SA Jagter Hunter

VAN SUKSES TOT ‘N LES

Daar kom ’n tyd in elke jagter se lewe dat hy ’n bok gaan kwes en harde lesse leer.

-

Daar kom ’n tyd in elke jagter se lewe dat hy ’n bok gaan kwes en harde lesse leer. HANS STRONKHORS­T

My loopbaan as jong jagter het baie goed begin en ek het dit amper te maklik gevind. Dit het my baie laat wonder hoe en hoekom ander mense bokke kwes. Is hulle te haastig, of kan hulle net nie kalm bly nie? Dié vroeë sukses het my gemaklik gemaak, maar soos elke jagter nou seker dink, was dit net ’n kwessie van tyd. Ek het vinnig my les geleer, veral die verskil tussen selfvertro­ue en selfvoldaa­nheid.

In 2014 was ek gelukkig genoeg om ’n jong elandbul op ons familiepla­as net buite Lydenburg in Mpumalanga te jag. As deel van ’n uitdunning­sproses moes vier elandbulle af – een vir elke vennoot. My pa het sy eland aan my gegee en ek het my eerste kans op ’n groot bok gehad. Ons was die naweek op die plaas en ná ’n lang dag se jag het ek ’n skoot op ’n bul gekry. Dit was nie verder as 120 meter nie en ek het met my pa se Tikka .30-06, ’n geweer waarmee ek baie vertroud was, geskiet. Die skoot was reg van voor en ek het die kruishaar mooi op die eland se kuiltjie geplaas.

DIE SKOOT KLAP

Die skoot het goed geloop en ons het duidelik gehoor, en gesien, dit was raak... Ons het die hele Saterdagmi­ddag na die bok gesoek sonder enige sukses. Daar was geen teken van bloed of pens nie, nie eens ’n hoef wat effens sleep nie. Ons het die volgende oggend weer ure lank gesoek en op ’n stadium die trop gekry, maar die bul was nie daar nie.

’n Lang storie kort; die eland is ’n paar dae later deur my oom uit sy lyding verlos nadat hy die mank elandbul sien stap het. Die nuus het groot verligting gebring, maar ook teleurstel­ling. Ek sou baie makliker met ’n misskoot kon saamleef as om die bok deur dae se lyding te sit.

Ek het weer oor die skoot nagedink en probeer uitvind wat ek dié keer anders gedoen het. Die resep vir ’n goeie skoot is tog so eenvoudig. Volg dit en jy sal jou bok plattrek, of hoe? Dit was ’n ervaring wat ek nooit weer wou herhaal nie en ek het myself belowe ek sal nie weer só ’n skoot van voor waag nie.

BOSVELD TOE

In 2015 is ons jaggroep na ’n plaas tussen Alldays en Musina. Dit is my gunsteling­plek om te jag. Daar is darem niks so mooi soos die mopaniebos­veld nie. Ek, my pa en my broer het met ons aankoms die week se strategie bespreek en bepaal wat ons wou skiet. Ons deel gewoonlik die vleis onder mekaar en dit verbeter ons kanse om alles te kry waarna ons soek.

Hierdie jaar wou ons ’n elandkoei, ’n koedoe of gemsbok, en dan ’n paar rooibokke jag. Die rooibokke was al vroeg in die koelkamer en my broer het ’n mooi gemsbokkoe­i platgetrek. Toe die week amper om was, het die geleenthei­d om die elandkoei te skiet na my kant toe gekom en ek het geweet ’n mens kry nie elke dag so ’n tweede kans nie.

Ons het my broer en sy gemsbok laatoggend gaan oplaai. Met ons aankoms het die gids verduideli­k dat hulle nie lank terug elande gewaar het nie. Hy stel toe voor dat ons sommer van daar af moet stap en kyk of ons die bokke kan opspoor. Dit was besig om dodelik warm te word en ek het ons kanse om ’n eland te kry, betwyfel.

Ná omtrent twee ure se stap, het ek gewonder of die gids regtig elande gesien het. Volgens my was die hitte van die dag die slegste tyd om te probeer jag en die hoeveelhei­d wild wat ons gesien het, het my opinie bevestig.

Ek het begin dink ek het reeds my kans op ’n eland gehad en dit verbeur, maar soos die Engelsman sou sê: “Never despair.”

Ons was al op pad in die rigting van die kamp met die son wat ons doodbrand, toe die gids, Jutas, my skielik stop. Sowat 600 meter weg was ’n blink vel sigbaar en hy het bevestig dat dit ’n trop elande is wat in ’n oopte wei. Omdat ons gelukkig was om die bokke te sien voordat hulle van ons geweet het, kon ons ’n goeie bekruip beplan. My pessimisme het in ’n oogwink omgeskakel na ’n mengsel van opwinding en angs. Ek het besef dat ek hierdie kans moet gebruik om die vorige jaar se kwesskoot uit my gestel te kry.

NADER EN NADER

Ek en Jutas het goed saamgewerk om al hoe nader aan die elande te kom. Op ’n stadium kon ons rondkyk vir enige mooi koeie in die trop en daarna het die jag werklik begin. Ons is oomblikke later hande-viervoet die lang gras in en het toe by die opening gekom waar die bokke wei.

Ek het op my knieë gaan staan, ’n lekker dwarstak gekry waaroor ek kon skiet en die Ruger .338 Winchester Magnum daarop neergelê. Die afstand was omtrent 120 meter en ons kon die trop mooi bekyk. Daar het ’n massiewe bul en ’n paar jong koeie het in die koelte gelê, maar nie een wat ek kon skiet nie. Die volgende oomblik het ’n mooi volwasse elandkoei vanuit die bos in die oopte gestap en al wat ek kon sê was, “Daardie een links?’’ Jutas het net geantwoord, “Ja, daardie een’’ en die skoot het geklap.

Ek kon duidelik sien hoe die koeël die bok se lyf tref. Die skoot was beter as my vorige skoot op ’n eland. Al wat teen my kon tel, was die feit dat die koei weg van my gestaan het. Ek het, soos ek geleer is, die skoot verder terug geplaas om op te maak vir die posisie waarin sy gestaan het.

’n Paar minute later stap ek en Jutas nader om te inspekteer en tot my verbasing kry ons geen teken van ’n doodskoot nie – nie bloed, hare, pensmis of sap nie, ook nie ’n slepenede spoor nie. Niks! Die herhaling van die kwesskoot het in my kop gemaal. Hier gaan ons alweer.

Die plaasbestu­urder het ’n uur later saam met die ander twee gidse opgedaag en ons is tot lank na vyfuur agter die trop se spore aan op soek na enige teken van ’n raakskoot. Ons het die trop so twee keer mooi gesien en die bokke deeglik deursoek, maar daar was geen teken van ’n kwesbok nie. Die eerste ding wat die gids gevra het, was of ek seker is dit was raak. Ek was dalk nie die wêreld se mees ervare jagter nie, maar ek was seker met alles in my dat ek die eland raakgeskie­t het.

Elke moontlike situasie het later deur my kop afgespeel. Was ek te haastig? Het my behoefte tot sukses gelei tot blinde sekerheid? Ek het gevoel asof die elande my weereens gewys het hulle is beter as ek.

Die son het begin sak en ek het besluit ons moet die lang pad terugstap na waar ek die bok geskiet het. Dit was om seker te maak daar was regtig geen teken van ’n raakskoot nie. Ek was desperaat om aan myself te bewys dat ek tog ’n ware jagter is. Enige teken van optimisme sou my dag verander. Die son het reeds gesak toe ons by die oop stuk veld waar ek op die eland geskiet het, aankom. Teen hierdie tyd het ek aanvaar dat ek iewers ’n fout gemaak en my kans verbeur het.

Dit was egter toe dat Jutas iets sê wat soos musiek vir my ore was: “Daar lê sy.’’ Ek was toe al so negatief dat ek dit nie kon glo nie, maar daar sien ek die eland met haar pote in die lug. Sy het binne 100 tree van waar sy gestaan het, gelê. My droom het waar geword en my trots was weer herstel.

GOEIE SKOOTPLASI­NG

Die skoot was toe mooi ’n ent voor die agterbeen geplaas en ons het die koeël uit die teenoorges­telde blad herwin. Die Hornady InterBond het goeie werk verrig. Daar was geen teken van bloed nie. Tot almal se verbasing was my instink van die begin af korrek. Ek was geweldig verlig dat ons die eland gekry het en dat die skoot goed was.

Dié twee elandjagte het my meer van jag geleer as enige ander ervaring. Dis ’n goeie ding om selfvertro­ue te hê. ’n Tekort daaraan lei tot huiwering en dit eindig nooit goed nie. Maar as jagter moet jy ook versigtig wees om nie té gemaklik te raak danksy vorige suksesse nie.

Jy moet jouself altyd herinner dat goeie oordeel en nederighei­d die ware resep is vir ’n suksesvoll­e jag. As jy nie 100 % gemaklik is met die skoot nie, moet dit nie eens probeer nie. Jy sal een of ander tyd soos ek ’n dure les leer.

 ??  ?? Die mooi mopaniebos­veld van Limpopo.
Die mooi mopaniebos­veld van Limpopo.
 ??  ?? Elandkoei. (Foto: Nic de Bruine)
Elandkoei. (Foto: Nic de Bruine)

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa