HOE OM MET MIN GELD TE BEGIN HERLAAI – DEEL 2
CASSIE NIENABER
Met fabrieksammunisie word ’n geweer se akkuraatheidspotensiaal dikwels nie bereik nie. Soms is pasmaakammunisie, wat spesifiek vir daardie geweer ontwikkel en gelaai word, nodig om die geweer se potensiaal ten volle te verwesenlik, hetsy vir jag of kompetisieskiet. Kom ons begin daarom met die lekker deel, die herlaai of selflaai van ons eie patrone.
SKUIFPASSER (VERNIER)
Die meeste patroonmates kan met bykans enige skuifpasser (vernier) gemeet word, hetsy meganies of elektronies. Die elektroniese tipes het egter die voordeel dat dit makliker is om die mates daarop af te lees, en dit meet ook in beide duim en millimeter. Baie mates vir herlaai word tradisioneel in duime aangedui, en dis makliker om in duim te meet as om somme te maak vir omskakeling.
Elektroniese skuifpassers wat self afskakel, is handig, want die battery hou nie lank as ’n mens die apparaat aan vergeet nie.
Pasop dat jy nie tydens meting die kake onnodig hard toedruk nie – dit kan lei tot foutiewe lesings. Pas dus matige en konstante druk tydens meting toe. Dis ook goed om die komponent wat gemeet word rond te wikkel om seker te maak dat dit wel sy lê gekry het en dat die kake behoorlik daarmee kontak maak.
Indien ’n skuifpasser soms in die toeposisie vashaak, kan dit wees dat die kake se skerp puntjies effe gebuig is en hulle daar aan mekaar haak. Skuur die puntjies liggies aan hulle agterkante met 600 of fyner waterskuurpapier totdat hulle glad en vry by mekaar verbyskuif. (Sien foto hiernaas.)
DIE HERLAAIPROSES
Ek sal begin deur die hele proses soos volg te verduidelik: Tydens die afvuur van ’n patroon ontbrand die dryfmiddel in die dop. Dit skep gas wat blitsvinnig uitsit en genoegsame druk veroorsaak sodat dit die koeël uit die dop stoot en in die geweerloop afjaag. Gedurende die proses swel, of rek, die dop (dit moet gebeur sodat die koeël losgelaat kan word). Die dop rek soveel dat dit nie weer ’n nuwe koeël styf genoeg sal vashou nie, en dit mag dalk ook te styf in die wapen se kamer pas. Die gevuurde dop moet dus kleiner gekrimp (hervorm) word, sodat dit weer die nuwe koeël kan vashou en gemaklik in die wapen se kamer kan pas.
Tydens hervorming word die gebruikte slagdop verwyder. Daarna moet ’n nuwe slagdop, dryfmiddel (kruit) en koeël in hierdie hervormde dop geplaas word. En siedaar, jy het ’n “nuwe” patroon! Om jou eie patrone te laai, is nie net maklik nie, maar ook ’n vervullende proses. Selfs diegene met die spreekwoordelike tien duime kan dit baasraak.
In dié reeks artikels gaan ek dikwels Engelse terme vir her
laaigereedskap en ander dinge gebruik omdat dit só by herlaaiers bekend is en Afrikaanse terme bykans nooit in die spreektaal gebruik word nie.
ONTHOU! Vir herhaalbare en akkurate resultate is uniformiteit baie belangrik. Dit behels dat al jou patrone, een vir een, in alle opsigte, ’n presiese weergawe of kloon van sy maats moet wees. Vra jouself dus altyd of die komponente wat jy aankoop en die werk wat jy tydens herlaai daaraan doen, bydra tot of afbreuk doen aan uniformiteit.
As raamwerk vir die bespreking, kom ons hou by die volgorde van die herlaaiproses se stappe en hanteer die opstelling en onderhoud van die toerusting tesame daarmee.
VERWYDER DIE GEBRUIKTE SLAGDOP
Alhoewel die gebruikte slagdop ook tydens die hervorming van die dop uitgedruk kan word, verkies ek om dit vooraf as ’n stap op sy eie te verwyder, omdat ’n gebruikte slagdop effe agter by die dop se kop kan uitsteek, wat akkurate dopafmetings benadeel, dit makliker is om die dop skoon te maak, water uit die dop te skud en dit te droog sonder die gebruikte slagdop daarin.
Die slagdop word met ’n doelgemaakte matrys (decapping die) verwyder. Hierdie matrys bestaan uit ’n hol buis, wat glad nie aan die dop raak of dit hervorm nie, en ’n pen (decapping pin) wat aan die middel van die buis koppel en waarmee die slagdop uitgedruk word. (Sien foto hierbo.)
SKOONMAAK VAN SLAGDOPKAMER
Die detonasie van die slagdop laat verbrande residu op die bodem van die slagdopkamer. Verwyder dit om seker te wees dat die nuwe slagdoppe korrek en almal ewe diep gemonteer word. Daar is heelwat apparate hiervoor beskikbaar. (Sien foto’s hieronder.)
Dis belangrik om seker te maak dat die apparaat nie so styf pas dat dit die sykante van die slagdopkamer beskadig nie. Wees versigtig en gebruik dit op so ’n wyse dat dit slegs die residu van die bodem verwyder sonder dat dit die dopmateriaal self beskadig.
SKOONMAAK VAN DOPPE
Borsel minstens die los koolstofdeeltjies binne uit die dop en vee die buitekant met ’n sagte lap skoon. Daar is verskeie middels beskikbaar waarmee doppe chemies skoongemaak kan word. Vir my is dit die doeltreffendste om doppe in ’n wet rotary tumbler met vlekvryestaal-pennetjies of -stafies (stainless media) skoon te maak, wat verseker dat die doppe binne en buite silwerskoon is. Doppe wat binne skoon is, is sagter op jou herlaaitoerusting en dra by tot ’n meer konstante dopnekgreep en loslaat van die koeël.
INSPEKTEER DOPPE
Inspekteer die doppe vir sigbare defekte, veral krake en barste. Gebruik ’n vergrootglas hiervoor, of nog makliker, een wat sy eie lig verskaf en ’n buigbare nek het.
UITGLOEI (ANNEALING)
Die geelkoper (brass) waarvan patroondoppe gemaak word, is ’n mengsel van 70 %-rooikoper en 30 %-sink. Geelkoper verhard wanneer jy daarmee werk – in Engels word dit work hardening genoem. Geelkoper werk andersom as staal. Wanneer met geelkoper gewerk word, verhard dit, en wanneer dit verhit word, word dit weer sag en vervorm dit makliker. Wanneer ’n patroon afgevuur word, rek die dop uit weens die druk tydens ontbranding en word die dop as’t ware teen die wande van die wapen se kamer “vasgestamp”. Om die dop weer te gebruik, moet ons dit kleiner druk deur dit met ’n matrys te hervorm. Al die bogenoemde lei daartoe dat doppe wat vir herlaai gebruik word, verhard.
Op mikrovlak raak die deeltjies of kristalle (grains) waaruit geelkoper bestaan tydens die proses van verharding, gedisoriënteer. In Engels word daar gepraat van dislocations in die mikrostruktuur van die materiaal. Die deeltjies gly dan nie meer maklik oor of verby mekaar wanneer dit rek en krimp nie. Die uiteinde is dat die geelkoper hard raak met ’n verlies aan rekbaarheid (ductility). Dit bied dan weerstand teen vervorming. Wanneer so ’n dop hervorm word, spring dit terug na die oorspronklike vorm of grootte en hou die koeël nie styf genoeg vas nie. Die resultaat hiervan is ’n moontlike verlies aan akkuraatheid. Tweedens het die harde doppe ’n verkorte lewe omdat die nekke kraak.
Verhitting herrangskik die deeltjies van die geelkoper op mikrovlak en bring hulle weer in ewewig met mekaar sodat hulle maklik oor of verby mekaar gly. Hierdie proses word uitgloei (annealing) genoem. Die uitgloei van doppe is regtig nie ’n moeilike proses nie, maar die resultaat kan wel gevaarlik wees indien dit verkeerd gedoen
word. Soos gesien in die foto op volgende bladsy heelbo, benodig jy ’n elektriese of batteryaangedrewe boor of skroewedraaier, ’n gasvlam met ’n dun, skerp punt (pencil flame – dit word deur kokke gebruik en staan ook bekend as ’n chef’s torch ),’nhouer waarbinne die dop losweg pas en Tempilaq om die temperatuur aan te dui. Die Tempilaq smelt by 475 °F of 246 °C.
Wend ’n kolletjie Tempilaq so 10 mm onder die skouer, op die dop se romp aan. Begin met so vyf doppe. Wanneer die nek 650 °F bereik, is die temperatuur 475 °F by die kolletjie en sal dit begin smelt. Dan moet jy die vlam van die dop af wegneem. Teen 650 °F vind die uitgloei-proses volledig op die nek plaas. Indien ons Tempilaq direk op die nek sou aanwend, mag die temperatuurindikasie verkeerd wees omdat die vlam dan direk op die Tempilaq
brand. Die metode met Tem-»
» pilaq teen 475 °F op die romp lewer beter en meer herhaalbare resultate.
Wees baie versigtig met die “metode” om doppe wat jy tussen jou vingers vashou, warm te maak tot dit jou vingers brand. Jou vingers verloor met elke nuwe dop meer sensitiwiteit, met die gevolg dat jy later die doppe al hoe warmer maak. Vermy die metode om doppe regop in ’n pan water te laat staan, dit te verhit tot dit rooi gloei en dan in die water om te stamp. Wanneer die doppe rooi gloei, het dit ’n temperatuur van 1 000+ °F bereik. As jy die doppe warmer maak as 750 °F begin jy die sink uit die dop brand en het die vlam dikwels ’n groenblou skynsel. Dit is gevaarlik, want die sink gee sterkte en ’n mate van veerkragtigheid aan die dop. Sonder of met minder sink kan die dop moontlik tydens die afvuur van die patroon bars.
Stel die boor met dophouer en gasvlam op sodat dit opgelyn staan en gemaklik is om te gebruik, sonder om een van die twee heeltyd vas te hou, soos in die foto regs. Die dophouer het ’n stang waarmee dit aan die boor gekoppel kan word. Die dop pas losweg in die houer, sodat dit maklik en vinnig uitgegooi kan word. Jy kan jou eie dophouer prakseer uit ’n stukkie pyp waarbinne die dop losweg pas en deur ’n stang agter in die pyp vas te sit met iets soos byvoorbeeld Pratley Putty.
Verhit slegs die dop se nek terwyl die boor dit roteer en die vlam aan die middel van die nek raak. Hou die Tempilaq dop tot dit smelt (wanneer die kleur verander van wit na waterig of deurskynend). Gooi die dop in ’n bak met water uit. Wanneer ons die verhitte dop in water gooi, staak ons die proses, sodat die dop nie warmer as wat nodig is word en so beskadig nie. Dit keer ook dat die hitte nie na die romp versprei nie. Onthou, ons wil slegs die nek en skouerarea sagmaak sodat die doppe uniform is en weer korrek hervorm kan word. ’n Dop wat te sag op sy romp is kan ook moontlik tydens die afvuur van die skoot bars. Neem die tyd wat dit neem tot die Tempilaq op elke dop smelt met ’n stophorlosie. Bereken die gemiddelde tyd op die vyf doppe en gloei die res van die doppe dan vir daardie tydperk uit. Tempilaq verhard mettertyd in die bottel. Dit word maklik en goedkoop met gewone naellakverwyderaar verdun. Ek draai elektriese isoleerband styf om die bottel en prop en bêre die bottel onderstebo om te help keer dat die inhoud vinnig uitdroog.
Let op dat die hitteverspreiding op ’n vuil dop nie maklik gesien word nie. Dit word baie maklik op skoon en nuwe doppe gesien. Op die doppe wat met Mamba-seep skoongemaak is, wys die verkleuring weens die hitteverspreiding baie duidelik. Die kleur beweeg net verby die skouer sodra die Tempilaq smelt. Die verkleuring is dus ’n aanduiding van wanneer die uitgloeiproses voltooi is. Nuwe doppe wys ook weens die hitteverspreiding die verkleuring baie duidelik.
NEEM KENNIS HIERVAN:
Ons gloei ’n dop uit VOOR enige hervorming daaraan gedoen word, om te verseker dat die dop sag genoeg is om behoorlik te hervorm. Omdat ek seker wil wees dat nuwe doppe wel uniform is, gloei ek hulle self ook voor gebruik uit. Om by te dra tot uniformiteit, gloei ek ELKE keer ’n gebruikte dop uit voor ek dit hervorm.
Dit is handig om die doppe met lugdruk droog te blaas. Laat staan die doppe vir ’n dag of so om seker te wees dat dit behoorlik droog is voordat jy herlaai.
* In die volgende artikel gaan ons voort met die voorbereiding van doppe vir die eerste gebruik asook herlaai. Lekker herlaai!