SA Jagter Hunter

MAKWATHI SE KOLE PRAAT

-

In Hoedspruit ontmoet berge mekaar nooit nie, maar mans doen... veral tydens die jagseisoen.

’n Jagverhaal soos min wat nou al 30 jaar lank sy merk teen die Afrika-horison los, het reeds in 1987 begin toe Daan Kriek saam met sy broer Nic en sy neef Nico Kriek in Nylstroom gaan jag het. In 1989 koop Daan en Nic saam ’n stuk grond in Hoedspruit wat Makwathi gedoop word. Die naam Makwathi beteken “plek van groot bome” en hierdie stukkie grond word toe jaarliks die jaggrond van sewe vriende.

Jag is mos nie jag sonder byname nie. Omdat Daan die baas van Makwathi is, word hy dus “Oom Baas” gedoop. Sy oudste broer (Nic) word as “Oupa” aangespree­k en Nico as “Hoofkok”. Johan (Nico se broer) word “Junior” gedoop. Sakkie van Rensburg is “Meester” en Chris Boshoff is “Buurman”. En omdat Daan se ander broer, ook Johan, sy klere vir die jagseisoen in appelbokse gepak en vervoer het, word hy dus “Du Toit” gedoop.

Tydens die eerste drie maande van elke jaar word ’n jagvergade­ring in die Vrystaat gehou, waar hierdie groep vriende die spyskaart en die program vir dié spesifieke jaar se jag bespreek. In 1996 het die poel vir die week se jag maar slegs ’n skamele R500 elk beloop. ’n Deeglike notule word ook tydens die vergaderin­g deur Nico gehou. Wanneer Julie-maand aanbreek, vertrek al sewe vriende stiptelik om 03:00 na Hoedspruit vir 10 dae se jag. Op die langpad word 09:30 voor die J.G. Strijdom-tonnel onderbreek vir ’n vinnige braai en die knak van ’n gemmertjie. Wanneer daar verder deur die tonnel gery word, word Limpopo se skoonheid met “Hallo, Laeveld” gegroet en die groep kom opgewonde op Makwathi aan.

Nico meen dat die sukses van die groep se jaarlikse jagseisoen grootliks afhang van respek: selfrespek, respek vir mekaar en respek vir die natuur. Verder dra goeie beplanning en die feit dat elkeen moet help afpak wanneer hulle op Makwathi aankom ook by. Frustrasie­s loop wel soms vir Nico (wat ook as die groep se logistieke bestuurder bekend staan) hoog wanneer die bier en die Coke maklik deur die manne uit die yskas gehaal kan word, maar nooit so maklik weer teruggepla­as kan word nie.

Die eerste aand op Makwathi verloop gewoonlik met groot opgewonden­heid. Nadat elke jagter se dors geles is, word die reëlings rakende die vier kampe van die plaas en die gidse vir die volgende dag se jag deur Meester voorgelees. Makwathi is in vier kampe opgedeel, naamlik Stattekamp, Likkewaang­at, Ansie se gat en Ouwerf. Streng veiligheid­smaatreëls en voorwaarde­s word ook gestel voordat die aand gesellig afgesluit word. Op Makwathi word geen drank op die jagvoertui­g toegelaat nie, help elke man soek wanneer ’n dier gekwes word en word daar betaal wanneer die bloed van ’n dier wat nie te vinde is nie, opgespoor word.

Soos wat dit mans behaag, word enige probleme op Makwathi onmiddelli­k uitgepraat en geen kwade gevoelens word teen mekaar gehou nie. Onder mekaar maak die groep ook elke oggend beurte om Godsdiens te lei voordat die jagveld betree word. Junior vertel gereeld oor die poetse wat tydens die jagseisoen tussen die mans gebak word, soos dat hy menigmaal die een rou eier tussen die bak gekookte eiers moes ontvang. So ook loop die groep baie keer onder Junior, ’n stoutgat van formaat, se streke deur. Hy klim een aand deur ’n oop kamervenst­er om die bak vleis vir die aand se braai onder een van die beddens te gaan wegsteek en help ewe behulpsaam daarna soek toe daar oor diefstal gekla word.

Hierdie verhaal word oor generasies heen oorvertel soos wat ek, Daan se 21-jarige kleindogte­r, luister na hoe hierdie groep vriende saam gesels. 30 Jaar lank vorm broederska­p en respek die fondament van ’n suksesvoll­e jagseisoen en vir ’n

skrywer soos ek raak dit byna onmoontlik om die samesyn tussen hierdie mans in woorde te kan vasvang.

Dit raak vir ’n oomblik stil soos wat hierdie groep vriende tot die besef kom dat die jare hulle dalk ook begin inhaal en dit vandag nie meer moontlik is om almal in die bos te kry nie. Maar praat sal Makwathi se kole steeds praat en langs die knetterend­e kampvuur sal die manne nog steeds vastrap. JOHANÉ SNYDERS

* Johané Snyders wen die R1 000-geskenkbew­ys van Safari Outdoor.

Baie geluk, Johané!

 ?? ?? VAN LINKS VOOR: Sakkie van Rensburg (Meester) en Nico Kriek (hoofkok). AGTER: Johan Kriek (Junior), Johan Kriek (Du Toit), Daan Kriek (Oom Baas), Jannie Vorster en Nic Kriek (Oupa).
VAN LINKS VOOR: Sakkie van Rensburg (Meester) en Nico Kriek (hoofkok). AGTER: Johan Kriek (Junior), Johan Kriek (Du Toit), Daan Kriek (Oom Baas), Jannie Vorster en Nic Kriek (Oupa).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa