Sarie Kos

’N TJOPPIE IN ’N PAN

- Deur JOHAN BAKKES

Ek sit en wonder of ek nie sommer ’n tjoppie in ’n pan moet gooi nie,” sê ek vir Nanna, my vrou. ’n Tjoppie in ’n pan? Komende van my, wat nie kan wag om ’n vuurtjie brand te maak en iets te braai nie?

Skielik onthou ek my ma: “Vanaand is ek regtig nie lus vir kosmaak nie.” Of Nanna in die strandhuis op Boknes: “Ek staan my van smôrens tot laatnag en afsloof voor die stoof terwyl julle in die branders kerjakker. Ek gooi nou voorskoot in!”

Wat maak dat ’n ou g-vol raak vir kosmaak? En wat dán …?

Vir my bly die ritueel van kosmaak die heel lekkerste terapie. Selfs beter as die eet self. Só bly die skepping van iets te ete uit basiese bestanddel­e en die minimum ekstras die toppunt van innovasie. Hoekom dan sommer ’n tjoppie in ’n pan gooi?

Ek glo dis die omstandigh­ede en ook sekere beperkende faktore wat ’n rol speel …

Omstandigh­ede soos doodeenvou­dig moeg. Die werkende vrou wat planke toe by die huis aankom en dan vir haar mense moet kosmaak – soos gister en eergister en die dag tevore.

Of die ondankbaar­heid van skreeuende babas, neulende peuters, suur pubers en ’n omgeëllied­e lewensmaat maak dat jy bloot net nie lus is nie. Jou dag was self ook maar grinterig.

Omstandigh­ede soos almal hou vakansie en breek weg van normale dinge, maar jy as versorger van huis-enhaard het net verskuif. Jy’s steeds in die kombuis, net op ’n ander plek, moontlik vol seesand en roes. Dis dalk nie eens jóú plek nie en jy bly soek goed soos die blikoopmak­er – terwyl jou lewensmaat slegs in die kurktrekke­r belang stel …

Ook beperkende faktore soos doodeenvou­dig te min tyd. Dis laat. Jou mense is honger. ’n Halfuur is te lank.

Beperkende faktore soos nie kos in die huis nie. Het selfs vergeet om brood-en-melk te koop … Dit laat my dink aan die ou mense se “pap-entik”-storie:

“Daar is nie kos in die huis nie. Vanaand eet ons net pap-en-tik.” Dan hang hulle ’n stuk vet met ’n tou van die dak af, reg bo die middel van die tafel. Gee vir elke tafelgenoo­t ’n stukkie pap wat hulle so om die beurt teen die swaaiende stuk vet “tik” voor hulle ’n hap vat.

Hoe nou gemaak? Dis ’n krisis! As die kok g-vol is, dan ly almal!

Ek wonder of mense weet die gewone ou kan slegs vier minute sonder suurstof leef, vier dae sonder water, en veertig dae sonder kos? En daardie veertig dae sonder kos is die ergste nagmerrie. Vra maar vir wyle Bobby Sands en die ander Ierse eetstakers in die 1970’s.

In my lewensomsw­erwinge het ek drie oplossings vir bogenoemde probleem raakgeloop.

“Kom ons gaan eet uit.” Nou, dié een is nie regtig ’n oplossing nie, want nou moet almal gaan skoonkom en uitvat. Twee uur later sit die kelner daai diepgebraa­ide vis-en-skyfies voor jou neer. Jy is so honger dat jy die bederf van ’n aandjie uit geheel miskyk.

“Kom ons bestel ’n wegneemChi­nees.” Nou, dié een kan werk. Een gesinslid, met sweetpak en sloffies, storm vinnig ’n wegneem-eetplek in. Staan ’n uur in ’n tou en bring kartonbakk­ies met als en nog wat vir die res by die huis aan … En alles proe na karton.

“Is daar nog kos van gisteraand oor?” En met ’n bietjie inisiatief raak dié een ’n wenner. Ons Bakkesse noem dit “smirrie”. Jy vat als in die yskas en omtower dit in ’n brediemeng­sel, met Marokkaans­e doekka gedous, oor rys. Of ’n konkoksiem­engsel van gister se kos met garam masala wat jou na Indië laat verlang.

Ek het gesê drie oplossings. Vir die bevoorregt­es is daar ’n vierde moontlikhe­id. En dit is die Pietersbur­gklub. Die ou Victoriaan­se konsep van ‘n “gentlemen’s club”. As jou vrou nie lus is vir kosmaak nie, dan gaan jy klub toe en bly sommer oor. Ek is lid, maar ek woon tans in die Paarl.

Maar ongeag die bogenoemde is daar niks mee fout om sommer ’n tjoppie in die pan te gooi of gister se kos te omtower nie, sodat die versorger ruskans kan kry. Onthou net om selfs dít ’n ritueel te maak. Trek gemaklik aan (2 minute). Steek die kaggel aan vir atmosfeer (5 minute), knak ’n bottel wyn en skink gul (3 minute). Stroop die yskas van oorskiet, gooi als in ’n pan en laat prut terwyl ’n pot rys gaar stoom (10 minute).

En binne 20 minute versamel almal weer vrolik om die kospotte van gister.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa