Sarie Kersfees Kreatief

Min. Maar betekenisv­ol

Kersfees in drie woorde is vir my . . .

-

'Ek was ’n regte klein bliksem onder daai boom,” sê Jan Hendrik met ’n lag wanneer hy aan sy kinderdae dink. “Presente het my mal gemaak. Ek’t die boksies beloer en gaatjies daarin gemaak wat ek later weer toegeplak het.”

Omdat niemand in sy familie so mal was oor Kersfees soos hy nie, het hy self die Kersboom opgesit. Sommer aan die begin van Desember het hy begin goed hang sodat dit teen Kersdag lekker vol was.

“Jy sien mos hoe die tannies hul Kersbome doen – dit was ’n helse ding – só ek het ook seker maar ’n tannie begin word. Die boom het elke jaar ’n ander tema gehad. Een jaar was dit volstruis, die volgende tarentaal, dan was daai hele boom vol vere. Tot die eiers is opgehang.” ’n Amerikaans­e TV-program oor Richie Rich – “’n outjie met ’n moerse Kersboom wat só hoog staan” – het die plaaskind aangespoor om groot te droom.

Maar Ouma se feesmaal was die hoogtepunt van elke Kersfees. Die kiekie van Kerskos wat eerste by hom opkom, is haar pavlova met rooswater en rooi vrugte.

“Ons het nie gammon geken as kinders nie. My ouma se gestopte wildsboud het vir dae in die oond gebak. Of dalk gewone skaap- of varkboud met appels. En gestolde slaai,” onthou hy. “Sy’t altyd ’n lietsjieen-garnaalsla­ai gemaak met mayonnaise en blare. Dis met paprika besprinkel en in mooi glasies bedien. Dis daai lekker kitsch wat so fabulous is. Natúúrlik was die lietsjies uit ’n blik en die garnale bevrore,” sê hy, “met Hellman’s mayo, maar dan’t sy hom goed opgezoosh. Dit was net te heerlik.”

As grootmens was Kersfees in Parys vir Jan Hendrik ’n belewenis.

“Dis ’n voorreg om Kersfees hier as ’n local te beleef. Elke winkel is met tossels behang en vol dennebome. Die kos is net soveel meer geglasuur en kleurvol. Die Franse doen ’n baie mooi ding: Hulle koop net wat hulle nodig het, niks oorbodigs nie en net van goeie gehalte. Nie net met die feestyd nie.”

Jan Hendrik het ook ’n tipiese wit Kersfees in New York beleef. “Dit was mooi, maar dis darem net te koud vir my. Nee, ek het nie daarvan gehou nie,” bieg hy.

Soos die Kersboom-temas van sy kinderdae verander Jan Hendrik se idee van die ideale Kersfees van jaar tot jaar.

“Klein JAN is vanjaar my groot ding, so dit gaan vir my regtig oor kontreikos en familie. Ek wil iets eenvoudigs en aards hê. Maar dit beteken nie jy moet van ’n mooi blink dingetjie hier en daar vergeet nie,” voeg hy vinnig by.

Sy ma, Hessie, en sy suster, Rindie, sal hopelik Kersfees saam met hom vier by Klein JAN in die Tswalu-naturreser­vaat in die Kalahari, maar daar sal ook gaste wees.

“Ek gaan werk, dis nie net vir sit en kuier nie. Maar in ’n ongeloofli­ke stilte. Ek het geleer om stilte te skep, na te dink en aan te pas by ons tye. En dít is wat ek op die tafel wil sien, in die detail en die atmosfeer. Min. Maar betekenisv­ol,” sê hy.

Dit is asof Restaurant Klein JAN geskep is vir onvergeetl­ike ervarings, met areas van geweldige kontras en ewe veel impak. “Die verskillen­de elemente van Klein JAN is so apart. Jy word verwelkom by ’n tafel op die stoep, wat ’n heel ander gevoel het as die 25 m lange ondergrond­se root cellar, of wortelkeld­er, wat vol pragtige produkte is. Die atmosfeer daar is warm en ryk, met kerse, soos ’n Europese katedraal. Dan gaan jy weer op en sit op die dor rooi sand.

“Kontras is vir my alles. As jy by die ou plaashuisi­e uitstap en agtertoe kyk, sien jy die dam met ’n lig wat goud skyn, asof dit vir jou sê waarheen om te gaan. Musiek is baie belangrik. Elke liedjie by Klein JAN is gekies om die mees perfekte oomblik te skep. As jy by daai dam se deur instap kry jy hoendervle­is, want die musiek begin speel en dan val die water teen die trapmuur af. Die trane val ook.”

Die “dam” is nog net aan die buitekant ’n tipiese ronde plaasdam. Wanneer jy instap, klim jy met trappe af in die aarde se maag na die ongeloofli­kste ondergrond­se “yskas” waar kos en drank teen die woestyn se hitte en stof beskerm word.

“Vanjaar het vir ons so baie gesê sonder dat ons dit weet. Kersfees is die perfekte tyd om alles uit te pak op die tafel. En moenie die lelik of sleg probeer wegsteek nie. Dalk lê daar ’n honderd jaar oue geroeste beker. Sit ’n mooi blom in hom. Almal is deur ’n moerse weird tyd. Kom ons pak saam uit.”

Natuurlik met heerlike kos. “Ek is mal oor ’n beestong met ’n mosterdsou­sie. En ek sal beslis potbrood op die vuur maak, of so iets neutraals en lekker eenvoudig. Maar nie heeltemal minimalist­ies nie!”

Hy vra homself gereeld waar geluk lê en dikwels is die antwoord dat dit in die klein oomblikke is wanneer ’n mens amper weer soos ’n kind kan wees.

“Dis asof alles in hierdie tyd net weggeraak het. Dit raak moeiliker om die vonke van opgewonden­heid te voel. Ek het ’n punt daarvan begin maak om die mooi weer raak te sien, want die afgelope tyd was ’n blur,” sê hy.

Hy het dit ook opgemerk by sy gaste in Frankryk toe Restaurant JAN ná nege maande weer kon oopmaak. “Ons klante is ook anders ná die hele storie. Dis nie meer die Tripadviso­r-nonsens nie. Mense kom, want hulle wil ’n egte konneksie maak en ’n onvergeetl­ike ervaring hê. Ons voel dit aan, wat ongeloofli­k is, want dan gee ons soveel meer. Die gevoellose verbruiker­smentalite­it is soveel minder en ek dink dit is fantasties.”

Jan Hendrik het ’n klomp ysters in vure op twee vastelande en tog is die druk minder. “Dalk is dit die tyd waardeur ons is, maar ek voel nie meer daardie konstante druk van ander mense se verwagting­e van my nie. Dit is noodsaakli­k vir my en my span om ’n mate daarvan te hê, maar ek gaan my nie meer laat voorskryf nie.”

Om ’n Michelin-ster te kry plaas sjefs op ’n mallemeule om die tweede ster na te jaag. Dit kan allesoorhe­ersend raak. “As jy my drie jaar gelede gevra het of ek ’n tweede ster wou hê, was die antwoord natuurlik ja.

Maar ons is nou op ’n baie ander plek. Die druk is hanteerbaa­r. Ek het vryheid om met my spyskaart te doen wat ek wil. Ek het genoeg dinge daaruit laat groei, soos JAN the Journal en die Jan-TV-reeks op VIA.

Dis klein goedjies wat ek vir myself begin doen het, maar was dit nie vir daardie projekte nie, sou ek nie my span van amper sestig finansieel deur hierdie tyd kon dra nie. ’n Mens weet soms nie hoekom jy dinge doen nie, maar doen dit, want môre kan alles anders lyk.”

Jan Hendrik leef tussen Suid-Afrika en Frankryk, maar Frankryk is sy huis. “My kat is in Frankryk. Dit is wel ongeloofli­k om terug te kom na my mense en ek doen dit gereeld. So elke ses tot agt weke is ek in Suid-Afrika.”

Sy groot projek vir 2022 is die JAN Academy in samewerkin­g met Checkers, ’n aanlyn skool wat handel oor verskeie onderwerpe wat Jan na aan die hart lê.

“Ek is as kind byvoorbeel­d niks geleer van belasting nie. Nou het ek besef ek het jare se ondervindi­ng van hoe mens ’n restaurant begin en ook hoe om weer op die been te kom ná Covid,” sê hy.

JAN Academy is nie ’n sakeskool in die streng sin van die woord nie.

“Ek beskryf dit as ’n mengsel tussen ’n diploma en ’n Oprah Winfrey show met regte mense wat hul eie stories deel. Al wat jy nodig het, is ’n selfoon en ’n bietjie data.” Soos sy TV-reeks het die kursus ’n rustigheid (janonline.com/stories/jan-innovation-academy). Hy meen mense leer beter in ’n mooi, rustige omgewing omdat hulle dit meer geniet.

Hierdie gevoel van rustigheid en skoonheid is die goue draad wat Jan Hendrik se uiteenlope­nde projekte saamsnoer. Hy glo jy moet omgee vir dit waarmee jy jouself in kontak plaas. Dit is al manier hoe jy die wêreld ’n beter plek kan maak. “Om te commit,” sê hy. “As jy dit besef, maak jy reeds ’n verskil.”

Vir hom is die grootste seëning die kontras tussen JAN en Klein JAN. “My grootste geskenk is om vandag in ’n luukse restaurant in Nice te wees en môre staan ek op ’n stoep in die Kalahari en kyk na ’n kameelperd wat verbyloop. Ook is die kontras by Klein JAN vir my so lekker soos Franse silwerware langs ’n geroeste blikbord.

“Dit is wat ek dié Kersfees soek. Ons moet ons jaar se goed en sleg op ’n manier bymekaarbr­ing, maak nie saak hoe dit lyk nie. Saam skep dit dalk ’n mooi prentjie vir ons.”

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa