BOSVELDOMHELSING
Soos ’n dief in die nag het Covid-19 ons in 2020 van ’n jagseisoen beroof! GERHARD COREEJES
Soos ’n dief in die nag het Covid-19 ons in 2020 van ’n jagseisoen beroof! Ek is seker baie jagters het ver teruggestap op gister se jagspore en herinneringe opgeroep om die skadudans van onrus te stop. Só het ek dan onthou van ’n rooibokjag op my gunsteling-jagplaas, Ratelpan. Hier is my storie...
Die vroeë winterson het die rante van die Magaliesberge liggies gestreel, toe ek daar duskant Hartbeespoort my 4x4 se neus in ’n noordelike rigting draai. Brits het neffens voor my gelê, dan is dit verby Koedoeskop, Thabazimbi, links na Makoppa, en regs na Rooibokkraal!
Toe ek drie ure later die groot hekke van Ratelpan oopdruk, voel ek die opgewondenheid in my hart. ’n Paar vlakkies aan die kant van die grondpad het my uitgelate gegroet, sterte uitgestrek in die lug. Ek het baie stadig die laaste paar honderd treë na die plaashuis gery en twee koedoekoeie afgeneem wat mooi poseer het vir ’n foto.
Nadat ek almal gegroet het en my pakkasie lêplek gekry het, was dit tyd om my skietgoed na te gaan. Die plan was om twee rooibokramme te jag en daarvoor het ek my Sako .30-06 met Sierra se 200 grein GameKing-koeëls gelaai met 48 grein S365 teen 2 428 vps. Hierdie
swaarder koeëls het voorheen al bewys dat hulle ’n rooibok se handbriek lekker kan vasdraai. Ondervinding het ook geleer dat konvensionele koeëls teen hierdie lae spoed minder op impak fragmenteer en ’n goeie wondkanaal veroorsaak.
Ek het ook ’n paar 200 grein Rhino-koeëls gelaai, net ingeval ek daardie bruin kuifkop-elandbul sou raakloop. Proefnemings wat ek op die skietbaan gedoen het, het getoon dat beide die Rhino- en Sierra-koeëls met dieselfde ladings bykans enerse akkurate groeperings deur my Sako lewer.
Oor die algemeen is 150 meter in die bosveld ’n lang skoot en kan jy jou .308, 7x57 of .30-06 met lekker swaar koeëls inspan. Hierdie swaarder en stadiger maatjies penetreer goed en mors heelwat minder vleis as die ligte en vinnige atlete.
Die meeste jagters wat ek ken, doen hul teleskoopverstelling sodat skootplasing twee duim hoog op 100 meter is. Dis nou ingeval hulle na ’n bok moet skiet wat verder as 100 meter staan. My ervaring het egter geleer dat ek in die bosveld baie selde na bokke verder as 80 meter skiet. Derhalwe verkies ek om my teleskoopinstelling te rig op 100 meter. Sou ek egter wel ’n skietgeleentheid kry na ’n bok wat verder as 100 meter staan, verstel ek net my
Schmidt & Bender twee klikke op, en korrel ek presies op die skietpunt wat ek op die skietbaan ingeoefen het.
DIE AAND VANTEVORE
Daardie aand is ek by my kampvuur en word my vleisies met groot sorg oor die kameeldoringkole uitgepak. Ek het gedink aan hoe ons Voorste Mense die geskiedenis deur die Bosveld ingetrap het, maar kort-kort het my gedagtes gedwaal na die rooibokramme wat ek vroeër die aand ’n entjie anderkant die lapa hoor snork het.
Dit was vroeg in Mei en die ramme was vasgevang in bronstyd. Hierdie tyd van die jagseisoen kan baie opwindend wees, want die ramme verloor soms in hul speelsheid konsentrasie en dit is dus vir ’n jagter heelwat makliker om nader aan sy prooi te kom. En ons weet mos, as die bokke waaksaamheid verloor beteken dit jaggeluk en vleis vir die pot!
Met slaaptyd lê ek onder ’n ligte kombers en wonder hoe my jag gaan verloop. Toe ’n jakkals veraf na sy wyfie roep, draai ek om en raak rustig aan die slaap.
Die oggend was nog besig om wakker te word toe Simon en ek, geweer oor die skouer, koersvat na ’n gedeelte van die plaas waar die groot rooibokramme vermoedelik sou wei. Simon is ’n voorslag-spoorsnyer en ek was baie ingenome om weer saam met hom skoenleer af te trap.
Nou moet ek hier erken dat die jagbroeke wat ek tien jaar gelede gedra het nie meer pas nie, en die jare sit om my oë, maar ek hoor nog die roepstem van die jagavontuur baie sterk en derhalwe verkies ek om te stapjag.
’n Rukkie later was ons teenwoordigheid onheilspellend vir ’n groot trop rooibokke en moes ek aanskou hoe die wildsbokke paranoïes rondtrippel en toe spoedig van rigting verander. »
Skielik gebeur die dinge. Die maltrap van ’n rooibokram wat uitgelate rinkink het ’n ent voor my opgedoem!
»Ek het nie verwag om die bokke so gou te raak te loop nie en ons het onwetend hul terrein betree. Alles het so vinnig gebeur dat ek ook nie kon sien of daar ’n ram in die trop was nie. Die uitdaging van spoorsny het vir ons gewink en die jag kon begin.
OPDIESPORE
Ons het aanvanklik duidelike spore gekry en die wind was in ons guns om met berekende reëlmaat langs die trap van die bokke te agtervolg. Hierdie metode van spoorsny is egter baie tydsaam en die bosagtige terrein het ons genoop om telkens die spoor te verlaat en met ’n wye draai te agtervolg om die wind weer van voor te kry.
Toe ons heelwat later nie weer die bokke se spore kon kry nie, het ons ’n meer spekulatiewe metode van spoorsny onderneem en uitgekyk vir die mees waarskynlike vlugroete wat die bokke kon volg. Rooibokke is baie territoriaal en sal meestal in dieselfde omgewing wei, en as hulle op vlug slaan is dit gewoonlik in ’n groot sirkel binne daardie gebied.
Terwyl ons teen die wind inhou en met ’n wye draai al om en tussendeur die vaalbosse begin stap, dwaal my gedagtes met verwondering na die pragtige omgewing waarin ek myself bevind het.
JAG OP RATELPAN
Ek is ’n buitemens wat lief geword het vir die vars lug en die aroma van Ratelpan se bos. Ek was bevoorreg dat my goeie vriend, Johan, my weer die geleentheid gegun het om hier op sy pragplaas te kom jag.
Op hierdie plaas word jy nie begroet met ’n grand vista van berge en rante nie. Sekere gedeeltes is baie ruig bebos, terwyl daar ook oop dele vir langer skote is. Saam gekombineer gee dit die jagter ’n terrein wat ’n verskeidenheid uitdagings en avontuur bied.
Baie mense dink dan meestal ook net aan die ryk dierelewe as daar van die Bosveld gepraat word, en hulle vergeet dat die streeknaam eintlik afkomstig is van die struktuur van die bos en boomveld. Ek dink nou byvoorbeeld aan die alomteenwoordige geelhaak en soetdoring, die sierlikheid van die kameeldoring, die mal groei van die sekelbos, die vaalbos se takharnas en opvallende blougrys boskasies van die kanferbos, en natuurlik doringbosse wat met hul slaphangende doringtakke enige jagter stekelrig sal omarm en in sy trap stuit.
Terwyl ons stadig om die bosse beweeg, dink ek toe ook aan die “grootpiete” wat beweer dat alle jag op ’n logiese wyse uitspeel en dat elke jag die voortsetting van ’n vorige jag is. Dit mag dalk waar wees, dink ek, maar my vorige jagavonture het my laat besef dat Ratelpan se bosse uniek is. Elke jag hier beskik oor sy eie karakter wat gekenmerk
word aan onpeilbare vlakke van geluk en kanse. Hierdie bosveld kom van allerlei kante na jou toe; wat jy sien en wat jy nog moet vind, geleenthede wat jy kry en wat jou ontwyk, geluk en uitdaging, hard maar lekker – jy voel vry maar hierdie jagveld omarm jou en hou jou tog ook liefdevol gevangene.
AKSIE!
Skielik gebeur die dinge. Die maltrap van ’n rooibokram wat uitgelate rinkink het ’n ent voor my opgedoem! Ons het platgeval, en asof vasgeklem teen die sandveld, het ons vir ’n hele ruk doodstil gelê. Die veeragtige gerwe van die boesmangras het daarop gedui dat die wind steeds in ons guns was en ons kon net die knieknik van verskeie wildsbokke aan die anderkant van die bos waarneem.
Na links was ’n digte bos belaai met die hindernis van die stekelrige blinkblaar-wag-’nbietjie se vashaak, vassteek, en vashou. Na regs was dit heelwat meer oop maar ’n paar rooihartbeeste wat daar wei, het ons aantog bemoeilik.
Ek wou ook nie met die gevolge van teleurstelling flankeer nie en ons besluit om vir eers te bly lê en die uitdaging van geduld aan te pak.
Ná ’n rukkie het ons baie stadig en versigtig om ons rondgekyk om te sien of daar nie ook ander ramme is nie. Toe hoor ons ’n gesnork en sien hoe nog ’n ram skielik sy opwagting maak. Die twee ramme het hul nekke kromgetrek en mekaar bestorm. Dit het my en Simon kans gegee om ongesiens nog ’n bietjie nader te sluip. Albei bokke was diknekramme, en dit was moeilik om dadelik en presies te kon bepaal watter ram die beste horings het.
Teen dié tyd was die rooihartbeeste buite sig en kon ek in die knielhouding met die geweer teen my skouer deur my teleskoop die ram met die beste horings uitsoek. Die bok het in ’n ander rigting gekyk en was vir ’n oomblik vasgevang in die afwesigheid van konsentrasie. Ek het die slot versigtig gewerk om ’n patroon in die kamer te kry, die sweet wat by my oë inloop afgevee, en die .30-06 laat praat. Die bok het skaars 10 tree verder in sy spore geval.
Die ander rooibokke het met ’n reeks polsende spronge na ’n wegkomkans gegryp. Ek het weereens besef dat waaksaamheid deurslaggewend is as wilde diere in die bosveld wil oorleef, en dat wakkerheid en geduld by die jagter met jaggeluk beloon sal word. In my geval was dit meer jaggeluk, want my gedagtes het baie gedwaal terwyl ons die bokke agtervolg het.
Terug by die plaashuis het baie hande met slagwerk begin waarna kuipwerk met kundigheid voorberei is vir die taksidermis. Met die koeël wat herwin is in my binnesak en my vleisies in die koelkamer, het ek ingenome na die groot en gerieflike lapa gestap vir ’n lafenis. Later die aand by die kampvuur besef ek my gedagtes was steeds vasgevang deur die vreemde tale van die Bosveld.
Nou, etlike jare later, draai ek my gesig na die son, ek sluit my oë en ruik nog die bosveldgeur. Ek voel die bosveldomhelsing wat die dans van skaduwees in my gemoed dadelik stopgesit het.
Feast and famine, drought and rain
Endless pleasure, eternal pain
Like a moth to the flame, The bushveld calls
No, it shouts my name! – Rege Podroza