Sarie Kos

KUIER, KOOK & INSPIRASIE

-

2014

• MEDIA24 Beste Spesialis-joernalis 2013

• PICA Beste Tydskrif: Dekor, Handwerk, Kos of Tuin

• GALLIOVA-MERIETEPRY­S

2012 • GALLIOVA-MERIETEPRY­S • MEDIA24 TYDSKRIFTE PRYSE

VIR UITNEMENDH­EID Trots SA

2011

• PICA Spesiale Toekenning

Kom ek raai.

Een van die redes waarom jy dié SARIE KOS gekoop het, is Barbara se sjokoladep­oeding op die voorblad …

Ja, jy, ek en derduisend­e ander lesers wat, soos die vroegste beskawings, daarvan oortuig is dat die kakaoboom en sy vrug ’n geskenk van die gode is! Op Twitter onlangs het ek half verveeld deur die dag se kommentaar gewerk, en toe met hartkloppi­ngs gaan stilstaan by dié onweerstaa­nbare hand vol karakters: Wat om te bak dié week – die perfekte sjokoladek­oek, mooi, intens, smelt-in-die-mond-lig.

Die kenners sê ons liefdesver­houding met sjokolade het duisende jare gelede begin in lande soos Mexiko in SentraalAm­erika, waar dit bitter en skuimerig saam met speserye gedrink is. Teen die tyd dat dit in die 17de eeu in Europa bekend geraak het, is suiker bygevoeg vir ’n heilsame drankie vir die elite.

Vandag is dié lekkerny genadiglik ons almal s’n, en is ons wêreld daarsonder ondenkbaar. Sjokolade eet ons suikersoet of heerlik bitter, rissiesker­p of gegeur met sout. Versier met lint bly dit die mooiste dankie en die grootste liefdesver­klaring. Ook die heel beste dit-kom-my-toe-bederf ná ’n moeilike dag. In mode praat ons van winter se warm sjokoladeb­ruin, sommige parfuums is soet-verleideli­k met onmiskenba­re sjokoladen­ote en in sekere wyne proe jy eksotiese sjokolade op die tong.

In België in 2013 is selfs ’n beperkte reeks seëls uitgegee wat na sjokolade geruik het. Hoeveel briewe sou ek nie gepos het nie! Net die geur van sjokolade skep by ons ’n gevoel van welbehae. Die wetenskap wys dat sjokolade 1 500 geurkompon­ente het – drie keer meer as wyn – en dat die liggaam daarop reageer. Dit laat ons skoon verlief voel!

Vandag weet ons ook dat ’n stukkie donkersjok­olade elke dag ons risiko vir hartsiekte­s met ’n derde kan verminder, maar dan moet ons dit nie oordoen nie. Feit is: sjokolade so saam met gereeld lag is van die beste maniere om gelukkig en gesond te bly. Hoe is dít nou vir soet nuus!

Geniet hierdie uitgawe, wat spesiaal ook vir die manne beplan is. En ja, manne, ons wéét ook júlle sê nie sommer nee dankie vir ietsie soets nie.

Winterkos is trooskos.

En wát is nou lekkerder as ’n warm bord sop op ’n koue dag.

Toe ek klein was, het my ma altyd op Saterdagmi­ddae vir ons sop gegee. Partykeer selfs pakkies sop, maar sop moes dit wees. Ons het warm geroosterd­e witbrood met baie botter op saam met die sop geëet – tog te lekker.

Sy het altyd haar groentesop in ’n stoompot gekook. Ek was doodbang vir daardie pot, en as die stoomklepp­ie eers begin fluit het, het ek so gou as wat ek kon uit die kombuis padgegee. Ek was vas oortuig die deksel gaan afskiet.

My suster Michele, wat (volgens my ma) so vol fiemies was, se sop moes altyd deur ’n sif gegooi word, want sy het niks van uie gehou nie. As sy ui in ’n gereg gesien het, het sy geweier om dit te eet.

Dis baie maklik om sop te kook – jy moet net geduld hê. Boonop is dit een van daardie geregte wat op sy lekkerste smaak ’n paar dae nadat jy dit gemaak het. Op bl. 58 maak ek 6 smaaklike soppe, elkeen ’n volledige maaltyd.

Ek en Herman Lensing het groot pret gehad met die bak van ons appelterte op bl. 52. Natuurlik het Eskom besluit daar sal beurtkrag wees net toe ons by die kosateljee instap. As dit gebeur, het jy g’n keuse nie, jy moet maar net wag. Ons het toe darem oorgenoeg tyd gehad om seker te maak ons meet elke bestanddee­l baie noukeurig af.

Die ergste tyd om beurtkrag te kry is saans tussen sesuur en halfnege, wanneer die meeste mense aandete wil berei. Wát doen jy as jy nie ’n gasoond het nie? Toe dit onlangs weer met ons gebeur, het my dogter Anya buitentoe gegaan en na die sterre gekyk – wat jy mos nooit in die stad raaksien nie.

Miskien is dit goeie raad: As jou krag weer in die aand met etenstyd af is, gaan na buite en kyk na die sterre.

Barbara

 ??  ?? Michélle van Breda
redakteur SARIE
Michélle van Breda redakteur SARIE
 ?? Barbara Joubert
kosredakte­ur SARIE KOS ??
Barbara Joubert kosredakte­ur SARIE KOS
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa