SPEK-SJIEK
Hy is donker en sjarmant en die mede-eienaar van Bacon on Bree, ’n byderwetse speksalon wat onlangs in Breestraat – Kaapstad se foodie- plek – oopgemaak het
"Oukei, buddy, sien jou môre. Ek skuld jou nog R10 vir daai broodjie wat ek nou-nou geëet het,’’ groet ene Stu. “Solank ek net nie naderhand vir my eie toebroodjies betaal nie …,’’ lag Richard Bosman, mede-eienaar van Bacon on Bree.
“Dis ’n vriend wat saam met my op skool was,’’ verduidelik hy toe die man uitloop. “Is dit oukei as ons binne sit? My superbestuurder is by ’n begrafnis. Ek moet ’n ogie hou.’’
Richard skink ’n glas water, lui ’n rekening op, gaan sorteer iets in die kombuis uit …
Met sy ernstige gesig en sjiek donker trui vertel hy dat hy besluit het om die stylvolle bacon bar te begin omdat “almal van spek hou. Dit is boonop baie veelsydig. Jy kan dit saam met kaas, eiers, brood – eintlik enigiets – inspan en dit werk.”
Hy wou sy spekplek in Breestraat oopmaak en nêrens anders nie, “omdat dit deesdae een van Kaapstad se foodie- strate is waar allerlei interessante goed gebeur. Die spesialiteitskaaswinkel The Culture Club is langsaan, daar’s allerlei lekker koffiewinkels, ’n deli …’’
As klein seuntjie wou Richard almal gesond dokter, maar nadat hy in 1987 by Rondebosh Boys High gematrikuleer het, het hy nie ’n idee gehad wat hy met sy lewe wou doen nie. “Toe werk ek jare lank in die kleinhandel by Marks & Spencer in Londen en later by Woolworths in Suid-Afrika.’’ Nog later het hy charcuterie (’n bord met verskillende soorte verwerkte koue vleis) by The Deli in Hermanus gemaak.
Die kosbedryf het hom nog altyd gefassineer.
Hy en sy vrou, Justine Seymour, het in Maart vanjaar die geleentheid aangegryp om saam met Fanie Swanepoel dié speksalon in die stad oop te maak. “Ek was altyd mal oor kosmaak en geniet dit nou ook om die spyskaart te beplan.’’
Eenvoudige hartskos is hul passie. Die spesialiteitsgereg is The Harvey Spencer – ’n ciabatta met spek, brie, tamatie en pesto. Ander geregte wat die mond vir seker sal laat water, sluit in: Le Coq Sportif, Smokey Joe, The Prom . . . Net die name alleen laat jou klaar die kenmerkende geur van spek in jou neusvleuels kry. Ryk en lekker.
Richard vertel hulle het net sewe weke gehad om alles in die restaurant gereed te kry. “Ons het in Maart begin werk, en onthou, hierdie huis in Breestraat is tweehonderd jaar oud. Al die ‘prentjies’ oor hoe dit moes lyk, was in ons kop. Daar was nie ’n behoorlike kombuis nie, ons moes tafeltjies inbou, ons moes die regte kunswerke vind vir die onderste deel van die restaurant. Ons sal ook elke maand vir opkomende Suid-Afrikaanse kunstenaars die geleentheid gee om hier uit te stal. Ons moes al die foto’s in die boonste deel raam en ophang. Eintlik was dit regtig ’n baie groot taak.’’
Justine het die binneversiering gedoen. Dit is lig, skoon en modern, met ’n effens industriële gevoel. Die onderste gedeelte skep ook die gevoel van ’n “geheime’’ binnehof (jy kan dit nie van die straat af sien nie) met ’n tuintjie. ’’’n New York-atmosfeer,’’ is hoe Richard dit beskryf.
“Hoewel dit baie uitdagend was om alles so vinnig klaar te kry, is dit hoogs bevredigend om nou hier te staan en alles werk.’’
En wie moet ons bedank vir die lekker spek? “Dit is alles te danke aan ‘gelukkige varke’ van Piketberg se omgewing wat vry in die veld wei [voor hulle geslag word],’’ lag hy.
Richard het nie sy slag met charcuterie op Hermanus gelos nie. Hy werk steeds graag met salami, spek en ander verwerkte vleis. “Dit is skeppend om so ’n bord bymekaar te sit, en as jy klaar is, moet jy weer van voor af begin en werk tot jou produk perfek is … Die lekkerste is wanneer gaste vir jou sê hoeveel hulle dit geniet.”
Vir ontspanning hou hy en sy vrou en twee dogters, Julia (15) en Issy (12), daarvan om teen Leeukop uit te klouter of hulle gaan stap op die promenade in Seepunt.
En hulle eet graag uit. “My dogters is veral mal daaroor om nuwe eetplekke te probeer. Ons hou van eenvoudige, geurige kos. Veral Italiaanse en Japannese geregte.’’
Wanneer die stadsgewoel te veel raak, vlug die gesin na die platteland en kry weer lafenis vir die siel op prentjiemooi dorpe (met heerlike eetplekke) soos Franschhoek, Paternoster, Stanford en Prins Albert. Richard is ’n optimis en dankbaar oor hoe sy lewe verloop het. “Die belangrikste les wat ek tot nou toe geleer het: Niks is ooit so erg soos wat dit lyk nie en jy moet net nooit moed verloor nie.’’
Hoewel dit baie uitdagend was om alles so vinnig klaar te kry, is dit hoogs bevredigend om nou hier te staan en
alles werk
Richard Bosman