IS JY GEREED VIR JOU EERSTE BOOGJAG?
Jou boog is nou ingestel en jy wil jou eerste bok daarmee jag, maar daar is ’n paar dinge om in gedagte te hou.
Daar is 'n paar dinge om te onthou... REAN STEENKAMP
Jy het ’n goeie boog en pyle. Jou boog is ingestel en is ’n wapen waarop jy kan staatmaak. Daar word gereeld geoefen en jy tref die kol keer op keer. Nou wil jy graag jou eerste bok met die boog plattrek, maar hoe weet jy jy is gereed daarvoor?
Indien jy enigsins twyfel of jou boog reg ingestel is, besoek jou naaste boogwinkel. Die mense wat daar werk, stel elke dag boë in en is baie kundig. Ek het al voorheen genoem dat hulle in baie gevalle selfs meer kundig is as van die mees ervare jagters. Hulle sal ook help om seker te maak dat die pyle wat jy skiet regtig korrek vlieg. In ’n volgende artikel vertel Harry Marx meer oor hoe om jou boog baie fyn in te stel. Dit is veral handig wanneer ’n boogskut oor langer afstande wil skiet.
BEPAAL AFSTAND SÓ
Baie jare gelede, toe ek ’n boogjagkursus gedoen het, het die instrukteur vir ons gesê jy is gereed om tot op die afstand te jag waar jy agt uit tien skote in ’n kol so groot soos ’n piering kan skiet. Ek stem nie heeltemal saam nie. Jy kan jag oor die afstand waar jy tien uit die tien skote in ’n kol so groot soos ’n piering kan skiet. Wanneer die bok voor jou staan en bokkoors skop in, kan jy bykans seker wees jy gaan een van daardie twee swakste skote uit die tien skote skiet. Agt uit tien is dus net eenvoudig nie goed genoeg nie.
Skiet tien skote op 15 tree; indien jy al tien in die kol het, skiet dan tien van 20 tree af. As al tien in die kol is, tree nog vyf tree terug en skiet weer. Hou só aan totdat jy een pyl misskiet. Tree dan terug na die vorige
afstand en skiet weer tien pyle. Indien al tien in die kol is, is dit waarskynlik die verste afstand waaroor jy ’n bok met jou boog kan jag. Ek sê waarskynlik, want jy sal nog ’n paar keer die oefening oor dié afstand moet herhaal en eers wanneer jy seker is jy skiet elke keer al jou skote in die kol, weet jy dit is jou maksimum jagafstand. Hierdie oefening sal jou ook help om te bevestig dat jou visier op die verskillende afstande wat jy skiet, reg ingestel is.
Wanneer jy vir die eerste keer gaan jag, kan jy maar weet jy gaan bokkoors kry. Moet dus nie probeer om jou eerste bok op die maksimum afstand te skiet nie. Skiet eerder oor ’n korter afstand. Wanneer die pyl eers die boog verlaat het, is daar nie omkeer nie. Dan is spyt té laat.
BOOG OF SKUILING?
Jy moet nou besluit of jy uit ’n skuiling of te voet gaan jag. Om ’n bok te voet te jag is gewis nie maklik nie, maar dalk het jy baie ervaring daarmee opgedoen terwyl jy met die geweer gejag het. Jy mag dus voel jy is gereed om dieselfde met die boog te doen. Dit is nie vir my om te besluit wie ervare genoeg is om dit te doen en wie nie.
Dit is beter om in die begin eers vanuit ’n skuiling te jag. Wanneer jy ’n klompie bokke uit die skuiling geskiet het en meer ervare is, kan jy begin loop en bekruip. Jy sal self weet. Dis egter belangrik om te besef dat jy baie nader aan die bok moet kom om die dier ’n doodskoot te gee as wat nodig is met die geweer. ’n Ervare jagter soos dr. Adrian de Villiers jag net te voet en skiet gereeld bokke oor afstande van 65 tree en verder. Nie elke jagter kan dit doen nie en gewis nie iemand wat sy eerste bok wil plattrek nie.
Ek het een keer ’n blesbok oor 55 tree in die berge naby Clarens geskiet. Ons het die hele dag te perd agter die bokke aan gery met die hoop dat ons binne afstand vir ’n nabyskoot kan kom. Teen die einde van die dag was daar net een geleent- »
» heid en dit was eintlik té ver vir my. Ná al die harde werk, en omdat ek nie graag met leë hande wou huis toe gaan nie, het ek besluit om te skiet. Gelukkig was die skoot sekuur en die bok het geval. Staan ek vandag voor dieselfde keuse sal ek nie skiet nie. Ek ry eerder terug huis toe sonder ’n bok as om by die kampvuur sit en te dink aan die gekweste bok wat stadig in die veld doodgaan en jakkalskos word.
Die meeste jagters wil met die eerste jag ’n rooibok of vlakvark skiet omdat dit van die goedkoper diere is om te jag. Albei is egter snaarspringers, terwyl van die groter diere soos ’n blouwildebees nie so maklik die snaar spring nie en ook ’n groter hart/ long-area het. Kilogram vir kilogram is wildebeeste nie regtig duurder as rooibokke of vlakvarke nie en gewis ’n beter opsie om te kies vir ’n eerste dier om te boogjag.
“Snaarspring” is nie ’n bekende term onder geweerjagters nie omdat ’n koeël uit ’n geweer baie vinniger beweeg as ’n pyl uit ’n boog. Elke boogjagter met ’n bietjie ervaring weet egter presies wat dié woord beteken. My eerste ervaring met dié eienskap van sommige diere was met ’n vlakvark. Dit was bykans twee dekades gelede en ek het op ’n plaas naby Hoedspruit te voet gejag toe ek ’n vlakvark naby my in die grond hoor skrop. Die dier was op sy knieë besig om vir iets in die grond te grou. Ek was ongeveer 14 tree van hom af, agter ’n bos verskuil en het ’n pyl versigtig in my langboog se snaar gehaak. Terwyl ek intens op ’n kolletjie op die dier se enjinkamer gefokus het, het ek die boog versigtig gespan, my snaarhand ontspan en gesien hoe die pyl bykans geruisloos op die vark afpyl... en die dier heeltemal mis. Voordat die pyl kon tref het die vlakvark uit die pad uit beweeg en met sy stertjie in die lug die bos in verdwyn.
Ek het die pyl gekry waar dit laag onder in ’n boomstam gepen het en die trajek van waar ek geskiet het, probeer naspoor. Die lyn van daar waar die pyl die boog verlaat het tot dit die boom getref het, was deur die vlakvark se lyf. Die vlakvark het gehoor toe die boog skiet en dadelik begin beweeg. In ’n breukdeel van ’n sekonde het hy die pyl heeltemal vermy! Dié aand by die kamp het ’n meer ervare jagter net geglimlag toe ek my verhaal vertel en gesê: “Nou weet jy ook wat snaarspring beteken!”
’n Kragboog skiet baie vinniger as ’n houtboog en sou ek die dier daarmee geskiet het, was die kanse gering dat dit die
snaar sou spring. Indien ’n jagter wel besluit om ’n rooibok, springbok of vlakvark te skiet, moet hy seker maak die dier is baie ontspanne en staan nie verder as 22 meter nie.
DIE GEHEIM VAN SKUILINGS
Om uit ’n skuiling te jag is gewis makliker as om te voet te jag, maar daar is tog ’n paar dinge wat ’n voornemende boogjagter in gedagte moet hou om suksesvol te wees. Alle skuilings is nie dieselfde nie. Soms is die skuiling nie dig genoeg is nie en sodoende word reuk en klank te maklik deurgelaat. ’n Mens vind dit veral by skuilings wat uit hout gemaak is.
Die skietopening is partykeer nie wyd genoeg of op die regte hoogte nie. Jou beter skuilings se skietvenster maak hiervoor voorsiening. Dit is onnodig om te sê dat nie alle boogskutters dieselfde fisieke eienskappe het nie. Uit ons vriendegroep wat saam jag wissel ons lengtes van 1,72 tot 1,96 meter. ’n Goeie skuiling sal hierdie variasie kan akkommodeer.
Die skietopening is soms nie op die regte plek nie. Sommige van ons is regshandig en ander linkshandig. Dan het ek my ook al in ’n lugskuiling so vyf meter bo die grond bevind. Hier moes ek seker maak dat my lewensversekering in plek is voordat ek die skuiling kon betree. Ek dink die veiligheidsfaktor is meer kritiek met lugskuilings, maar wees maar op jou hoede vir daardie onverwagte besoek deur ’n swartmamba.
Baie skuilings is maar net nie stil genoeg nie, soos wat die geval is met skuilings wat te veel wind en reuk deurlaat. Ek het gevind dat die skuiling wat uit ’n meer kompakte materiaal gebou is klank baie beter demp. ’n Binnekant wat uitgelê is met voerband en mat help dat jy nie gehoor word wanneer jy in die skuiling beweeg nie.
Jy moet gou aanleer om jouself stil in die skuiling te gedra, nie onnodig te beweeg nie, nie lekkergoedpapiere oop te skeur nie en veral om nie skerp, metaalagtige klanke te maak nie. Diere kan baie beter hoor as wat baie jagters dink. Wanneer jy met ’n boog begin jag, besef jy baie gou hoe goed bokke se sintuie is.
Kom ons kyk na die items
» wat ’n mens eenvoudig moet saamvat skuiling toe. Jou meganiese sneller is seker die belangrikste item. Dié sneller is eerste op die lys bloot omdat dit die ding is wat boogjagters die meeste vergeet. Daarna natuurlik jou boog met pyle wat toegerus is met vlymskerp jagpunte.
Die volgende is ’n afstandmeter en ’n verkyker. Nie een van die twee is ’n moet nie, maar die afstandmeter is belangrik as jy nie so gekonfyt is met afstandskat nie. Dis belangrik om die kwes van wild tot ’n minimum te beperk. Die verkyker help om die tyd te verdryf en spesifieke diere te identifiseer. ’n Goeie mes is altyd nodig en handig onder enige omstandighede. Ek verkies ’n veeldoelige mes (multi tool) en ek neem gewoonlik ook tou en ’n stuk gekamoefleerde lap saam. Partykeer is daar ’n opening êrens in die skuiling wat onnodige lig inlaat wat ek dan daarmee toemaak.
Dit is ’n feit dat ’n mens soms baie ure in ’n skuiling deurbring. ’n Goeie boek sal help om die tyd op ’n sinvolle manier om te kry. ’n Paar ou SA JAGTER/ HUNTER-tydskrifte sal baie help om die tyd mee te verdryf en dit kan gewis nie skade doen om ’n handleiding of papierafdrukke van waar die verskillende bokke geskiet moet word (kill zones) byderhand te hê nie. Dit gee ’n mens nogal baie gemoedsrus wanneer ’n spesifieke boksoort voor jou staan en jy weet presies waar om te mik.
Die jagter moet ook water of koeldrank saamvat, en miskien iets om te eet. Op baie jagplase word die jagters opgelaai vir ’n laat ontbyt of middagete. Indien nie, is iets te ete baie belangrik. Verpak dit egter op só ’n manier dat dit met min geraas uitgehaal kan word. Wanneer ek in ’n skuiling gaan, haal ek dadelik alles wat ek beplan om te gebruik, eet of te drink uit my jagsak en plaas dit op ’n plek waar dit maklik binne bereik is en nie in die pad gaan wees wanneer ek regstaan om die bok te skiet nie.
Die vermoë om uit die skuiling te kan kommunikeer is noodsaaklik. Baie plase het selfoonopvangs en dit vergemaklik alles. Ander plase het tweerigtingradio’s wat net so goed werk. Die geheim is net om die foon of radio afgeskakel te hou tot ná jy geskiet het en om dan kontak te maak (maar bly in die skuiling).
Maak maar vroegoggend jou draai by die toilet, want jy gaan lank in die skuiling sit en op die meeste plase word jy nie toegelaat om op jou eie die skuiling te verlaat nie. Indien die nood té groot raak, kan jy die plaaseienaar of professionele jagter bel of per radio vra om jou op te laai. In die meeste skuilings word darem voorsiening gemaak indien jou blaas begin pla.
Daar is nog heelwat om te sê oor skuilingjag en wat om te doen (of nie te doen nie) om seker te maak dat die bokke wat inkom lank genoeg staan sodat ’n mens kan skiet, wanneer jy moet skiet en wanneer nie, hoe om bokkoors te bekamp en wat jy doen nadat jy die bok geskiet het. In die volgende artikel skryf ek meer hieroor, asook oor wat om in gedagte te hou wanneer jy te voet jag.