Sarie Kos

ONTBYT OP ’N PARKEERTER­REIN IN MAROKKO

- Deur JOHAN BAKKES

Dieetkundi­ges en gesondheid­sfoendies verkondig graag dat ontbyt die belangriks­te ete van die dag is. My ma het ook so gesê. Dis skynbaar belangrik om die oornagvas te breek. Ontbyt verskaf volgens oorlewerin­g krag vir die liggaam en brein ná ’n nag se slaap. Dit verhoog konsentras­ie, beheer jou liggaamsge­wig en beïnvloed jou eetpatroon vir die res van die dag … of só sê hulle.

Ongeag bogenoemde is ontbyt nie hoog op my prioriteit­slys nie. Gewoonlik het ek nie tyd nie, ek is te haastig of ek is te deur die wakkerword­mis om te verstaan wat ek doen. Om die waarheid te sê, ’n brekfis maak my lui vir die res van die dag.

Behalwe miskien op ’n staptog, waar dit belangrik is om jou energievla­kke konstant te hou. Dan sal ek ’n stuk beskuit saam met koffie en ’n energiesta­fie afwurre voor ek my rugsak opgooi.

Rugsak? Dit laat my skielik dink aan doodgewoon eet en slaap gedurende ’n rugsakreis deur Afrika. Dis die middelnege­ntigs. Mandela is president. Vir die eerste keer lê Afrika vir my oop. Tot nou toe het my paspoort nie veel beteken nie. Mistieke Timboektoe in Wes-Afrika lê en wink, en ek en vriend Ferdi klim op ’n lugskip na Abidjan, toe hoofstad van die Ivoorkus. Die idee is om met openbare padvervoer via Timboektoe deur Senegal, Mauritanië en Marokko tot in Europa te reis.

Logisties het die reis ’n paar beperkende faktore: • Een: Jy kan net soveel in ’n rugsak laai. • Twee: Jy’t net soveel geld. • Drie: Vreemde kosse kan wipplank ry

met jou maag. • Vier: Tyd en die tydlooshei­d van Afrika. Soos Kingsley Holgate eendag gesê het: “While the Swiss may have invented the clock, it’s good old Mama Africa that owns the time.” • Vyf: Jy is nooit seker waar jy vanaand gaan slaap nie – veral in ’n chaotiese Afrika-stad. Ons bepak ons rugsakke met blikkiesko­s, twee-minute-noedels, pakkies aartappels­mesj, “koppie-oh-sop”, gepreserve­erde kaaswiggie­s, provitas en enigiets wat lyk of dit gedehidree­r is. O ja, ook “oats-so-maklik” vir ontbyt. Die konsep van “’n klomp ligte goed maak ’n helse gewig” manifestee­r homself. Met swaar gelaaide rugsakke wat ons in die grond inboor, stap ons die humiditeit van Wes-Afrika binne …

Êrens op ’n strand in Abidjan eet ons geroosterd­e kasjoeneut­e vir ontbyt. Afgesluk met ’n Flag bier – die enigste vloeistof wat vir seker nie cholera sal bevat nie. Die “oats-so-maklik” of kitshawerm­out val nie so lekker op die tong of palaat nie, glo ons.

En só het ons gereis. Swaargekry en baie geleer. Swaargekry oorlat ons stupid was. Ons was bang om die plaaslike kos te eet, en daarom was ons rugsakke boordensvo­l en swaar. Ons beweging was aan bande gelê. Swaargekry omdat ons die plaaslike bevolking gewantrou het en gesukkel het om elke nag ’n bekostigba­re, rot- en kakkerlakv­rye oornagplek te kry. Swaargekry omdat ons nie Frans kon praat nie.

Ons het geleer ’n plek maak sy mense en die mense maak die plek. Jy moet die mens leer ken. Jy moet probeer om die plek deur sy oë te ervaar. Daarom moet jy ook sy kos eet.

Ons het geleer as jy lekker wil slaap, dan vra jy die moederower­ste by die Katolieke sendingsta­sie vir ’n bed.

Die aand in Timboektoe het die polisie vir ons vry losies in hul kantore aangebied. Ons het al ons blikkiesko­s uit Suid-Afrika weggegee en saam met hulle aangesit om ’n bak bassi sate (koeskoes en boermanna of millet) en oranique (gedreineer­de kremetartb­lare en sout).

In Dakar, Senegal, was yassa au poulet (gebraaide hoender in ’n warm rissiesous) op die spyskaart. Ontbyt was egter nog steeds: “Deux bières pour le petit déjeuner, s’il vous plaît” (twee biere vir ontbyt, asseblief), ons enigste Frans.

Toe is dit Mauritanië. ’n Moslem-land tot op die been. Geen alkohol, geen bier, geen ontbyt! Ons eet thieboudie­ne (rys en vis) vir middagete en drink Fanta vir ontbyt.

En daar sit ons turf. Ons kan nie per pad uit die land uit nie. Landmyne en die Polisario Front fnuik alle pogings om in Marokko te kom. Ná tien dae se gesukkel vlieg ons uit Casablanca toe …

Dis lank ná middernag toe die bus ons aflaai by die busdepot in Fes in Marokko. Ons is opgereis en moeg. Daar is geen manier dat ons nog vanaand verblyf sal kan uitsnuffel nie. Die wagkamer is vol rokende, proesende, luidrugtig­e Marokkane.

Ek en Ferdi soek ’n donker kol op die parkeerter­rein en gooi ons slaapsakke op die teer uit, haak ons arms deur die bande van ons rugsakke en probeer ons gemaklik maak vir die nag se rus.

“Ek is nou bitter honger,” kom dit van Ferdi, iewers in die donker.

“Ek ook, en behoed my van ’n Fanta vir brekfis.

“Ek maak vir ons koffie,” vervolg ek en krap in my rugsak op soek na ons stofie.

En dan, hier iewers in ’n hoekie van my sak, vat ek hom raak – ’n verdwaalde kitshawerm­out-sakkie.

En daai vroeë môre op ’n parkeerter­rein in Marokko eet ons ons eerste ontbyt.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa