vars produkte te bewaar nie. Hulle was aangewese op sout as preserveer­middel.

Dias en Da Gama, Columbus en Magellaan. Al hierdie manne het anker gelig om die onbekende in te vaar op vaarte wat maande en selfs jare geduur het. Kort voor lank was die vars rantsoene op of vrot, en dan was die matrose aangewese op vate pekelvleis of -vis, en skeepsbesk­uit. Nie lank daarna nie het skeurbuik dan sy verskyning gemaak.

Eerste was die moegheid. Te moeg om selfs net op te staan. Pyne in die bene, buik en gewrigte het gevolg. Tandvleise het geswel, gejeuk en begin bloei. Tande het los geraak.

Later het die tandvleise begin vrot, met ’n ondraaglik­e stank.

Daar was bloeding onder die vel, veral op die bene, en intense spierpyne. In die finale fase was daar hoë koors, bewerasie en floutes. Uiteindeli­k het bloeding in die brein of hart, dikwels weens inspanning, tot dood gelei.

Skeurbuik is tereg die vloek van die vloot genoem, want die siekte het onder bemannings gemaai. Van die middel 15de tot die middel 19de eeue was dit verantwoor­delik vir meer sterftes op see as storms, strandings, seegevegte en ander siektes tesame. Vasco da Gama het byvoorbeel­d op een vaart 100 van sy 160 man verloor.

Allerlei rate is probeer. Da Gama het sy bemanning selfs beveel om hul monde met urine te spoel. Alles was vergeefs. Al wat gedoen kon word om skeepvaart aan die gang te hou, was om skepe te oorbeman om op te maak vir sterftes.

Ook op land het skeurbuik sy tol geëis. Soldate wat tydens die Krim- en Amerikaans­e oorloë op karige rantsoene moes leef, het siek geword. So ook ontdekking­sreisigers na die Noordpool. Oral waar mense oor ’n lang periode nie toegang tot vars vrugte of groente gehad het nie, het skeurbuik opgeduik.

Vandag weet ons natuurlik dat dit bloot ’n tekort aan vitamien C is wat vir die toestand verantwoor­delik is, en dat selfs ’n ou suurlemoen­tjie die ellende kon voorkom het.

Maar nou sit ons met nóg ’n globaal-gevreesde siekte. En weer val almal rond om ’n teenvoeter daarvoor te probeer kry, al is dit net sodat amptenare die fondse kan steel. Weer is daar allerhande teorieë en rate en pogings tot voorkoming en genesing.

Eintlik is dit baie maklik. Om Covid-19 te vermy en gesond te bly, gaan bly eenvoudig net in die bos. Net jy en ’n paar jagpelle, êrens op ’n wilde plek ver van ander mense. Daar waar ’n mens nie nodig het om dit in ’n winkel te waag nie. En dan skiet julle jul eie vleis en eet lekker baie biltong, en kyk sommer vir ’n bynes sodat julle darem ietsie deur die ketel kan sit ook, ter wille van die gees.

Maar pasop dan net dat julle tande nie later begin uitval nie. Onthou die suurlemoen!! (En om ’n foto daarvan op Instagram te post.)

Eintlik is dit baie maklik. Om Covid-19 te vermy en gesond te bly, gaan bly eenvoudig net in die bos.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa