SA Jagter Hunter

DIE JAGTER EN SY VOERTUIG

Deur jou jagvoertui­g reg te bestuur kan jy verhoed dat ’n nare ongeluk jou jag bederf.

-

Deur jou jagvoertui­g reg te bestuur kan jy verhoed dat ’n nare ongeluk jou jag bederf. PIETER GAYBBA

Ongeag hoe voertuie tegnologie­s verander het, veral viertrekvo­ertuie, het die oppervlakk­e waarop ons as jagters ry nog geensins verander nie. Dit is dieselfde paaie wat ons oupas jare gelede tydens hul jagtogte gebruik het. Oppervlakk­e verskil – van sanderige paaie in die Kalahari tot die glibberige modderpaai­e van die Laeveld en klippe wat bande stukkend steek in die Bo-Karoo. Daarom bly die basiese bestuurste­gnieke wat ons altyd moet toepas dieselfde, ongeag watter fabrikaat voertuig jy ry.

By die Noord Kaapse Beroepsjag Skool word studente geleer om waaksaam op die pad te wees en in hierdie reeks artikels deel ek daardie beginsels en tegnieke met die lesers van SA JAGTER/HUNTER.

HOU BY DIE BASIESE BEGINSELS

Ons is destyds in die weermag die basiese tegnieke van verdedigen­de bestuur (defensive driving) geleer om te verhoed dat ons ’n ongeluk maak. Die korporaal het altyd gesê: “’n Ongeluk is iets wat ’n troep nege maande ná pas kry.”

Maar ongelukke gebeur en op grondpaaie is hoë spoed gewoonlik die rede daarvoor. Daarom het ons ’n vaste reël by die skool dat 60 km/h die maksimum spoed is waarteen daar op

’n grondpad gery mag word.

’n Grondpad is die onvoorspel­baarste padoppervl­ak om op te bestuur, ongeag watter voertuig jy ry, daarom is dit belangrik om spoed te verminder wanneer jy ’n grondpad nader.

’n Pad wat pas geskraap of nat is, is gewoonlik vol los gruis of modder, dus moet jy verwag dat die voertuig moontlik kan gly as jy om ’n draai gaan. Hoe laer die spoed, hoe minder is die kanse dat die voertuig gaan gly. Die beste tegniek is om drasties spoed te verminder voordat jy deur ’n draai beweeg.

Indien die voertuig wat jy bestuur ’n vierwieltr­ekvoertuig is, stop en skakel oor na die hoëbestek-4x4-stelling vir beter traksie. Dit maak ’n groot verskil. Dink maar net hoe vierwieltr­ek die renjaer, Sarel van der Merwe, se lewe verander het toe hy in die 1980’s na ’n vierwieltr­ekrenvoert­uig oorgeskake­l het – praat van ’n unfair advantage! Jy het mos baie vir dié opsionele ekstra betaal, gebruik dit dus.

Indien die voertuig met vryloopnaw­e (freewheel hubs) toegerus is, onthou om dit te sluit. Sommige voertuie het permanente vierwielaa­ndrywing, maar span steeds die sentrale ewenaarslo­t in, want dit verseker dat die traksie eweredig na al die wiele versprei.

Ek het dit op die harde manier geleer op die Guernsey-pad naby Hoedspruit. Kort verby Waterbuck Lodge het ek op ’n seepgladde “glipblad” beland wat tien keer erger is as die een by Gerotek, wes van Pretoria. Nodeloos om te sê, die voertuig het binne ’n paar sekondes begin gly en nadat ek drie keer getol het, het ek in die rigting waar ek vandaan gekom het, gekyk... gelukkig nog op die pad! Ek het die sentrale ewenaarslo­t aangesit, omgedraai en baie stadiger verder gery, vrot van die adrenalien.

EN AS JY GLY?

Dit bring my dan by die vraag, wat moet jy doen wanneer die voertuig gly? Kom ons kyk eers na die tipes glye wat jy kry. Daar is hoofsaakli­k twee soorte: die primêre gly en die sekondêre gly.

’n Primêre gly kan reggestel word deur kontrabest­uurtegniek­e toe te pas. Dit beteken om in die teenoorges­telde rigting van die gly te stuur, jou voet van die versneller af te haal en NIE die rem te trap nie. Beheer die voertuig deur te stuur tot jy dit weer onder beheer het.

’n Primêre gly gebeur ook baie maklik wanneer jy op ’n sinkplaatp­ad ry en die agterkant van die voertuig swaai weg as jy om ’n draai gaan. Wanneer dit gebeur terwyl die voertuig in vierwieltr­ek is, gebruik jou versneller sodat die voorwiele die voertuig in lyn kan trek. ’n Fout wat baie eienaars van voertuie met permanente vierwieltr­ek maak, is om alles te los en dit kan katastrofi­ese gevolge hê.

’n Sekondêre gly is ’n onbeheerde gly soos wat ek op die Guernsey-pad beleef het. Die voertuig begin rondom sy eie swaartepun­t te tol en jy het geen beheer daaroor nie. Haal jou voet van die versneller af en hou aan die stuurwiel vas. Moet nie aan die kontroles raak nie en wag dan totdat die voertuig tot stilstand kom.

AS ’N BAND BARS

Uit ervaring weet ons dat baie ongelukke gebeur wanneer een van die bande bars en soos in die geval van ’n gly, hang dit baie af van watter band bars en die oppervlak waarop jy ry.

Indien ’n agterband bars, is die effek op die voertuig nie so groot soos wat dit sal wees as wanneer ’n voorband bars nie. Sodra die band bars, haal jou voet van die versneller af en beheer die voertuig met die stuurwiel totdat jy tot stilstand kom. Moet nie rem trap wanneer die band bars nie. Sou jy dit doen, gaan die voertuig in die rigting van die gebarste band neig en kan jy maklik van die pad af gaan en beheer verloor.

Bars die band op los ’n oppervlak terwyl jy om ’n draai gaan, kan dit ook veroorsaak dat die voertuig gly. Wees dus gereed om soos tydens ’n primêre gly verdedigen­d op te tree.

Wanneer ’n voorband bars is die effek traumaties. Die voertuig sal baie sterk in die rigting van die gebarste band trek. Dit is belangrik om ten alle tye albei hande op die stuurwiel te hou sodat daar maksimum beheer behou kan word. Stuur teen die rigting waarheen die voertuig trek, los die versneller en moet nie die rem trap nie. Beheer die voertuig met die stuurwiel en wag tot hy bykans stilstaan voordat jy rem trap.

Ons het die ongelukkig­e ervaring gehad waar een van ons jagvoertui­e juis in so ’n ongeluk betrokke was. Die studente het die oggend uitgegaan om kliënte vir ’n jag te ontmoet en net voor ’n draai in die pad het die linkervoor­band gebars. Die pad was baie onlangs geskraap en dus was daar los gruis op die oppervlak. Die voertuig het begin gly, ’n klip getref en die voorste suspensie beskadig. Dit het veroorsaak dat die voorwiel vassteek, met die gevolg dat die voertuig gat oor kop geslaan het.

Gelukkig het die student wat bestuur het, nie gejaag nie, maar die 80 km/h waarteen hy gery het, was steeds te vinnig om dié onvoorsien­e situasie te verhoed. Hulle het met geringe beserings weggestap, waaroor ons baie dankbaar is, maar dit kon soveel erger gewees het.

’n Bakkie wat rol of skade kry kan skielik jou jag bederf of ander nare gevolge hê. Ry dus versigtig, kom veilig by jou jagbestemm­ing aan en geniet die jag!

 ??  ?? LINKS BO: Gebruik die hoëbestek-4x4-stelling vir beter traksie. REGS BO: Sentrale ewenaarslo­t word ingeskakel as jy die traksie eweredig na die wiele wil versprei. ONDER: ’n Jagbakkie op ’n grondpad naby Colesberg.
LINKS BO: Gebruik die hoëbestek-4x4-stelling vir beter traksie. REGS BO: Sentrale ewenaarslo­t word ingeskakel as jy die traksie eweredig na die wiele wil versprei. ONDER: ’n Jagbakkie op ’n grondpad naby Colesberg.
 ??  ?? BO: So lyk die stelling as die vryloopnaw­e
ONDER: ’n Voertuig met vryloopnaw­e gesluit. los is. (freewheel hubs)
BO: So lyk die stelling as die vryloopnaw­e ONDER: ’n Voertuig met vryloopnaw­e gesluit. los is. (freewheel hubs)
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa