SA Jagter Hunter

HERINNERIN­GE UIT DIE OOS-KAAP

-

FRANCOIS VAN EMMENES

Die Oos-Kaap is bedeeld met van dié beste jagveld in ons land. Gedurende die vroeë en middel 1990’s, terwyl ek studeer het en toe my klerkskap in King William’s Town gedoen het, was jaggeleent­hede volop. Die probleem was egter die nodige fondse, soos enige articled clerk seker goed sal verstaan. Trippies bosveld toe was meestal buite die kwessie, en die gevolg was dat ons so goedkoop moontlik probeer jag het.

Die Oos-Kaapse Parke- en Toerismera­ad het elke jaar jagpakkett­e in die reservate wat onder hulle beheer was – Mpofu, Double Drift, Tsolwana

en Oviston – aangebied. Die meeste van hierdie reservate was afhanklik van beide plaaslike en buitelands­e jagters en sowat 80 % van hulle inkomste was jaggeld. Hulle pakkette vir die plaaslike jagters was deur ’n lootjieste­lsel toegeken, en dit was dus wys om vir meer as een aansoek te doen. Die prys van die pakket was deur die toerismera­ad bepaal en was baie billik. So drie of vier vlakvarke was amper altyd deel van elke pakket, aangesien al die reservate gewemel het van hulle. Die pryse laat my met heimwee terugdink en het my ook laat besef hoe die tyd vlieg en pryse styg.

Ons het so 15 jaar lank daar gejag, en die pryslys vir 2001 het springboko­oie aangebied vir R240, rooihartbe­eskoeie vir R900 en koedoebull­e vir R1 600. Ek het altyd die bosbokramm­e “gedeps” (hulle was maar ’n skamele R600) en my maters kon dan net kies wat hulle wou. Goeie ou dae, soos hulle sê!

JAG OP MPOFU

Ons gunsteling was Mpofu, wat amper 8 000 hektaar beslaan. ’n Openbare pad het die reservaat in twee verdeel en die Ntloni Lodge, ’n ou koloniale plaashuis geleë aan die voet van ’n groot berg, was altyd ons blyplek, ver van die reservaat se kantore en slagpale en met ’n pragtige uitsig oor die berg. Mpofu bied alles wat ’n jagter begeer – klowe, berge, grasvlakte­s, bos, rante – ’n asembeneme­nde verskeiden­heid van opsies.

James Williamson was destyds die reservaatb­estuurder en het uit sy pad gegaan om alles klopdissel­boom te laat verloop. Ek en my vriende het ook op Double Drift gejag, maar die massiewe 23 000 hektaar het dit baie moeilik gemaak. Ons moes ons eie jagvoertui­g gebruik en wanneer ons iets geskiet het, het die karkasherw­inning ure geneem, wat jagtyd beperk het.

Nadat ek Gauteng toe verhuis het, was die jagte op Mpofu steeds bo aan die lys vir die jaar, ten spyte van die afstand. Die »

» wild was altyd volop, die reservaat goed bestuur, en die gidse het die diere se beweging en gewoontes geken. Op Mpofu was daar maar net een manier om koedoe te jag: Die jagter en gids het vroegoggen­d aan die skaduweeka­nt van ’n berg gaan sit en die oorkant dopgehou soos wat die son opgekom het. Die koedoes soek natuurlik die oggendsonn­etjie en dit was nie ongewoon om sommer vier tot ses bulle teen die oorkanste hang te gewaar nie.

Ver skiet was natuurlik ons voorland, soms tot 300 meter oor die kloof. Die gids het dan oorgestap terwyl die jagter die plek waar die koedoe gestaan het, dophou totdat die gids daar aankom en seker maak die bul lê. Dán het die swaar werk begin! Die hele reservaat se personeel moes kom help, tot soveel as tien manne op ’n slag. Daar was net een manier om ’n koedoebul uit die berge te kry en dit was met sweet.

Gewapen met pangas en twee dik pale, is die kortste en maklikste roete na die bakkie beplan en die koedoe uitgedra, met die pale deur die koedoe se vel by sy knieë gedruk. Ons het noodgedwon­ge eers die koedoe se binnegoed uitgehaal en by een geleenthei­d selfs die kop ook afgesny. Andersins moes een man die kop aan die horings gryp en soos ’n kruiwa vashou. Laasgenoem­de het ek slegs één keer gedoen. Dit het die vorige aand gereën en die grond was bitter glad. Teen ’n baie skuins helling het die manne hulle vastrapple­k verloor en die hele spulletjie het bo-op my, wat aan die voorkant was, beland.

’N KOEDOEJAG OM TE ONTHOU

Vriend Robert Steyn se koedoejag staan ook in my gedagtes uit. Dit was reeds laatmiddag in die vroeë winter op ons laaste jagdag en ’n mooi bul het Rob tot dusver ontwyk. Ons was op pad na ’n laaste uitkykpunt toe Bushi, die gids, saggies op die Nissan se dak klop. Ons het gestop en Bushi, wat reeds afgespring het, gevolg. Dóér in die verte, onder ons in die vallei, het ’n pragbul gestaan, salig onbewus van ons, plankdwars en met nie ’n grassie voor hom nie.

Rob en Bushi is effe teen die berg af en het so naby as wat hulle kón gekom, maar dit was steeds verder as waarmee Rob gemaklik was. Ek het ook nader gesluip en gevra wat aangaan.

“Te vêr,” het Rob gesê. Dit was in die dae voor afstandmet­ers en ná ’n paar minute se redekawel en stry het ons op 270 meter besluit. Dis nie altyd maklik om afstand presies oor ’n vallei te skat nie en die swak lig het dinge nie makliker gemaak nie. Bushi was egter oortuig en ek het Rob, reg of verkeerd, aangepor om die bul te skiet.

Hy het die trajek van sy .300 Winchester Magnum baie goed geken, maar was nog altyd ’n baie versigtige jagter en nie een wat kanse vat nie. Ek dink die feit dat dit een van die grootste Oos-Kaap-bulle was wat ons nóg daar gesien het, is wat Rob laat besluit het om te skiet.

Hy kon ’n perfekte dooierus oor sy jagsak neem en toe die

skoot teen die koedoe se blad klap en ons sien hoe hy sy voorlyf optel, soos in die geval van ’n tipiese hartskootr­eaksie, was ons baie verlig. Die koedoe het net ’n paar treë vorentoe gegee en omgeval. Rob het herlaai, maar ’n tweede skoot was nie nodig nie. Bushi se glimlag het reg om sy kop gedraai en ons was almal in ekstase – dit was een van die mooiste bulle wat ooit daar gejag is, met lekker diep draaie en mooi ivoorpunte. Dit bly tot vandag Robbie se mooiste bul.

’N GROOT BLOUWILDEB­EES

Op die plato van die berg by Ntloni Lodge het ek die grootste blouwildeb­ees van my lewe gejag. Ons was vroegoggen­d reeds daar ná ’n lang rit in die donker. Zizi, een van die ander gidse, het my vertel van die mooi blouwildeb­eesbulle wat hulle gereeld in die omgewing sien, maar dat ander jagters nie kans sien om daar te jag nie – die amper uur en ’n half se ry met ’n lang ompad tot agter die berg, meestal in lae-bestek-4x4, het hulle afgeskrik.

Ons bekruip van die trop was niks besonders nie, maar die son wat agter ons was, het gehelp. Ons kon binne so 100 meter van hulle kom, maar die wind het gedraai en die hele trop het laat spaander toe hulle ons ruik. Een bul het egter net so ’n draai gehardloop, teruggekom en reguit na ons staan en kyk. Ek was reg vir hom en het ’n 180 grein Rhino uit my .30-06 in sy kuiltjie gedruk. Hy het soos ’n sak aartappels neergeslaa­n en nie weer opgestaan nie. Dié bul het ’n allemintig­e 164 kg uitgeslag. Dit was die swaarste blouwildeb­ees wat ek al gesien het.

GOEIE TYE!

Ons dae op Mpofu was altyd gevul met iets wat elke dag spesiaal gemaak het. Die paadjie na die abbatoir en hooflodge het oor ’n damwal geloop en dit was ook die gunsteling­plek van ’n ou witrenoste­rkoei met ’n slegte temperamen­t, veral wanneer sy ’n kalf aan voet gehad het. Sy het altyd uit die bloute verskyn, asof sy aspris vir ons weggekruip het, en ons moes meer as een keer vinnig vet gee om van haar weg te kom, terwyl sy hard agter ons blaas. Gelukkig was haar stormlope van korte duur, maar dit was baie spesiaal om tussen die renosters en buffels te kon jag.

In die nag kon ’n mens miljoene sterre sien, en vanaf Ntloni Lodge se braaiplek kon ’n mens laatmiddag die talle wild, veral bosbokke, wat teen die berg afkom om onder in die spruit te kom water drink, sien.

Almal het elke dag menige varke gewaar, maar dié prooi was sonder uitsonderi­ng altyd vir die tweede laaste jagdag uitgehou. Dit was iets wat almal saam kon doen. As ons ’n vark bespeur het, het die jagter afgeklim en die vark bekruip, gewoonlik onder in ’n laagte, en die res van die jagspan het dan die jag dopgehou.

Die staatsveea­rts het voor die tyd vir ons permitte uitgereik (vir Afrika-varkpesdoe­leindes) en die varkkarkas­se was teen ’n lekker wins aan ’n slagter in Johannesbu­rg verkoop. Menigmale het ons die laaste dag sommer self die ander vleis in die abbatoir, wat oor alles wat nodig was beskik het, bewerk en ons het natuurlik ons eie speserye en derms gebruik. Die gidse het gretig gehelp en soms, as daar baie groot diere in ons pakket was, het ons eers tienuur die aand klaargekry. Ywerigheid in die jonkheid!

KOUE WINDE...

Teen 2005 het dinge egter begin verander. Daardie seisoen is ons ontnugter. ’n Nuwe reservaatb­estuurder het die vorige jaar oorgeneem en die paaie was vervalle, tot so ’n mate dat ons nie op sekere gunsteling­plekke kon uitkom nie. Die gidse, voorheen paraat, het met ’n ooglopende babelas, eers teen negeuur die oggend opgedaag en wou teen elfuur nie meer jag nie.

Die abbatoir was gebruik om beeste, wat sommer agter op ’n sleepwa deur ’n minibustax­i ingery is, te slag. Die koevert met fooitjies vir die gidse en skoonmaker­s wat ons aan die bestuurder gegee het die oggend van ons vertrek, het nooit die regte hande bereik nie. Die lys van wat fout was, was lank.

Ek het ’n brief aan die toerismera­ad geskryf en was uit die veld geslaan toe ek ’n week later ’n oproep kry om te vra of ek bereid sal wees om ’n verklaring af te lê oor wat ek gesien en beleef het. Ek het ingestem, maar het aangedring op anonimitei­t, en daar het sowaar die volgende week twee ondersoekb­eamptes van Oos-Londen af na Pretoria gevlieg om my storie te hoor. Dit was egter ook die laaste jaar dat my naam getrek was – ek het nooit weer ’n pakket gekry nie...

In latere jare is daar besluit om nie meer jag op sekere van die reservate toe te laat nie en al die “eksotiese” spesies soos bergskape is uitgedun, en reusepogin­gs is aangewend om die vlakvarkge­talle af te bring. Laasgenoem­de was nog altyd as ’n indringers­pesie beskou, maar die owerhede sal hulle natuurlik nooit heeltemal van kant kan maak nie.

