Anél Potgieter
Sy blog, sy skryf en deesdae is sy ook te sien in VIA (kanaal 147) se bakprogram Bak of brou. Ons het met die bokstert-meisie gesels
1. Jou blog Life Is a Zoo Biscuit is ’n reuse-sukses. Waar kom die naam vandaan?
Ek was ongelooflik neerslagtig in 2012 nadat hulle my met die aartappeluitdaging uit die eerste seisoen van
MasterChef SA geskop het. Ek het toe my gunsteling-trooskos, daai kleurryke zoo-koekies, begin eet en kon nie ophou nie. ’n Paar weke (en baie koekies) later het ek wakker geword en besluit genoeg is genoeg, en ek het begin skryf oor kos ... Só het ek my blog lifeisazoobiscuit. com begin ... op 12 April 2012.
2. Waarom is bak steeds so ’n groot trend?
Ek dink dit het baie met internasionale televisie-programme te doen, maar wat my betref, is en sal bak altyd trendy wees. Vir elke spesiale geleentheid word daar ’n koek gebak en almal wil hê hul koek moet die mooiste en spoggerigste wees.
3. Wat is jou nommer-een-bakwenk?
Volg die resep 100% en weeg al jou bestanddele. Maatbekers se mate verskil te veel om dit te gebruik.
4. As jy gebak was, wat sou jy gewees het?
’n Lekker soet, suur, koketterige suurlemoen-meringue-tert.
5. Geen bakker mag ooit….
Sê ’n ander bakker se koek is lelik nie.
6. Wat hou die toekoms in vir Anél?
Ek fokus op die oomblik op kosstilering en skryf aan my eerste resepteboek.