Sarie Kos

Ek kan dit nie glo nie.

- Barbara Joubert kosredakte­ur SARIE KOS

Vier jaar is verby en nou kyk ons uiteindeli­k weer Wêreldbeke­r-rugby!

In my huis is dit ’n gróót ding. Ons sit vasgenael voor die TV en skree ons kele hees vir die Springbokk­e. En ons beplan lank voor die tyd al wat ons moet kook of braai om elke wedstryd nog opwindende­r te maak.

Ek sal nooit 1995 se eindstryd vergeet nie, want die spanning in my ma se huis was ondraaglik. Ná die eindfluitj­ie was my rug skoon in ’n spasma van al die angs. Die salige gevoel in my binneste nadat ons as kampioen gekroon is, kan ek vir niemand beskryf nie. Ek onthou ook dat daar nie veel gekook is daardie dag nie – wel ’n bietjie gedrink, seker om die senuwees te kalmeer.

Met sulke groot wedstryde het ons altyd vir my ma gevra om iets in die kombuis te gaan doen, want as sy die vertrek verlaat het, só het ons geglo, het die Bokke gewoonlik punte aangeteken. Dit het al ’n grap geword – sy wat na die kos moes omsien terwyl ons gil en raas voor die TV.

In 2007 – dieselfde jaar dat SARIE KOS op die rak verskyn het – het ons dit weer reggekry om die toernooi te wen. Die aand ná die eindstryd in Frankryk het baie van my vriende by ons kom braai. Toe was dit weer my beurt om die vertrek te verlaat en die wors buite op die rooster te gaan omdraai. Nie omdat ek moes nie, maar omdat ek wou, want die senuwees het te erg geknaag!

Hierdie jaar gaan ek my eetgoed vroegtydig reg hê sodat ek strykdeur voor die TV kan sit wanneer ons speel. En ek begin sommer met die klein panbraaibr­oodjies op bl. 68.

’n Heerlike kuiertyd lê vir ons voor en hopelik kan ons op Saterdag, 31 Oktober, weer daardie goue beker omhoog hou. En dan vier ons die sege met die voorbladka­askoek! Kom ons staan bankvas agter ons Bokke. Lekker rugby kyk en kook.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa