BOSOGGEND-VOETPAD
Skrik wakker vroeg in die dwaallig Cruiser se pistons wat deur my kop druis koue stort vir brekfis koel wind deur die bome suis kopseerpil is die eerste dis
Sukkelend om nie die grou dag te mis
Ou army-sokkies vir die moed skuiling in ’n sniper-kispak versigtig die stewels oor die poot ruik die vorige aand se vuur baadjie se walms vaag soos die rook Strompel uit onder vroegson se gluur
My brein die vorige aand gekook
... Sigare, Shiraz en Songs ... staar na patrone in die vuur se rook bosveld-TV op die beste kanaal goeie vriende en lekker braai Elkeen vertel sy eie verhaal
Dit het my teruggevoer na iets Wat ek laas jaar verloor het Iewers langs die jaar se grootpad
Skop aan die hardekool se grys as babavlam teug aan suiwer lug groet skaam die nuwe dag boomtakke se sagte mompel koffie laat my hart harder lag Karringmelkbeskuit diep dompel
Streel my troue bosvriend oor die loop let op skrapies wat ou stories fluister verkyker, skerp lem en nog lood terwyl ek denkend na die wind luister swel ou rugsak met vrug en water
Skop in die sand vir die bos se spookasem
Tree die kronkelpad uit die kamp verby die maters wat nog slaap eerste tree na die bosveld se ruigte soekend na die bos se ritme voëls se simfonie in my ore
Vinnig in die digte veld verlore
Dit neem my terug na iets wat ek vroeër verloor het
Iewers langs die jaar se flippen lang pad
Onder die nuwe son se strale in die wild se dowwe kronkelstrate stadig gaan en oor spier span fynkam skemering en skadu vermy die oop gras en trap sag Soek na tekens op die rooi aarde
Iemand vat die aircon se lug son klim en gooi die hitte op sweet teen voorkop en op my rug waarom die swaar rugsak saamslof hier en daar stry ’n ouer ledemaat Kwaaier trek die geweer oor my skof
Beweging in die digte ruigte self spring die dood in my arms wees rustig en vir asem swoeg moenie hierdie opdonder met haas ontwrig
Skuifel nader
Vergeet van alles
Wat het ek vroeër verloor
Iewers langs laas jaar se verlore pad
Kruip op hurke nou hoop die sagte stewels en skuilpakkie bring hulle kante versigtig vir droë takke
Skuifel nog nader
Lig die skouerwapen deur die scope se lof net die kruis vas stoei laat die sneller los die stilte ontplof
Doodknal eggo deur die bos
Sit by die ram se dowwe oog trek hom in skadu neer rus onder die groot boom verlig, hartseer, kalmeer dink diep oor die dood
Stil word voor die Heer
Dit neem my vorentoe na iets Wat ek weer terugkry
Hier op die nuwe jaar se pad