Sarie Kos

KUIER, KOOK & INSPIRASIE

- Barbara Joubert kosredakte­ur SARIE KOS

Vakansie is hier – en nou wil ek net braai.

Vroeër jare was ek glad nie ’n bobaas-braaier nie, maar toe kom eet ’n vriendin een aand by my en ons is lus vir braaivleis. My man was nie tuis nie, maar dit het my nie afgeskrik nie. Buitendien, ons wou niks fancy braai nie – net wors, lamstjoppi­es en braaibrood­jies. Omdat ek toe nog nooit self gebraai het nie, gebruik ek toe brikette. Met die aansteek van die vuur het dit goed gegaan, al het ek ’n hele pak vuuraanste­kers (Blitz) gebruik. Toe die kole na my mening reg was, pak ek die wors in ’n toeklaproo­ster. Ek moes dit taamlik vinnig braai, want ek dink die kole was te warm.

Volgende aan die beurt was die tjoppies, en hier het my onkunde die oorhand gekry. Die grootste fout wat ek gemaak het, was om eers olyfolie oor die vleis te gooi. Toe ek daai tjoppies op die kole sit, was dit soos ’n vulkaan wat uitbars. Ons het so gelag, want die vleis was so swart soos houtskool – flame-grilled chops, kan jy maar sê.

Al was my eerste probeersla­g ’n ramp, het ek nie moed verloor nie en vandag is ék die een wat by die huis braai. Ek sê altyd ’n goeie braaier is ’n geduldige braaier, veral as dit by braaibrood­jies kom.

Dis tradisie in my huis om op Oukersaand te braai. Dit sorg dat my kombuis taamlik skoon bly vir die volgende dag se groot kook. Koue filet is gewoonlik deel van my Kersspyska­art. Ons braai die filet sommer ook op Oukersaand en dan is een van my disse reeds klaar vir die volgende dag. Ek het wel een tradisie so twee jaar gelede verbreek. Ons groot feesmaal op Kersdag was altyd ’n middagete. Ek kan nog goed onthou hoe warm ons aan tafel gekry het, met temperatur­e van by die 35 °C buite.

Ek hou nou my groot Kersete in die aand, wanneer dit lekker koel is. Ander mense is dan al klaar, maar my gesin kuier heerlik om die tafel. En van die ham wat oorbly, maak ons die volgende dag die smaaklikst­e broodjies.

Ek hoop julle braai lekker dié vakansie. Geseënde Kersfees aan almal, en die beste 2016.

Barbara

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa