31 JAAR MET DIE 7X57 MAUSER
Te velde met ’n ou staatmaker.
Te velde met ’n ou staatmaker.
THINUS STEYN
Laat in 1988 het ek besluit om my effens aangepaste, erg vernielde .308 Israeli Mauser met ’n regte jaggeweer te vervang. Die kaliber van die nuwe roer, so het ek besluit, sou ’n 7x57 Mauser wees. Dit is immers die kaliber waarmee my voorsate die vroeë veldslae van die Anglo-Boereoorlog oorheers het en die kaliber waarmee die legendariese Skotse ivoorjagter, WDM (Karamojo) Bell, ’n treinvrag olifantbulle platgetrek het.
Plaaslike geweerskrywers soos dr. Lucas Potgieter, Tudor Howard-Davies en Gregor Woods het met lof van die 7mm Mauser gepraat, en selfs die bekende Amerikaanse jagter en skrywer, Jack Lott (vader van die .458 Lott), het ’n artikel getiteld God and the Mauser geskryf waarin hy die rol van die 7x57 in die Anglo-Boereoorlog beskryf het. Daardie jare, met beperkte praktiese ervaring en nog minder kennis van ballistiek, was ek oortuig dat die 7x57 die ballistieke eweknie van ’n towerstaf was.
DIE GEWEER
Vroeg in 1989, ’n paar maande voor die honderdste verjaarsdag van die aanvang van die AngloBoereoorlog, het ek ’n geweer in die regte kaliber, en ewe belangrik, in die regte prysklas in ’n wapenwinkel in Midrand opgespoor: ’n Musgrave K98 Light in 7x57. Hierdie geweer, gebou op ’n Brno VZ24-aksie met ’n 22” Musgrave-loop en ’n okkerneuthoutkolf in die klassieke moderne styl, het onmiddellik my hart gesteel.
Saam met ’n Bushnell 4x32teleskoop en ’n stel teleskoopmonterings, het dié geweer my effens minder as R1 500 uit die sak gejaag. Met die nuwe roer in my kluis het ek besluit om my eie ammunisie te begin laai. ’n Vriendelike dame by VLT in Pretoria het my raad gegee en gehelp met die nodige aankope. Toegerus met ’n volledige Lee-herlaaistel, die Speer Reloading Manual,
’n blik S335 en ’n pakkie PMP 170 grein-koeëls, het ek die wonderwêreld van herlaai betree.
DIE VUURDOOP
My 7x57 het sy eerste bloed op Ian Goss se plaas naby Magudu in Zoeloeland getrek. Ek het ’n groot rooibokram, met een skoot uit die vuis uit, op ’n afstand van omtrent 50 meter platgetrek. Die ram het in sy spore neergeslaan. Tolomuntle, my gids, het my entoesiasties op die skouer geklop en terug by die jagkamp het ek breëbors met die dodelike 7x57 vir ’n foto by die rooibok gestaan. Die stories is waar, of so het ek toe geglo, die 7x57 is ’n kaliber met byna bonatuurlike vermoë!
Die volgende dag vóór ontbyt het ek egter twee maklike skote op rooibokooie misgeskiet. Miskien het die 7mm ook maar sy foute, het ek besluit. Terug op die skietbaan het ek agtergekom die agterste teleskoopbasis is los. Ondanks ’n halwe dag se gesukkel kon ek nie die probleem »
» oplos nie. Die middag het ek die veld met die Musgrave minus ’n teleskoop ingevaar. Ek het ’n rooibokooi met die oop visiere op die geweer platgetrek en my vertroue in die 7x57 was herstel. Terug in Pretoria het ’n geweersmid nuwe gate vir die agterste teleskoopbasis geboor en beide basisse weer gemonteer.
Ná meer as 30 jaar het die basisse nog nie weer beweeg nie, en ek kon hulle ook nog nie weer afkry nie.
IN DIE JAGVELD
’n Volle 31 jaar is ’n lang tyd en ek kan nie meer al die jagte waarop ek die 7x57 gedra het, onthou nie. Daar was baie eerstes met die roer, my eerste koedoekoei in die berge naby Steytlerville, my eerste koedoebul naby Bedford, my eerste bosbok, takbok, rooiribbok, steenbok, springbok en swartwildebees.
Vyf jaar ná die 7x57 ’n staanplek in my kluis gekry het, het my vrou besluit om ook te begin jag. Nadat sy ’n springbok met ’n geleende .243 platgetrek het, wou sy met alle geweld haar eie geweer hê. ’n Geweersmid in
Mosselbaai het die Musgrave se kolf korter gemaak om by haar te pas en ek het ’n .30-06 vir my gebruik aangeskaf. Later het ’n .300 Winchester Magnum, ’n .222 Remington, ’n 6,5x55, ’n .303 British, ’n 6,5 Creedmoor en ’n 9,3x62 hul intrek in my kluis geneem. Intussen het sommige van dié gewere ander eienaars gekry, maar ek jag nog steeds gereeld met die 7x57. My
vrou het haar eerste koedoe – ’n ou bul met 48”-horings – met die 7x57 gejag. Tussen die twee van ons en ’n paar vriende en kliënte wat die geweer gebruik het, het die Musgrave 7x57 gesorg dat grysduikers, steenbokke, rooiribbokke, springbokke, rooibokke, bosbokke, ’n njala, blesbokke, takbokke, rooihartbeeste, swartwildebeeste, gemsbokke, blouwildebeeste, koedoes, elande en vlakvarke in die koelkamer beland.
In ’n huis in Emerald, NoordCarolina, pryk daar ’n dosyn trofeë, van springbok tot eland, wat my vriend en eertydse jagkliënt, Phillip Jackson, gedurende ’n paar jagtogte met die Musgrave 7mm platgetrek het. Soos my vrou, is Phil kort van statuur en die Musgrave met die kort kolf pas hom perfek.
Benewens wild het die 7x57 ook al heelwat ongediertes die ewigheid ingehelp. Hoewel die 7x57 nie werklik vir dié doel geskik is nie, het die Musgrave al heelwat rooijakkalse en blouape in die stof laat byt. Een agtermiddag op ’n krans, bo ’n boskloof in die Baviaansrivier-vallei naby Bedford, het ek ’n groot rooikatmannetjie met die 7x57 geskiet terwyl hy besig was om ’n dorperlam te bekruip.
Weens ’n virus het my vrou die gehoor in haar een oor verloor en ons het besluit om ’n knaldemper op die Musgrave te monteer om verdere gehoorskade te verhoed. Vir my lyk en hanteer die geweer lomp met die knaldemper op, maar sy skiet goed daarmee. Jag ek egter met die 7mm, verwyder ek die demper.
Gedurende die 31 jaar wat ons met die Musgrave 7x57 jag, het die geweer ’n verskeidenheid teleskope gedra. Ná die oorspronklike 4x32 Bushnell was daar ’n 2,5x20 Bisley, ’n K2.5 Weaver, ’n 3-9x40 Japanse Tasco, ’n 3-9x40 Leupold, ’n 1,55x20 Leupold en ’n 4-16x44 Meopta. Die groot Meopta het die klein Musgrave gepas soos wat ’n dakrak ’n Porsche 911 pas en tans is daar weer ’n 3-9x40 Leupold op die geweer. Persoonlik hou ek van ’n 2,5-8x- of ’n 3-9x-teleskoop op ’n algemene jaggeweer. Sulke teleskope bied voldoende vergroting vir jag tot op 300 meter en op die laagste vergroting gestel, werk hulle goed vir vinnige skote op kort afstand.
JAGKOEËLS VIR DIE 7X57
Ek het deur die jare met ’n verskeidenheid 7mm-koeëls – van 120 tot 175 grein in gewig en vervaardig deur Barnes, Hornady, Nosler, PMP, Sierra, Speer, Peregrine en Rhino – gejag.
Die 7x57 werk weens sy relatiewe lae spoed goed met die meeste medium- tot swaargewigloodkernjagkoeëls. Aanvanklik, beïnvloed deur dit wat ek gelees het, het ek al my jagwerk met die 7x57 met 170 tot 175 greinloodkernkoeëls teen 2 400 vps gedoen en die koeëls het goed presteer, hoewel skote verder as 200 meter ’n uitdaging was. Ek het later na die 160 grein Nosler Partition teen 2 500 vps oorgeskakel, en hierdie is steeds een van my gunstelingladings vir algemene jag. Deesdae gebruik ek meestal 130 tot 140 greinmonometaalkoeëls in die 7x57. Teen ’n trompsnelheid van 2 700 tot 2 800 vps skiet die koeëls merkbaar platter as die swaarder, meer tradisionele jagkoeëls vir die 7x57. Penetrasie, selfs in elande, is net so goed of beter as met 175 grein-loodkernkoeëls. Die ou 130 en 140 grein Barnes X, die 140 grein Barnes TSX en die 130 grein Peregrine VRG3 lewer goeie resultate op wild en is akkuraat in my geweer.
Die ou Kynoch 173 grein-volmantelkoeëls waarmee Karamojo Bell en sy tydgenote grootwild gejag het, werk ook baie goed op kleinwild. Vir trofeejag van duiker en steenbok, en om so nou en dan ’n tarentaal of haas vir die pot te skiet, kom hulle handig te pas. Ongelukkig is my voorraad van die ou Kynoch-koeëls nou uitgeput.
OPSOMMING
Die 7x57 wat oorspronklik sy buiging as ’n militêre kaliber gemaak het – eers in 1898 tydens die Spaans-Amerikaanse Oorlog in Kuba en toe ’n jaar later in die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika – het hom deeglik op die jagvelde van Afrika, Asië en Amerika bewys. Die feit dat dit ná meer as 120 jaar steeds in algemene gebruik is, spreek werklik boekdele.
Mauser se 7x57 is egter nie ’n wonderkaliber met magiese kragte nie. Die 7mm Mauser skiet nié waterpas tot op 500 jaarts nie (al sê jou oupa wat), hy skiet miskien deur ’n ploegskaar (as dit vir jou belangrik is), maar hy slaan beslis nié ’n olifant dat hy op sy agterent sit nie. Die Boerekrygers en Karamojo Bell het nie hul reputasies aan die 7x57 te danke nie, die 7x57 het sy reputasie te danke aan hulle, manne wat onder druk kon raakskiet.
Vir byna elke jagscenario waaraan ek kan dink, kan ek aan ’n meer geskikte kaliber as die 7x57 dink. Maar gelaai met die regte koeëls vir wild vanaf steenbokke tot elande, van ’n vlakvark op sewe tree tot ’n springbok op 300 meter, het ek met die 7x57 nog nooit gevoel dat ek té veel of té min geweer in my hande het nie. Soos met baie dinge in die lewe is goed genoeg, goed genoeg. Daar sal altyd ’n plek in my kluis en in my hart vir ’n 7x57 wees.