Dit het als begin met Portugal,
jare gelede. My eerste vlug oorsee het my Lissabon toe geneem, met die destydse lugdiens TAP. Toe het ons gespot en gesê dit staan eintlik vir take another plane!
Maar ek was op die régte vliegtuig, want daardie reis het my aptyt vir swerf en ’n wêreld van smake aangewakker. Sonder uitdagings was dié reis nie. Dag een “verloor” ek die bus wat my na die oudste deel van die stad, die Alfama, geneem het. Uit pure verwondering stap ek ’n verkeerde draai. En daar staan ek, met sonsondergang, in ’n doolhof van ou geboue, benoud-nou straatjies en ’n swetterjoel eetplekkies, die mekka van melancholiese Fado-sangers. Met g’n benul hoe om weer by my hotel uit te kom nie.
Wat om te doen in tye van uiterste stres? Jy eet ietsie, sê Nataniël. So stap ek by die eerste winkeltjie in en vind hemel. Daar’s ’n toonbank van soetgebak en ek sien ’n melktert in die kleine. Mettertyd sou ek leer dié ryk en lekker vlatertjies is pastéis. Ek glo vas hierdie Portugese kleinood het my daardie dag die krag gegee om my hotel weer te vind – ná ’n rit op ’n oorvol, smeltwarm moltrein wat soos ’n ewigheid gevoel het.
Van daar is ek noorde toe – verby Oporto na die oudste plek in Portugal, Ponte de Lima. Nou stroom toeriste daarheen; toe het die wêreld skaars geweet van dié Middeleeuse dorpie, wat al in 1125 ontstaan het. Die manjifieke brug oor die stadige Lima-rivier is die pronkstuk. Soos die barok-herehuise, die priële met geurige wisteria en die swaeltjies wat met sonsondergang huis toe kom. Ook die mark op die oewer van die Lima wat sedert die 12de eeu vars produkte verkoop, en die wingerde wat Portugal se bekende sprankelwyne, Vinho Verde, oplewer. Soos die kontreikos wat jy in jou smaakgeheue wegbêre …
Ek ruik vanielje en kaneel. En proe koljander, rooipeper en pietersielie. Ek dink aan ontbyt met vars brood, ham, kaas en vrugtekonfyt. Onthou feijoada, ’n ryk bonebredie, caldo verde, ’n aartappel-en-chorizosop, en caldeirada, ’n soort vispotjie. Ook vars slaai wat blink van olyfolie en swartpeper. Dan my gunsteling, die crème de la crème van crème caramel, crema catalana. Wat wil ek sê vir Portugal? Obrigada vir die soet herinneringe!