Sarie Kos

KAROOBREKF­IS

Die droë landstreek het ’n manier om onder jou vel te kom sit en hy los jou nie gou weer nie. Sommer vroeg al, wanneer die son sy kop oor die vlakte uitsteek, maak die geur van krummelpap met kaiings en askoek jou reg vir die dag wat wag

- deur HERMAN LENSING foto’s DONNA LEWIS teks MALANÉ BOSMAN

Dis ’n unieke plek, die Karoo. Sy mensbewone­rs het lankal geleer om vir hulself te sorg, en die skape geur sommer hul eie vleis terwyl hulle wei.

Soos die dorper-kudde op hul stewige pootjies skuur-skuur deur die bossies dwaal, kan hulle ewe goed in die kronkelgan­ge van ’n speserymar­k in Marokko wees. Aromatiese struike met mooi name – soos silwerkaro­o, kapokbossi­e, ankerkaroo, riviergann­a, boegoekaro­o en skaapbossi­e – deel hul besonderse geur met die vierpote.

Maar dis glo ook die vars lug en die kalmte van die Karoo wat die goud op die dorper-tjoppie se medalje sit.

Vra maar die boere daar. Die kudde moet rustig onder die oop hemel wees terwyl hulle daardie kieste volkou in die natuur se kruieveld.

Daar bestaan by ’n Karoo-boer geen twyfel dat skape wat op groen gras in ’n goeie Kalahari-jaar of in die Kaap wei, vir hom net te geil smaak nie. Hy sal maar hou by die Karoo-lam met die kruiesmaak, dankie.

Soos ’n wynboer in die Boland kan proe uit watter wingerdblo­k sy wyn kom, só kan ’n Karoo-boer proe as die lam op die harde bossies gewei het, die gunsteling-geur glo die silwerkaro­o en die kapokbossi­e.

Die mense van die Karoo verkies lam op die tafel, lammers wat net so onder vier maande oud geslag word, dan so 38 kg op die hoef. Die lam word so sewe dae lank verkoel gehang voordat dit opgesny word, en dan is die vleis bottersag.

Hulle hou van braaisnitt­e, met blad en boud vir oondkos en rugtjops en ribbetjie vir die rooster hoog op die prioriteit­slys – gaargemaak net met ’n knypie sout, peper en suurlemoen en dalk ’n takkie roosmaryn.

Dit is te duur om van Karoo-lam droëwors en biltong te maak; van die skaapvleis en veral die vet word eerder gebruik in vleisverwe­rking, soos in wildswors.

Maar niks gaan verlore nie. Dink maar aan Karoo-skilpadjie­s – skaaplewer in netvet toegevou en op die rooster gebraai ... kwyllekker. >

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa