Sarie Kersfees Kreatief

Rooibostee­jellie met ’n melkjellie­lagie

-

Onthou julle die plesier van ’n koppie rooibostee en melk op die stoep met kuiers wat vir ure aanhou? Die smaak en warmte en geselsies is hier vasgevang in ’n jellie wat subtiel is, maar perfek vir dié van ons wat nie so mal is oor te soet nageregte nie. Nostalgie op sy beste.

GENOEG VIR 3 X 500 ML-HOUERS

ROOIBOSTEE­JELLIE

• 45 ml poeiergela­tien

• 500 ml kookwater

• 50 g (60 ml) suiker

• 2 rooibostee­sakkies

Gooi gelatien in ’n bakkie. Bedek met koue water en laat week tot sponsagtig. Gooi kookwater in ’n groter bak as die gelatien en plaas die gelatienba­kkie in die bak kookwater. Laat staan tot die gelatien gesmelt is.

Gooi die kookwater en suiker in ’n bak. Plaas die teesakkies in tot jy gelukkig is met die sterkte van die tee. Proe of die tee soet genoeg is – jy kan nog suiker byvoeg as jy van baie soet tee hou.

Voeg gesmelte gelatien by die warm tee en meng goed. Verdeel die tee in drie bakke of gooi dit in een groot poedingbak. Plaas in die yskas tot gestol voor jy die gestolde melk bo-op gooi.

GESTOLDEME­LK-JELLIE

• 35 ml poeiergela­tien

• 40 g (85 ml) mielieblom

• 1 liter melk

• 300 g (360 ml) strooisuik­er

Gooi gelatien in ’n bakkie. Bedek met koue water en laat week tot sponsagtig. Gooi kookwater in ’n groter bak as die gelatien en plaas die gelatienba­kkie in die bak kookwater. Laat staan tot die gelatien gesmelt is.

Meng mielieblom met 90 ml van die melk. Gooi die res van die melk en suiker in ’n kastrol. Verhit en roer tot die suiker opgelos is. Bring tot kookpunt en voeg die mielieblom­mengsel by. Verlaag die hitte en roer aanhoudend tot dit verdik. Haal af van plaat en gooi die mengsel in ’n skoon bak. Laat afkoel voor jy dit op die teejellie gooi.

Plaas dit in die yskas tot gestol. Maak die poeding verkieslik die dag voor die tyd sodat dit genoeg tyd het om te stol.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa