Koud en met koorsagtige afwagting.
Dis hoe ek daardie Bok-toetsdae onthou toe ons die radio’tjie toegepak het om seker te maak ons mis nie ’n skop, skrum of aangee nie. Dat jy destyds net kon hoor, en nie sien nie, het dit soveel opwindender gemaak. Dit was sweerlik “theatre of the mind”. Jy was te bang om asem te haal, wat nog van kou …
Maar getrou aan volk en vaderland was biltong en droëwors altyd op die rugbyspyskaart. Bakke vol. Ook klein tuisgemaakte worsrolletjies en vleispasteitjies. G’n Groen-en-goud-toets kon hiersonder nie. Met halftyd het die toets ’n heel ander geur aangeneem. Dan is daar vir ’n vale geskarrel om glase en koffiebekers vol te kry, en het die soetigheidjies te voorskyn gekom – klein, warm plaatkoekies met ’n smeersel heuning, dalk koeksisters, miskien skons met bessiekonfyt en kaas.
Maar eintlik is dit die anderste soort Bok-dae wat my bybly. Soos die keer toe ons in ’n flou sonnetjie gepiekniek het tussen die Overberg se winter-koringlande. Broers en susters, neefs en niggies, komberse en kussings op die grond. En die motordeur wawyd oop sodat die kar-radio elke swenk, skepskop en drie op die rugbyveld kon uitbasuin. Ek onthou gemmerbier en soetkoekies, deeg-frikkadelle en warm koffie. Bowenal, die Bokke wat wen!
En toe kom 1995 se wedstryd – die eindstryd van alle Bok-eindstryde. Toe Johannesburg se Ellispark daardie sonnige middag stampvol was en die wêreld se oë op die manne in Groen-en-goud. Ek was in die Namib-woestyn, in Sossusvlei, vir werk. Maar ’n fan maak ’n plan en ons het ’n rugby-bittereinder in ’n sinkhuisie opgespoor, een mét ’n TV. Ons het ingeryg gesit, elkeen met ’n stuk wildsbiltong en ’n Windhoekse bier, toe Madiba en Bok-kaptein François Pienaar daardie Wêreldbeker hoog in die lug gehou het.
Nou’s dit weer sulke tyd, en ons hou asem op. Maar dié is seker, met SARIE KOS is die tafel gedek en die eetgoed beplan. En dalk, net dalk, gaan ons weer kan sê soos digter G.A. Watermeyer in 1955: Die Springbokspan die pronk alweer ...