Kunswerke vir die kostafel
Sy pottebakkersateljee is so bekend dat ’n gesaghebbende Franse reisgids dit lys as een van die moet-sien-plekke in Kaapstad. En g’n wonder nie, want almal met ’n passie vir kook wil deesdae een van Mervyn Gers se skeppings hê
is maar net vier jaar sedert Mervyn Gers begin het met sy “funksionele kuns” – stylvolle borde, bakke en bekers wat beslis nie in ’n kas sal stof vergader nie, maar elke aand op tafel gebruik kan word.
As hy deesdae soms vir homself vra: ‘’Hoekom wil ek nóg ’n bord maak?’’, besef hy keer op keer dit gee sin aan sy lewe – en maak mense gelukkig. ‘’Ek hoop kos lyk mooi op my breekware en dra by tot die geluk en samesyn van ander . . .’’
Want sewe jaar lank, voor hy met die pottebakkery begin het, en selfs nog daarna, het hy met depressie geworstel en was slaap al wat hy wou doen. Maar sedert hy twee jaar gelede met aandagafleibaarheidsindroom (ADD) gediagnoseer is en daagliks Ritalin drink, kan hy agt uur aaneen konsentreer.
Hy spartel nog steeds met die lewe, vra vrae, leef intens … Maar saam met oefening en kook is pottebakkery sy redding.
“Mense wil toenemend unieke borde hê, hetsy om hul kos op voor te sit of die huis te versier. Ons beweeg al hoe verder weg van massaproduksie na items wat ’n geskiedenis het. Baie van my werk is ook dekoratief, soos die Walter Battiss-reeks. Dié kunstenaar se maatskappy, wat die regte op sy werk besit, het my handewerk ’n paar jaar gelede by ’n Design Indabaexpo gesien en my genader om saam aan ’n projek te werk.‘’
Mervyn en sy span het 23 Battiss-
My breekware wat goed verkoop, is hoofsaaklik in neutrale kleure: swart, grys, roomkleur, naaswit. Kos vertoon mooi daarop Mervyn Gers
kunswerke gebruik as motiewe op 200 bakke en 200 groot plat borde in hierdie reeks. Mense het nie meer baie geld vir kuns nie, hulle wil voel as hulle iets koop, moet hulle dit ook kan gebruik, verduidelik hy.
So wie is dié ou – oorspronklik van Daniëlskuil in die Noord-Kaap – met die sagte blou oë, swart T-hemp en jeans, wat so half sag praat?
Mervyn het ’n graad in kommunikasiekunde aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf nadat hy in die weermag was. ‘’Die naaste wat ek toe aan kuns gekom het, was om vir kunsstudente te poseer. Ongelukkig, in Bloemfontein, nie naak nie!”
Jy sou hom nie op kampus kon miskyk nie. Hy was kaalvoet, winter en somer. ’’Ek loop oor dorings, rotse – enigiets – ek hou nie van skoene nie, vandag nog nie. Ek was ’n rebel.’’ Hy tel sy beroepe een-een af: polisse skryf, kroegman, fotografiese assistent, kliënteskakel, radiostasiebestuurder, bemarkingstrateeg. Maar hy is nou op die regte plek.
‘’Ek is net nie ’n korporatiewe dier nie en hou nie van reëls nie.’’
Moet hom ook net nie ’n keramiekkunstenaar noem nie.’’Dit is maar net ’n ghrênd naam vir ’n pottebakker,’’sê hy, doodbenoud dat hy pretensieus sal klink.
Sy liefde vir kuns het kleintyd begin. Hy wou net teken. Maar kuns was nie ’n keusevak op skool nie. En toe het die stadsliggies geroep.
Hy het pottebakkery grootliks aangeleer deur boeke daaroor te lees en dit op die internet te bestudeer. “En deur foute en probeerslae. Oor en oor en oor. Ek het ook ’n paar aandklasse bygewoon.”
Sy werk voel soos speel en só wil hy dit hou. Streng gesproke is hy nou eerder kreatiewe direkteur, wat ontwerpe konseptualiseer en bemarking doen, as pottebakker. Die 28 opgeleide werkers
in sy ateljee in Paardeneiland – SuidAfrikaans, Malawies, Zimbabwies, Angolees en Kongolees – sorg vir ’n lekker samesmelting van kulture.
‘’Ek wil net hê almal moet goed saamwerk en die werkomgewing moet gerieflik wees. Nou klink ek seker soos Robin Hood.’’
Hy is lief vir Oosterse invloede in ontwerpe en glasure, maar die kleure van sy kinderdae – soos in die Kalahari-woestyn – het ’n reuse invloed op sy werk. ‘’Ek onthou die mooiste sonsondergange en wonderlike skakerings van blou, veral ’n ligblou wat ek nog nêrens anders gesien het nie. Die Kalahari is soos ’n ander planeet, so mooi is dit.’’
Sy grootwordjare het ook ’n groot invloed op hoe hy kosmaak. Sy pa was die algemene handelaar op Daniëlskuil en het ook die hotel, winkel en drankwinkel besit. ‘’Ek en my broer, Julius, het dikwels in die hotel geëet. Die tipiese drie gange is voorgesit, soos sampioenroomsop, biefstuk met peperwortel, gebakte aartappel in skaapvet en blomkool met kaassous. Nagereg was Yorkshire-poeding.
‘’Afval is een van my gunsteling-geregte en ek kook dit graag – wit, met ander woorde sonder kerrie. Dan sit ek skaapnek by, want dit gee ekstra dimensie. En my ouma se resep vir niertjies en lewer in suursous op aartappelsuurdeeg-brood is net so lekker soos kaviaar en Veuve Cliquot vir ontbyt.
“Ek hou van alle bredies – osstert en lamsvleis (veral van die Karoo): tamatie, boontjie, waterblommetjie. Maar ek begryp nie hoekom mense soetpatats, pampoen en wortels met suiker en botter gaarmaak nie. Dit verbloem die natuurlike smaak!”
Dit is asof jy alles kan ruik soos hy beduie. Paella uit Spanje. Gebakte hoender, steurgarnale, vis, bief … ‘’En natuurlik braaivleis en krummelpap met ’n uie-entamatie-soet-en-suursous.’’
Dan raak Mervyn nostalgies. Dink terug aan kondensmelk en ingedampte melk. “As kinders het ons roomys daarvan gemaak. Soet en fantasties.” Maar hy het nie meer ’n suikertand nie, sê hy met ’n bakkie hoenderslaai voor hom. Die snytjie rogbrood skuif hy eenkant toe. ‘’Ek’s gluten-intolerant – eet eintlik al agttien jaar nie juis brood nie. Net af en toe met ontbyt op ’n Saterdag – marmelade en roosterbrood is darem maar lekker.’’
Deesdae koop bekend en onbekend sy werk. Mode-ontwerper Errol Arendz het al gevra hy moet vir hom ’n reeks breekgoed maak, geskoei op ’n motief op ’n stuk lap. Nerine Winter, vrou van voormalige Bokkaptein Francois Pienaar, het al breekgoed by hom gekoop. En Pat Lambie, die Haaie-rugbyspeler, en sy vrou het van sy breekware vir hul trouregister versoek. Dat van die land se top-sjefs en oorsese kosfoendies van Switserland en Duitsland by hom bestel, maak hom opgewonde.
Sy ateljee is so bekend dat die gesaghebbende Franse reisgids Louis Vuitton City Guide dit as een van die moetsien-plekke in Kaapstad lys.
Hy sit graag kos op sy eie borde voor, bevestig hy. ’’My breekware wat goed verkoop, is hoofsaaklik in neutrale kleure: swart, grys, roomkleur, naaswit. Kos vertoon mooi daarop. Dink net hoe mooi lyk ’n kleurryke slaai of ’n bloedrooi tamatie in ’n swart bak.
“Mense hou veral van die neiging dat borde en bakke nie definitiewe rande het nie.’’
’n Ander topverkoper is koivis-en-blou wilgerborde . . . ‘’Baie van my werk het dié Oosterse gevoel. Ek hou van die kalmte en rustigheid. Miskien identifiseer mense met die zen-gevoel wat hulle in dié reeks ervaar,’’ gis hy.
Sý inspirasie? ‘’Om nuwe kulture – veral deur kos – te leer ken. Ek proe alles een keer. Dit is so arrogant om niks anders as dit wat jy ken te wil eet nie.’’
Hy probeer dus minstens een keer per jaar reis.
‘’Dít dryf my om geld te maak. Ek wil nie ’n woning in ’n ander land besit of ’n groot motor hê of ryk doodgaan nie. Ek wil reis.’’
Daar is altyd uitdagings in die pottebakproses. “As die oond te warm is, of die klei of glasuur nie reg gemeng is nie, kan alles bars. Jy kan eensklaps alles in die oond verloor. Jy moet ook geduldig wees, voortdurend vernuwend dink en vasbyt.
‘’Maar dan gebeur dinge soos die Eat Out-toekennings, wat die beste restaurant in die land aanwys. In 2013 moes ek en my span 500 voorgeregbakkies die dag voor die geleentheid maak. En ons het. Dit was ’n ongelooflike lekker gevoel.’’
Die onderhoud is klaar en die man met die swart trui en die blou oë verdwyn stil-stil, terug ateljee toe om nog van sy skeppings te gaan optower.
Ek wil nie ’n woning in ’n ander land besit of ’n groot motor hê of ryk doodgaan nie. Ek wil reis
Mervyn Gers