SJOKOLADEMOUSSETERT
Randkoek of flan is baie tradisioneel as yskastert gemaak word, en dis boonop ’n lekker manier om koek en mousse bymekaar te bring. Gebruik ongesoute botter in sjokolademousse – dit smaak nie so lekker met gesoute botter nie.
GENOEG VIR 6
RANDKOEK (FLAN) • 140 G (250 ML) KOEKMEEL • 200 G (250 ML) SUIKER • 40 G (100 ML) KAKAO • 5 ML BAKPOEIER • 1 EIERS • 2,5 ML SOUT • 125 ML KARRINGMELK • 125 ML SONNEBLOMOLIE • 2,5 ML VANIELJEGEURSEL • 125 ML KOOKWATER
SJOKOLADEMOUSSE • 2 EIERS, GESKEI • 65 ML STROOISUIKER • 12,5 ML BRANDEWYN/STERK KOFFIE • 100 G DONKER- OF MELKSJOKOLADE • 50 G ONGESOUTE BOTTER, IN BLOKKIES GESNY • 250 ML ROOM, STYFGEKLOP • KAKAO VIR OORSIF • Randkoek Verhit oond tot 150 ºC. Plaas al die bestanddele in die mengbak van ’n elektriese menger. Meng goed by medium-spoed. Spuit ’n randkoekpan van 20 cm in deursnee en 2½ cm diep goed met kleefwerende kossproei. Gooi koekbeslag in pan en plaas in oond. Bak 30 minute en toets met ’n toetspen om seker te maak dis gaar. Indien nie, bak nog sowat 10 minute. Haal uit en laat so 5 minute lank afkoel voor jy dit uitkeer (sien foto). Laat koek heeltemal afkoel. Sjokolademousse Klits eiergele en strooisuiker saam in mengbak van elektriese menger tot dik en lig van kleur. Klits brandewyn of koffie by. Breek sjokolade in blokkies en plaas in mengbak wat bo-op ’n kastrol met kookwater pas. Die water moenie meer kook nie, net effens prut. Wanneer die sjokolade gesmelt het, klits die botter blokkie vir blokkie by. Meng goed ná elke byvoeging, tot al die botter bygevoeg is en die mengsel so glad is soos room. Voeg dit by die eiergeel-en-suikermengsel. Klits goed saam. Klits eierwitte styf en vou in by die sjokoladeeiermengsel. Skep mousse in afgekoelde randkoek en plaas in yskas vir 4 – 5 uur of selfs oornag sodat mousse kan stol. Skep styfgeklopte room bo-op net voor jy dit voorsit en sif ’n klein bietjie kakao bo-op.