MAAK LENGTE REGTIG SOVEEL SAAK?
Gaan dit oor die horings of die bok?
Gaan dit oor die horings of die bok? JOHAN VAN VUUREN
Ek wil graag energie put uit Herman Jonker se stories waarin hy sekere bedrywe, of mense se optrede bevraagteken of in perspektief probeer stel. Daarom begin ek met die volgende vraag: Is ’n 56 duim-koedoebul meer koedoe as ’n 40 duim-een, of is ’n 25 duimrooibokram meer rooibok as ’n 20 duim-ram? Ek het al baie daaroor gewonder en kon nog nie by ’n definitiewe “JA!” uitkom nie. Is dit die mens, of kom ons sê maar ’n man, se strewe om altyd vinniger, groter, langer of duurder te wil gaan? Die malle gejaag na horinglengte laat my eintlik wonder waaroor daar regtig gespog kan word.
Hoeveel jagters of skieters wat ’n trofeedier skiet kan daarop roem dat hulle die spesifieke dier eerstens gaan soek het, ’n plan beraam het oor hoe hulle hom gaan opspoor en bekruip en dan uiteindelik gaan skiet? Hoeveel jagters kan horinglengte bepaal deur met ’n teleskoop na ’n dier te kyk, of mik ons na die een in die trop wat die grootste lyk?
WILD GEWAARBORG
My ondervinding van jag die afgelope paar jare is dat baie trofeediere heel toevallig raakgeloop of vanaf bakkies geskiet is. Daar word al hoe meer jaggeleenthede geadverteer met die woorde “wild word gewaarborg”. Daar is nou bykans daagliks advertensies op sosiale media en in tydskrifte van buffels en swartwitpense met gegewe horinglengtes wat te jag aangebied word. Hulle word heel moontlik in teelkampe aangehou waar hulle geskiet word en nie gejag word nie.
Verdien ’n mens dan regtig die eer om so ’n besonderse dier sommer net te skiet en nie te jag nie? Is daar enige prestige daaraan om te kan sê jy het ’n 53 duim- of groter koedoebul geskiet net omdat jy die een met die langste horings vinnig deur jou teleskoop geïdentifiseer het, of die boer jou aangesê het watter een om te skiet?
DIE DROOM VAN ’N GROOT KOEDOE
My storie begin in die jaar 2000 toe ek op ’n plaas in die Kosterdistrik gaan jag het. Die plan was om ’n rooibok of vlakvark te jag. Ek het voor dit al op ’n ander plaas ’n jong koedoebul geskiet wat dieselfde gekos het as ’n koedoekoei. Omdat groot diere nie op my lys was nie het ek met my .25-06 gestap. Die Saterdagmiddag het ek en die gids ’n groot koedoebul sowat 100 meter voor ons, rustig in ’n oop stuk veld sien stap. Ek het onwillekeurig op die koedoebul aangelê met die hoop dat hy sou vassteek, maar hy het net aanhou stap en in die bos verdwyn. Ek wou nie ’n kans met die .25-06 waag nie.
Daarna het ek verskeie aande gedroom hoe ek ’n groot koedoebul te voet jag. Vir drie jaar lank het ek meer as een keer per
jaar na dieselfde plaas teruggekeer om die “oom” met die lang spiraalhorings te jag. Die eienaar het my toegelaat om alleen, sonder die gids, te voet te jag ten einde so stil as moontlik te kan beweeg.
Tydens die tweede sessie in jaar drie het ek die gids gevra om te help. Hy het voorgestel dat ek en my skoonpa die oggend vroeg teen die lyndraad na die bokant van die berg stap, dansalhyendieandergidsso ’n halfuur later deur die klofie stap om die koedoes boontoe te jaag. Ons kan dan skiet as hulle bo uitkom. Met ons stap na bo het die buurman se werkers hulle beeste afgejaag, wat ons plan gefnuik het. Die geraas wat dié spul gemaak het, moes die koedoes verjaag het, want net een koedoekoei het bo uitgekom.
Ons is toe weer teen die lyndraad bergaf. My skoonpa en sy gids het besluit om verder die veld aan te durf op pad kamp toe. Ek en my gids, Steven, is bakkie toe om na die kamp terug te ry. Sowat ’n kilometer verder is ek beveel om te stop. Die plaas maak ’n hoek van sowat400meterlankby100meter breed. Ek het die bakkie onder ’n boom parkeer en ons is te voet verder.
Ons het seker so 120 meter van die 400 meter ingestap. Steven het my gewaarsku om agter ’n bos skuiling te neem. Sy instruksie was dat ek vinnig moet skiet as hulle uitkom. Hy het ’n entjie na regs geloop. Hy was skaars weg toe ’n eendraai-koedoebul teen die linkerkantste lyndraad afhardloop. Ek het na links beweeg en gewag dat hy moet stop, maar hy het nie.
Ek is terug na my skuilplek agter die bos waarna ’n koedoekalf net regs verby gehardloop het. En toe gebeur dit! Groot Meneer kom rustig aangestap en stop ongeveer 30 meter skuinsregs voor my, salig onbewus van my. Daar was nie tyd vir bokkoors nie. Ek het my .308 stadig opgelig, gemik na die blad en die skoot laat gaan. Die bul het met ’n vaart weggespring, verby my gehardloop, en in ’n erosiesloot verdwyn.
My asem was kort, my hart het in my keel geklop en my gedagtes was deurmekaar. Steven het ’n wyle later uit die bos gekom en ons het die bloedspoor gevat. Ons het die bul sowat 100 meter verder slegs ’n entjie van die bakkie af in die sloot gekry. ’n Droom is verwesenlik. Die bul het 158 kg uitgeslag en sy horings het 52,5 duim gemeet.
Dit bring my terug na die punt wat ek wil maak. Ek het die koedoebul geskiet omdat dit die enigste een was wat in drie jaar op dié plaas vir my ’n skoot gebied het. Ek het nie omgegee oor horinglengte of karkasmassanie.Ekwasnetteblyomná drie jaar uiteindelik ’n groot koedoebul op dié plaas te kon jag.
Ek het jare daarna, net voordat koedoebulpryse per duim op horinglengte bepaal is, een middag op ’n ander plaas heel toevallig ’n 56 duim-koedoebul, wat langs die pad gestaan het, op ’n afstand van 50 meter vanaf die bakkie geskiet. My vreugde en belewenis was nie eens ’n tiende van die Koster-koedoejagervaring nie.
SPESIALE ERVARINGS
Wanneer jy by die kampvuurtjie sit of in die aand jou kop neerlê, dan is dit die spesiale ervarings wat lewensvreugde gee. As ons eerlik is, sal ons erken dat dinge wat nie reg is nie, nie dieselfde vreugde gee nie. Ek het al probeer bokhoring eet, maar kon dit nog nie regkry nie. Daarteenoor glo ek dat jong manlike en vroulike diere se vleis veel sagter is en beter werk vir tafelvleis.
My ervaring is, om ’n bok met trofeehoringlengte te jag is in die meeste gevalle toevallig. Hoekom daarop roem en buitensporig voor betaal, en dít vir iets wat geen sielsvreugde bied nie? Maar dis maar net my siening.