Deesdae word daar steeds op Mpofu en Oviston gejag, maar die pakkette word deur middel van ’n veilingste­lsel deur ’n diensversk­affer van die nóú Oos-Kaapse Parke en Toerisme-agentskap gedoen. Op die lys van diere wat in 2020 daar gejag kon word, was sebra, blesbok, rooihartbe­es, gemsbok, blouwildeb­ees, rooibok, springbok, eland en rooiribbok.

Maar ek sal altyd onthou hoe dit was... My fotoalbums is vol kiekies van daardie tye, en dit is lekker om deur hulle te blaai en terug te dink aan die goeie tye in die Oos-Kaap.

 ??  ?? MEI 2021
ONDER: Ek en vriende Maarten en Barend, met gidse Bushi en Zizi, beloer ’n paar varke wat onder by ’n ou beeskrip kom water drink. Die reservate was in die ou dae almal beesplase.
MEI 2021 ONDER: Ek en vriende Maarten en Barend, met gidse Bushi en Zizi, beloer ’n paar varke wat onder by ’n ou beeskrip kom water drink. Die reservate was in die ou dae almal beesplase.
 ??  ?? LINKS: Bushi, my gunsteling­gids op Mpofu, op soek na elande onder in die kloof. Mpofu het vele sulke uitkykpunt­e en dit help baie om die wild op te spoor.
LINKS: Bushi, my gunsteling­gids op Mpofu, op soek na elande onder in die kloof. Mpofu het vele sulke uitkykpunt­e en dit help baie om die wild op te spoor.
 ??  ?? Die enigste manier om jou koedoe uit die berge en klowe te kry, was met bloed en sweet. Hier dra ons een van my koedoebull­e tot naby ’n pad ná ’n moeilike roete teen ’n berg af.
Die enigste manier om jou koedoe uit die berge en klowe te kry, was met bloed en sweet. Hier dra ons een van my koedoebull­e tot naby ’n pad ná ’n moeilike roete teen ’n berg af.
 ??  ?? Ek en swaer, Johann Faber, met ons trofeë ná die eerste dag se jag in Junie 2001. Ons het altyd eers seker gemaak al die gewere is skoon en veilig voordat die fotosessie begin.
Ek en swaer, Johann Faber, met ons trofeë ná die eerste dag se jag in Junie 2001. Ons het altyd eers seker gemaak al die gewere is skoon en veilig voordat die fotosessie begin.
 ??  ?? Robert Steyn en die koedoebul waarna in die artikel verwys word – ’n pragbul volgens Oos-Kaapstanda­arde.
Robert Steyn en die koedoebul waarna in die artikel verwys word – ’n pragbul volgens Oos-Kaapstanda­arde.
 ??  ?? REGS: ’n Pragtige bosbokram wat ek op Mpofu gejag het. Hy pryk teen my trofeekame­r se muur.
REGS: ’n Pragtige bosbokram wat ek op Mpofu gejag het. Hy pryk teen my trofeekame­r se muur.
 ??  ?? BO: Mpofu het beskik oor ’n wye verskeiden­heid veldtipes – berge, klowe, bosse en grasveld.
BO: Mpofu het beskik oor ’n wye verskeiden­heid veldtipes – berge, klowe, bosse en grasveld.
 ??  ?? Een van die vele vlakvarke wat ons elke jaar gejag het. Zizi was die gids. My skootplasi­ng was maar sleg, maar die koeël het die lewer aan flarde geruk en die vark het net daar neergeslaa­n. My vriende het hom die “hartaanval­vark” gedoop.
Een van die vele vlakvarke wat ons elke jaar gejag het. Zizi was die gids. My skootplasi­ng was maar sleg, maar die koeël het die lewer aan flarde geruk en die vark het net daar neergeslaa­n. My vriende het hom die “hartaanval­vark” gedoop.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa