Koeksister, waar kry jy daai naam?
SARIE se voormalige kosredakteur, die ikoniese Peter Veldsman, lek die stroop af ...
Dit bly vir my onverklaarbaar dat ons basies net drie goed – nogal almal soet, op die koop toe – in ons kosgeskiedenis het wat na Suid-Afrikaners vernoem is: Hertzoggies, Jan Smutskoekies en Japie se Gunsteling, waarmee S.J.A. de Villiers in Kook & Geniet ’n ode van die liefde vir haar man geskep het.
Deur die jare heen het verskeie kosskrywers gepoog om onse Mimi Coertse in ’n soete verleiding te verewig, maar die volk het
nie daarop gereageer nie. So was dit ook met sopraan Cecilia Wessels en kookkunskenner Kotie van der Spuy, albei lank reeds oorlede.
Sou ’n mens dit kan toeskryf aan ons geen-nonsenstersaaklikheid? Aan ons gebrek aan kos-romantiek? Dalk omdat ons in die verlede so sterk ingestel was op die puritynse Christeliknasionale lewensuitkyk? Dalk omdat ons so min gelag het en te min vir die eie selwers gelag het?
Of sou ons so swaar gely het onder die sonde – denkbare en ondenkbare sondes? Waar dan is ons Tetrazzini, ons Charlotte, Hèléne, Suzette, Pavlova, Melba? Of daardie beminlike twee Franse plattelandse skindertantetjies wat ’n hotel besit het waar hulle die verleidelikste appeltert, wat hulle na hulselwers genoem het, die Tarte Tatin, voorgesit het?
Ek dink ons het ’n gulde geleentheid laat verbygaan toe ons die koningin van ons unieke soete verleiding sommer net ’n koe(k)sister genoem het! Sê nou net ons het dit, ter ere van die volksplanter se liewe gade, Maria se vlegsel genoem? Of dalk kon ons die oorlogsheldin Emily Hobhouse vereer het? Emily’s plaits! Of presidentsvrou Tibbie Steyn? Nog ’n Tibbie vir jou? Sy was mos van Skotse afkoms en ’n Tibbie kon ’n vervorming van tidbit gewees het.
Maar nee, ons het sommerso, sonder blik of bloos, dit ’n koek genoem en dit, dink ek, vat die koek! En dan is dit nie eens ’n koek nie.
Ek volg mevrouw Van Tulleken, wie se beroemde kookboek in 1910 al verskyn het, na en praat van ’n koesister. Jy kan gerus ook nou maar bykom en daardie “k” (letter, nie woord nie) weglaat. ’n Deel van die bevolking wil dit eerder ’n koesister noem en ’n ander deel van ons reënboognasie skep bollas en noem dit koesisters, selfs koe(k)siesters.
Beweeg ons nou in die rigting van ’n Babelse verwarring? Dan sal ek eenvoudig maar net, aan die hand van my dierbare vriendin koskenner Cass Abrahams, moet verduidelik. Wat die nie-Maleier bollas noem, is nie hoe dit deur die Maleiers genoem word nie. Ovaalvormige olieballe wat gegeur is met fyn kardemom, fyn kaneel, ekstra gemengde speserye en anyssaad voordat dit, net soos tradisionele koesisters, in olie gebraai word, is hulle koesi(e)sters. Anders as die koesister word dit nie dadelik in stroop gedoop nie, maar eers wanneer dit koud is. Daarna moet dit in suiker of klapper gerol word voordat die Maleiers dit as ’n koesister beskou. Wanneer die deeg in ronde balle gevorm word en nie agterna in klapper gerol word nie, is dit ’n bolla.
Daar is nog ’n familielid, genaamd skuinskoek. Hierdie Namakwalandse metgesel vir skaapwagters staan nie ver weg nie.
Party mense glo dat die ware koesister net met suurdeeg berei moet word. Geduld is egter nie ’n kenmerk van die meeste van ons tuiskokke nie – daarom gebruik hulle sommer bakpoeier.
En dan is daar die smeerkwessie. Groentevet? Varkvet? Botter? En met huiwering, eerder met versugting, margarien?
Ag, liewe-vadertjie-in-die-hemel, die stroop! Suiker en water, nie te dun en nie te dik gekook nie. Soms met ’n knippie wynsteensuur daarby, maar altyd, ja altyd met kremetart, anders tel jy stroopprobleme op. En vir die blink, ’n paar druppels gliserien.
Nou kom die liewe goeie VLV-mentaliteit in die prentjie. Elke bakster van koesisters het mos ’n geheim, of twee. Party glo aan die sitrus-nuanse met repies suurlemoenskil, ander gaan ’n stappie verder en glo aan dieselfde hoeveelheid lemoenskil, en nog ander kan eenvoudig nie Opperman se nooi-in-’n-nartjieskil weerstaan nie. Deesdae merk ek ook op dat goed gestampte suurlemoengras-stele saam met die suikerstroop gekook word.
Ek is natuurlik baie in my skik dat ons hier te make het met ’n kwessie van dink voor jy proe en oordink wat jy proe. Gemmer, vars of gedroog, en sitrus is ’n wenkombinasie. Voeg nou hierby ’n stukkie kassia of pypkaneel en ’n paar kardemomsade, selfs ’n takkie verbena, en jy eindig met ’n genuanseerde, smaakkomplekse stroop. Ek weet dat party anties destyds in Namakwaland ook anysstroop berei het toe hul kaneel op was en, nouja, om honderd myl of wat na Clanwilliam en Citrusdal te ry om ’n suurlemoen in die hande te kry het nie ekonomiese sin gemaak nie.
Hierdie komplekse stroop is nie vir almal nie. Jy moet jou smake en jou verhoudings ken. Haastige hond sal sy mond verbrand of moet ek nou eerder sê onoordeelkundige baksters kan maklik medisyne eerder as stroop maak!
So ’n dekade gelede was as (ja verbrande hout) ’n ontdekking by die groot sjefs van die wêreld. Dit was net as-sous hier en as-sous daar! Nou wonder ek of een van die Hoëveldvroue al oorweeg het om ’n stukkie steenkool in die stroop te sit? Wat van wilde dagga? Koejawelskil?
Voordat ek heeltemal die kluts kwyt raak met my verbeeldingsvlug, wil ek, soos ’n goeie prediker, saamvat en afsluit. Koesisters is verewig, en dank die Vader daarvoor, met ’n standbeeld, want dit verdien ’n standbeeld.
Eerstens het dit van menige huisvrou ’n entrepreneur gemaak en dié het ons deesdae by hul miljoene nodig. Hoeveel kinders se sakgeld het Ma nie in haar kombuis verdien nie?
Tweedens is dit ’n ware kultuurskepping en ons antwoord op die Franse se verering van Napoleon, die Turke en Grieke se baklava, die Switsers se meringue en die Hongare se strudel.
Daar is net een ding wat my bekommer. Ons hoor daagliks van die gevare van suiker, waarop die suikermense die volk herinner dat ’n mens energie nodig het. Nou sê nou net die Minister van Onderwys kry dit in die kop dat elke skoolgaande kind elke dag ’n koesister moet kry …
Laat ’n mens dink, of hoe?
Maar nee, ons het sommerso, sonder blik of bloos, dit ’n koek genoem en dit, dink ek, vat die koek! En dan is dit nie eens ’n koek nie
Peter Veldsman