OPGERUIMD IN TRANSITO
Om op te ruim maak ’n mens opgeruimd, het my ma eenkeer gesê. Ek verstaan nou nog nie wat dié opmerking nou eintlik moet beteken nie. Ek weet wel as jou kop so afwaarts neig die donkerte in, dan is dit goed om besig te wees. Dit sluit sekerlik nie die was van skottelgoed in nie. Of hoe?
Die kosmaakproses het altyd ’n nadraai. Iemand moet opruim. Trommeldik tevrede is die gaste daar weg – die meeste met ’n ligte, ongemaklike systappie. Meestal heel gelukkig, bloot omdat die gasheer/vrou daarvoor gesorg het. Heerlike kos, atmosfeervolle beligting en musiek en flesse vol praatwyn.
En jy bly agter in die verlate doodsakker. ’n Landmynontploffing se Moses. Halfvol witwynglase met oorlogsrooi lipstiffie getooi. Smerige, vetterige borde. Verlepte roket, bloukaas en loperige oorskiet-balsemasyn in kleinbordjies. Jy’s ietwat op, maar môre lyk die slagveld dalk nog erger en jy besluit om die opruimwerk liewer dadelik af te handel.
Persoonlik het dit my nog nooit opgeruimd gemaak nie. Nog nooit was dit vir my lekker om my hande tussen drywende, vetterige oorskot in te druk en met ’n geelgroen sponsie en opwasseep as enigste verweer ’n skoon bord op te toor nie – en dan moet jy nog die spul afdroog en blink vryf ook. Dit laat my dink aan wat Naoki Urasawa, ’n Japannese tekenstorieverteller, eendag gesê het. “If you run from enemy fire, I’ll make you wash dishes for the rest of your life!” En ek ken “enemy fire”! Dankie tog vir skottelgoedwasmasjiene en die daarmee gepaardgaande tegnologie.
Ek onthou een Oujaarsaandfees. In ons huis word ’n Oujaarsaand saam met my vrou, Nanna, se verjaardag gevier. Menende sy verjaar op Nuwejaarsdag …
Daardie jaar was dit soos gewoonlik ’n helse paartie, en net voor die klok vir die nuwe jaar lui, toe strooi ek mieliemeel op die buitestoep vir “the last waltz”. En toe kom die wind op en waai daai wals die huis in. Met die gevolg dat Nanna daai aand gehuil het oor sy nie net skottelgoed moes opruim en was nie.
Nou kom ek eintlik by my storie uit. Opruim in transito. Transito beteken wanneer jy aan die beweeg is. Elke aand is jy op ’n ander plek en jy maak kos … en die daarmee gepaardgaande …
Jare gelede moes ek en vriend Ferdi sorg vir die mage en welsyn van 75 man op pad Zambië toe – om krokodille te gaan tel. En laatmiddag as die konvooi stop, moet ons iets te ete saamflans – meestal ’n smirrie (of bredie) in ’n reusepot, so groot dat jy later omtrent in die pot moet klim om die ergste droesel uit te skrop. En ewe vrolik is almal dan die volgende môre weg. Sorgeloos terwyl ons borde en koffiebekers spoel en was.
As lid van die logistieke-ondersteuningsgroep vir ’n klomp wilde veldmotorfietsjaers moes ek ’n ander keer kulinêr sorg vir askoek en konfyt, tiemie-enbasilieblaar-gemarineerde Skotse filet en ’n erg gemayonnaisede aartappelslaai met uie, soetsuur agurkies, hardgebakte eiers, kerriemosterd en kondensmelk asook bruinsuiker, ja, en baie swartpeper. En ook tiramisu – jy kan dit in transito en in die veld maak. As jy my nie glo nie, bel! 082 781 4928. En dan, as al die ander rustig in hul padrol en beddegoed lê en na die uitspansel kyk – dan ruim ons op.
Ek weet die was-aksie is uiters belangrik. Vra my pa, ’n oud-weermagsoldaat. Daar is niks wat ’n ou se maag so opfoeter soos vuil eetgerei nie, het hy altyd gesê. En dan veg ’n soldaat halsstarrig. Ons weet ook almal die verskrikking van ’n reis is ’n maag wat sy eie draaie gooi …
’n Mens is nooit te oud om te leer nie, lui die gesegde, en mettertyd het ons ou transito-reisigers, ek en my reisgenote, die kuns vervolmaak. Die kuns van kosmaak en opruim in transito.
Tot ek saam met ’n klompie jongmense ’n televisieprogram, Leef jou reis – met Gerrie Pretorius, in die suide van Namibië vir kykNET gaan skiet. Gerrie is ’n aks ouer as my oudste en die res is jonger as my jongste en ek wonder of hulle weet van ’n “kondimentekas”? (So ’n kas vol speserye kan enige veldkok se vaalste koskonkoksies red.) “Nee, ons het sout in,” kom die antwoord.
“Het julle opwasmiddel?” – dinkende aan Delhi Belly … “Vir wat?” is die teenvraag. Ek leer van een-bord-en-potvuilmaak-kook – in die bestek van sewe dae en dit in transito. En tussendeur word daar sonder ophou gewerk, want die program moet klaar.
Saans is dit Pinotage-deurdrenkte wors met braaibrood, alles van die rooster af – met die hand geëet. Potgebraaide roer-eiers en spek in ’n wrap op die rooster – met die hand geëet. Sag gemarineerde beeskruisskryf, gebakte aartappel en sampioen in foelie oor die kole – met die hand geëet. Die enigste “oormaat” skottelgoed was daai vitamien C-aand, toe elkeen ’n lepel gekry het om die winkelslaai uit die boksie te skep!
Ons het heeltyd soos konings geëet en nooit opgeruim nie … en dit was goed.
Maar ná al my omswerwinge weet ek nou al hoe belangrik balans is. Om régtig lekker te ontspan en te eet moet jy bereid wees om op te ruim. En iemand het tog wel gesê: “Geen vrou het nog ooit haar man doodgeskiet terwyl hy skottelgoed gewas het nie.”