DOOIERUS – RED ONS
Dit is nou al meer as ’n jaar sedert ons mekaar die eerste keer wantrouig van agter ’n masker begin beloer het. Baie het verander in daardie jaar, en baie ellendes en tragiese dinge het oor ons pad gekom.
Ten spyte van alles is iets soos Covid-19 egter steeds nie ’n ramp in groter aardsterme nie. Eerder ’n oplossing, want die mensspesie is ’n oortallige patogeen wat die hele aarde besmet en siek maak met sy koorsagtige gierigheid.
Sal Covid-19 genoeg wees om hom tot ander waardes en insigte te bring? Net tyd sal leer.
Die lastige mens dra egter ook allerhande ander siektes onder homself rond, waarvan nie almal noodwendig biologies van aard is nie. Soos bemoeisiekheid.
Om neus in ander man se sake te steek is natuurlik niks nuut nie. Maar met sosiale media wat dit nou vir elkeen moontlik maak om wyd en syd gehoor te word, raak dit ’n probleem. Veral teen die agtergrond van daardie ander siektes van ons tyd: politieke korrektheid en wokebeheptheid.
Gaan plaas ’n foto van iets doodgewoon soos ’n Jack Russell met ’n dooie rot op Facebook of Instagram, en kyk ’n bietjie wat gebeur. Jy kan jou maar staal vir ’n koor van aanvallende bemoeisiekheid in die kommentaar: Jy stel jou “doggie” in gevaar! Dis wreed teenoor die rot! Jou “doggie” kry nie genoeg kos nie! Hoekom het jy nie die rot gered nie! Neem dadelik die hond veearts toe! Neem dadelik die rot veearts toe! En, en, en.
Nêrens is mense meer bemoeisiek as wanneer hulle dit onder ’n weldoener-vaandel probeer doen nie. Weldoeners se bedoelings kan natuurlik goed wees, maar partykeer is dit eerder inmenging met bymotiewe. Iemand wat daarvan droom om belangrik te wees, plaas homself byvoorbeeld graag in die rol van redder. Veral wanneer dit by diere kom.
Diere red? Jagters uitmaak as wreedaardige slagters? Red óns, wil ek vra. Red ons van mense wat kwansuis alles wil red.
Maar laat ek my versoek darem net eers kwalifiseer: Alle respek aan brandweer-en ambulans manne, NS R I-lede, soeke n-reddingspanne, diere welsyn inspekteurs, natuurbewaarders, medici en ander legitieme en opregte redders en ontfermers. Van julle ysters is daar te min. Maar van mense wat kastig alles wat leef wil “red” omdat hulle eie kanaries nie almal in die koutjie is nie, is daar deesdae te veel.
Goed en wel as daar regtig ’n krisis is, maar wat sulke bloeiende harte as red beskou, is in baie gevalle niks anders as die ontvoering van ’n dier wat in geen reële nood was nie. Ek praat van daardie gevalle waar mense ’n skilpad langs die pad kry en hom dan “red” deur hom huis toe te vat en in ’n agterplaas gevange te hou. Of wat ’n skaapstekertjie by ’n slangpark gaan aflaai omdat hy by ’n visdam kom water drink het voor hy weer sou terugkeer veld toe. En veral daardie bemoeisiekes wat dink elke hond of kat wat bloot ’n draai gaan loop, is desperaat verlore.
Wat is dit met die redbeheptheid van sulke mense?
Dis asof die woord “rescue” ’n emo-raampie gekry het, met soet harpklanke en dansende engeltjies. Wat klop, want in baie gevalle wentel dit om ’n emosioneel onstabiele persoon wat hom-/haarself in diertjies toedraai om die realiteite van die lewe te probeer ontken. Dink maar net aan daardie welbekende stereotipe: Die tatie tante wat in vieslike omstandighede met dosyne verwaarloosde optelhonde of -katte leef.
Maar nie almal wat hulself aanstel om diere te red is noodwendig ’n bietjie koekoes nie. Daar is talle wat dit uit opregte omgee en oortuiging doen, en dan ook dié wat dit sien as ’n konkelkans om te probeer geld maak uit mense se deernis.
Dieretuine, soos ons dit geken het, is aan die verdwyn. ’n Goeie ding, sou mens dink, want diere hoort nie in gevangenisskap nie. Maar wat is al hierdie sanctuaries en shelters en rehabilitation centres wat oral opduik? Hoeveel van hulle is werklik legit?
En hoe verskil sulke plekke, wat aanhoudings omstandighede en sakepraktyke betref, werklik van ’n dieretuin?
Natuurlik is daar ’n stryd om te veg vir die beskerming van diere – verwaarlosing en mishandeling is algemeen, veral in arm gemeenskappe! Maar wat ook algemeen geraak het, is kansvatters wat mense se empatie uitbuit onder die vaandel van rescue. ’n Mens kan eenvoudig net nie meer vertrou dat diereredders en die foto’s en vertoë wat hulle plaas, almal opregte bedoelings het nie.
Hoe weet jy egter wie is opreg en wie nie? Waar kontroleer jy een of ander sogenaamde sanctuary se geloofsbriewe voor jy ’n donasie maak of inligting omtrent hulle aanstuur?
Dis waar ons rêrig ’n redder kort, glo ek. Een of ander instansie–kundig, deeglike n professioneel, met volle oorsig en verantwoordbaar hei d–wat vir die publiek ’n databasis kan bied waar enigeen kan gaan naslaan wie is bewese redder en wie is wolf. Daar moet sekerlik ’n behoefte hiervoor wees, want die persone en instansies wat werklik na bewaringsake en hulpbehoewende diere omsien, kan hulself tans nie onderskei van die klomp kansvatters wat die donasies afskep nie. Net so word waardevolle rolspelers in die jag-, wild- en voedselbedrywe as slaansakke gebruik om openbare emosie in wins om te sit.
Ons leef in bedrieglike tye. Soveel dinge is deesdae fake. Dit verg ’n oop kop en versigtigheid. Selfs ’n steekhaarbrak kan nie eens meer met veiligheid ’n draai gaan loop om ’n briefie teen ’n paal te los nie.
Red ons, asseblief!
Ons leef in bedrieglike tye. Soveel dinge is deesdae fake. Dit verg ’n oop kop en versigtigheid.